Subscribe by Email

FW-Stigting looi Duarte

Die reaksie op Regter Lamont se uitspraak op 12 September rakende die ‘skiet die boer’-lied plaas die kollig op die diepe verdeeldheid wat steeds tussen swart en wit Suid-Afrikaners voorkom, aldus ‘n verklaring deur die FW de Klerkstigting. Die meeste wit Suid-Afrikaners beskou die uitspraak as `n bevestiging van hul mening dat die lied wel neerkom op haatspraak. Swart Suid-Afrikaners aan die ander kant, het die uitspraak uitdruklik verwerp as `n sluwe aanval op `n kernelement van hul struggle-herkoms. Alhoewel die reaksie van die ANC, die ANC-jeugliga en ander faksies voorspelbaar was, behoort die opmerkings wat ANC NUK-lid Jessie Duarte verlede week gemaak het gedurende `n onderhoud met E-TV, onder die grondwetlike soeklig geplaas te word.
In die onderhoud het sy aan E-TV Nuus gesê dat “die ANC bekommerd is oor die misbruik van die Gelykheidshof” en het sy gevra of “`n klagte deur `n belanghebbende groep so klein soos AfriForum” ernstig opgeneem behoort te word. Sy het ook gevra hoe Afrikaners sal voel as “ons die afskuwelike Voortrekkermonument sou kritiseer” wat “baie neerhalend is teenoor swart Suid-Afrikaners”. Sy het ook gesê dat “die beslissing onmoontlik sal wees om te implementeer, dat AfriForum nasiebou afbreek en dat die lied `n plek het in die geskiedenis en as sulks gerespekteer moet word”.
Inderwaarheid het AfriForum 30 000 opbetaalde lede – wat hulle moontlik een van die NRO’s in die land maak wat die beste ondersteun word. Dit is ook een van die bekendste en aktiefste organisasies wat die belange van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners bevorder. Me Duarte het sekerlik nie bedoel dat jy as `n Suid-Afrikaner slegs belangrik is as jy lid is van die meerderheid of van `n dominante politieke party nie? Duidelik stem Regter Lamont nie saam met haar nie. Hy wys in sy uitspraak daarop dat “minderheidsgroepe veral kwesbaar is. Dit is juis hierdie individue wie lede is van sulke minderhede wat kwesbaar is vir diskriminerende behandeling en wie na die Handves van Regte moet kyk vir beskerming. Die hof het`n duidelike plig om mense wat op só `n wyse geaffekteer is, te help”.
Selfs indien AfriForum een van die kleinste organisasies in Suid-Afrika was, selfs indien dit geen kulturele affiliasie gehad het en slegs `n enkele individu verteenwoordig het, sou dit steeds `n ondubbelsinnige reg gehad het op toegang tot die howe, in terme van artikel 34 van die Grondwet. Die gedagte dat AfriForum die Gelykheidshof “misbruik” het deur die saak voor dit aanhangig te maak, is net so vals. Die Gelykheidshof is gestig om juis sulke kwessies te hanteer. In terme van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Diskriminasie, is Gelykheidshowe ingestel juis om “ondersoek in te stel op die voorgeskrewe wyse en om vas te stel of onregverdige diskriminasie, haatspraak of teistering, wat ook al die geval mag wees, wel plaasgevind het soos beweer is.”
Die ANC ondersteun tereg die aansoeke wat gerig word aan die howe wanneer haatspraak teen swart Suid-Afrikaners gemaak word. Op watter gronde staan die ANC dan die regte van ander groepe teen wat dieselfde wil doen wanneer hulle voel daar word inbreuk gemaak op hulle regte? Die Hof se bevinding het bevestig dat AfriForum geregverdig was om die “Skiet die boer”-lied ernstig op te neem en om die Hof daaroor te nader.
Daar is geen probleem met me Duarte se aandrang dat struggle-liedere `n plek het in die ANC se geskiedenis nie. Dit is egter een ding om hierdie nalatenskap te behou in die organisasie se argiewe: dit is heeltemal `n ander ding om liedere te sing by emosioneel gelaaide openbare byeenkomste wat mense so aan moedig: “Skiet, skiet, skiet hulle met `n geweer! Ma laat ek die boer skiet. Skiet, skiet, skiet hulle met `n geweer! Hierdie honde verkrag ons!”
Daar kan geen vergelyking getref word tussen dít en die Voortrekkermonument nie, wat Duarte beskryf as ‘afskuwelik en neerhalend teenoor swart mense’. Die Voortrekkermonument sluit inderdaad tonele in van gevegte met swart Suid-Afrikaners uit die Voortrekkers se stormagtige verlede. Niemand by die Monument sal egter nou daarvan droom om liedere te sing waarin hulle aangemoedig word om swart mense dood te maak of om hulle leed aan te doen op enige wyse nie. Inteendeel, die Erfenisstigting, wat vanuit die Monument bestuur word, het die grootste respek vir alle kulture in ons land en is toegewyd tot versoening en die bevordering van positiewe verhoudinge met alle gemeenskappe. Ons verstaan dat die Uitvoerende Bestuurder van die Voortrekkermonument me Duarte nou uitgenooi het in ‘n gees van versoening om die Monument te besoek.
Dit is ook moeilik om in te sien hoe Afriforum se aansoek aan die Gelykheidshof enigsins gesien kan word as `n poging om afbreek te doen aan nasiebou – soos Duarte beweer. `n Organisasie ondermyn nie nasiebou as dit gebruik maak van die howe om grondwetlike regte te beskerm nie. Organisasies ondermyn nasiebou wanneer hulle die Grondwet se voorskrif ignoreer om “die verdeeldheid van die verlede te herstel” en wanneer hulle hulself skuldig maak aan taalgebruik teen enige persoon wat redelikerwys ingevolge die Gelykheidswet gesien kan word as `n “duidelike bedoeling om kwetsend of skadelik te wees, geweld aan te hits of wat haat kan bevorder of propagandeer nie”. Die uitspraak verklaar dat die lied op haatspraak neerkom en haatspraak in enige vorm in `n post-apartheid Suid-Afrika, veral gebaseer op ras, het `n verdelende en eroderende impak op konsiliasie en nasiebou.
Laastens het me Duarte gesê dat die “beslissing onmoontlik sal wees om te implementeer”. Alhoewel die ANC die volste reg het om te appelleer teen die uitspraak, moet hy bewus wees daarvan dat `n bevel of beslissing wat deur `n hof uitgevaardig word, alle persone bind op wie, en staatsorgane waarop, dit van toepassing is. In sy oorspronklike reaksie op die uitspraak het die ANC gesê dat hy die beslissing van die hof sal respekteer terwyl hy opsies oor hoe om die uitspraak te hanteer, ondersoek. Na sy NUK-vergadering op 17 September het die ANC bevestig dat hy teen die haatspraak-uitspraak sal appelleer. Dit het ook gesê dat “die diskoers aangemoedig moet word in die samelewing om te verseker dat ons werk aan `n ooreenkoms oor gemeenskaplike herkoms.” Een van AfriForum en die TLU se belangrikste versoeke in die haatspraak-saak was die inisiasie van so `n diskoers. Ons stem saam. As regter Lamont se uitspraak help om `n ernstige gesprekvoering oor hierdie kwessies te inisieer, mag dit ons help om die groeiende verdeeldheid tussen ons gemeenskappe te oorbrug.