Subscribe by Email

FW-stigting looi Zuma oor grondwet

Deur Dave Steward

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte is diep bekommerd oor die opmerkings wat President Zuma Dinsdag in die Parlement gemaak het oor die relatiewe magte van die uitvoerende gesag en die regbank met betrekking tot die formulering van beleid. Die President het volgens berig gesê dat hy graag “ons siening wil herbeklemtoon dat daar ‘n behoefte bestaan om te onderskei tussen die terreine van verantwoordelikheid van die regbank en die verkose vertakkinge van die staat, spesifiek met verwysing na beleidformulering.” Hy het bygevoeg dat volgens sy mening, “die uitvoerende gesag, as verkose amptenare, die alleen-oordeel het om oor staatsbeleid te besluit. Hy het gewaarsku teen die oortreding van een tak van die staat op die terrein van ‘n ander en het daarop aangedring dat “die uitvoerende gesag toegelaat moet word om sy administrasie en beleidmaking so vry as wat dit moontlik kan, uit te oefen.” Hy het bygevoeg dat “die magte wat aan die howe toegeken is, nie as ‘n hoër gesag beskou kan word as die magte wat toegeken is deur ‘n mandaat van die kiesers in ‘n volksverkiesing nie.”

President Zuma het argumente herhaal wat hy op 11 Julie gevoer het toe hy die mening uitgespreek het dat die regbank nie “wanneer wetgewing, of gedeeltes van wetgewing ter syde gestel word op die basis van onregmatigheid, dit as ‘n geleentheid sien om die beleid, soos bepaal deur die uitvoerende tak van die regering, te verander nie.” [Dit is belangrik om daarop te let dat hy nie die magte van die howe om “onwettige” wetgewing ter syde te stel, bevraagteken het nie – maar slegs hul rol om beleid te bepaal.]

Die President het heel waarskynlik gereageer op ‘n aantal hoë-profiel gedinge wat die regering onlangs in die howe verloor het.

• In Richter vs die Minister van Binnelandse Sake, met betrekking tot die reg van Suid-Afrikaners om in die buiteland te stem in die 2009-verkiesing, het die Hooggeregshof bepaal dat sekere elemente van die Verkiesing Wet ongrondwetlik was. Die Hof het die minister beveel om die situasie reg te stel deur “die reg op spesiale stemme uit te brei na alle kategorieë van burgers wat afwesig uit die Republiek van Suid-Afrika is.” Die Hof het die regering ook beveel “om te verseker dat alle kategorieë burgers wat afwesig uit Suid-Afrika is en wat as kiesers geregistreer is, geregtig is volgens die bepalings van die Verkiesing Wet om te stem in toekomstige algemene verkiesings.”
• In 2010, in Lourens vs die President, met verwysing na die versuim van die regering om wetgewing te aanvaar om uitvoering te gee aan die bepalings oor taal in Art.6 van die Grondwet, het die Pretoria Hooggeregshof bevind dat die regering versuim het om die gebruik van amptelike tale te moniteer deur die instelling van wetlike an ander maatstawwe. Die Hof het die verantwoordelike minister beveel om die nodige wetgewing binne twee jaar na die uitspraak in te stel.
• In Glenister vs die President, in Maart 2011, het die Grondwetlike Hof bevind dat die wetgewing waarvolgens die regering die Direktoraat van Ondersoek na Prioriteit Misdaad (die “Hawks”) ingestel het, ongrondwetlik was aangesien dit versuim het om genoegsame onafhanklikheid vir die eenheid te verseker. Die Hof het die Parlement 18 maande gegee om die gebrek reg te stel.
• Op 29 Julie 2011 het die Grondwetlike Hof, in ‘n regsgeding wat deur ‘n aantal burgerlike gemeenskaporganisasies teen die President aanhangig gemaak is, President Zuma se wens om die termyn van Hoofregter Sandile Ngcobo gekortwiek.

Een van die mees betekenisvolle uitsprake wat die formulering en implementering van regersingsbeleid beïnvloed, was die Grootboom-saak in 2001. In ‘n mylpaal uitspraak, het die Grondwetlike Hof bepaal dat die Staat verplig was “om binne sy beskikbare vermoëns ‘n omvattende en gekoördineerde program saam te stel en toenemend te implementeer om die reg tot toegang tot geskikte behuising te realiseer.” Die regering se program sou moes “uitkoms gee aan mense wat geen toegang tot grond het, geen dak oor hul koppe het en wat in ondraaglike of krisis toestande leef.” Die Hof het verder bevind dat die Staat se behuisingprogram in die gebied van die Kaapse Metropolitaanse Raad nie die verlangde standaarde bereik nie.

Die Regering glo, vermoedelik, dat al hierdie uitsprake, tot ‘n mindere of meerdere mate, op sy terrein om beleid te bepaal oortree. Die President is heeltemaal korrek dat, volgens die bepalings van Art.85[2][c] hy, tesame met die ander lede van die Kabinet, die verantwoordelikheid het om uitvoerende gesag te beoefen, insluitend die ontwikkeling en implementering van nasionale beleid.

Die President is ook korrek dat die Howe geen rol het om beleid te skep en voor te skryf nie. Hulle het egter die reg en is verplig om enige wetgewing of uitvoerende gesagsoptrede ter syde te stel wat nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie. Wanneer dit gedoen word, stel hulle nie hul mening bo dié van die kieseren nie, maar meet hulle die uitdrukking van die meerderheid in die Parlement tenoor die Grondwet. Die mandaat wat deur die regering ontvang is vanaf die meerderheid van kiesers is duidelik aan bande gelê deur die beperkings wat op hom geplaas word deur die Grondwet. Die meerderheid, en die regering van die dag wat dit verteenwoordig, is gebind deur Art.2 van die Grondwet wat bepaal dat “wetgewing of optrede wat nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie, is ongeldig en die verpligtinge wat deur die Grondwet opgelê word, moet nagekom word.”

Die President is egter heeltemaal verkeerd as hy verklaar dat “die magte wat aan die howe toegeken is, nie as ‘n hoër gesag beskou kan word as die magte wat toegeken is deur ‘n mandaat van die kiesers in ‘n volksverkiesing nie.” Die howe het ongetwyfeld grondwetlike magte om die wil van die meerderheid van die hand te wys – soos dit deur die regering van die dag geïnterpreteer word – as dit nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie. So ook is die klem op nakoming van grondwetlike bepalings deur minderhede – of individue – nie ‘n poging om “die land saam te regeer deur middel van die howe” nie. Die vermoë van burgers om hul grondwetlike regte op te eis, en die magte van die howe om die Grondwet af te dwing, is onmisbaar vir die handhawing van regsoewereiniteit en die behoud van grondwetlike demokrasie.

Die rede waarom die regering soveel onlangse hofgedinge verloor het is nie die skuld van sy teenstaanders of die howe nie – dit is eerder ‘n direkte gevolg van sy eie gebrek om volgens die Grondwet op te tree. Die regering se regsadviseurs verskaf óf ontoereikende advies oor die grondwetlikheid van beleidsinisiatiewe, óf die regering volg nie hul advies nie.