Subscribe by Email

FW-stigting looi ANC

Die FW de Klerk Stigting het met belangstelling die nuutste menings van Blade Nzimande gelees oor die beginsel dat “die Mense Sal Regeer: Die eerste en vernaamste grondslag van ons demokrasie.”

Mnr Nzimande is baie krities oor die media, opposisiepartye, die howe en nie-regeringsorganisasies “soos die FW de Klerk Stigting” wat volgens hom poog om die reg van die meerderheid om te regeer, ondermyn. Ter ondersteuning van sy menings in hierdie verband haal hy die verklaring in die Freedom Charter aan wat sê “die mense sal regeer!”. Hy sê dat die Freedom Charter die “grondliggende basis van ons demokrasie uitmaak”.

Maar, dit is natuurlik nie so nie. Die Freedom Charter is die mobilisasiedokument van die ANC, en het as sulks, ‘n belangrike en algemeen gerespekteerde rol in ons onlangse geskiedenis gespeel. Die grondslag van ons demokrasie is egter ons Grondwet wat onderhandel en aanvaar is deur partye wat die oorgrote meerderheid van alle Suid-Afrikaners en al ons gemeenskappe verteenwoordig het. Dit behoort aan ons almal.

Ons Grondwet maak ten volle voorsiening vir regering deur die verkose verteenwoordigers van die meerderheid van ons kiesers. Dit verskaf die regering wat hulle verkies het met die magte om die mandaat uit te voer wat dit van die kiesers ontvang het. Die mense regeer dus inderdaad. Omdat ons nuwe samelewing egter op die oppergesag van die Grondwet en regsoewereiniteit gegrond is, vereis die Grondwet dat regeringsoptrede en alle wetgewing in ooreenstemming met die Grondwet en die Handves van Menseregte moet wees. Mnr Nzimande kan nie hierteen gekant wees nie aangesien hy as Minister ‘n eed gesweer het om die Grondwet te handhaaf, wat billike beperkinge plaas op die vermoë van die meerderheid om te maak soos hulle wil.

Op hierdie manier beskerm die Grondwet die regte van die individu en minderhede, hoe ookal omskryf. Mnr Nzimande moet verstaan dat in multikulturele samelewings soos ons eie, sulke waarborge veral belangrik is om te verseker dat die redelike regte van minderhede, of dit polities, ekonomies, kultureel, taal of geslag van aard is, nie geskend kan word deur ‘n onbeheersde meerderheid nie. Internasionale ooreenkomste waaraan Suid-Afrika deel het vereis ook agting vir die billike beskerming van kulturele-, taal-, en opvoedingsregte van minderhede.

Sulke beskerming is duidelik noodsaaklik wanneer ‘n senior minister vry voel om die rassisties vyandige sentiment uit te druk dat “die oorgrote meerderheid van die blanke minderheid dodelik gekant was teen meerderheidsregering.” Inderwaarheid het bykans 70% van blankes, op mnr De Klerk se aanbeveling, in die 1992 referendum ten gunste van die voortsetting van onderhandelinge gestem wat almal bewus was, uiteindelik sou uitloop op meerderheidsregering.

Mnr Nzimande se begrip van die rol van die howe in ons demokrasie blyk minder ingelig te wees. In ‘n onlangse uitspraak van die Appélhof in Demokratiese Alliansie v President van Suid-Afrika en andere 2012 (1) SA 417 (SCA), het die hof bepaal dat: “Artikel 1 (c) van die Grondwet proklameer die oppergesag van die Grondwet en die gepaardgaande beginsel van regsoewereiniteit. In die navolging van die grondwetlike verpligting om die uitoefening van openbare gesag teen die Grondwet te toets, beskerm die howe die werklike kern van ‘n grondwetlike demokrasie”. Eenvoudig gestel, ons howe het ‘n noodsaaklike rol om te speel deur die wetgewer en uitvoerende gesag getrou aan die Grondwet te hou.

Die Grondwet kan natuurlik gewysig word, onderworpe aan die grondwetlikheid van sulke wysigings. In hierdie verband het ons howe ‘n belangrike rol om te speel deur sulke wysigings, wat deur die wetgewer ingestel word, te beoordeel sodat openbare mag beheer kan word op grond van die Grondwet en regsoewereiniteit. Gewone wysigings kan aangebring word met ‘n twee-derde meerderheid maar die grondliggende waardes kan slegs gewysig word met ‘n 75% meerderheid. Alle grondwette moet met tyd ontwikkel, maar dit word algemeen aanvaar dat sulke wysigings slegs oorweeg moet word in uitsonderlike omstandighede en na die breedvoerigste moontlike raadpleging.

Ons glo daar is een artikel in die Grondwet wat verander behoort te word as ons werklik wil hê dat die mense moet regeer. Miskien wil mnr Nzimande by ons aansluit in ‘n veldtog om dit te doen? Dit is artikel 47 (3) (c) wat voorsiening maak dat “‘n persoon lidmaatskap van die Nasionale Vergadering verloor as hy nie meer ‘n lid van die party is wat hom genomineer het nie..” Met ander woorde, die mense regeer nie deur hul verteenwoordigers nie. Die partybase regeer. Daar is bykans geen aanspreeklikheid tussen verkiesings deur die lede van die Parlement aan hulle kiesers nie. Hoe kan die kiesers dan regeer?

Mnr Nzimande druk sy verbasing uit oor wat hy bestempel “die groot bohaai, deur die media en binne die geledere van die opposisie vervaardig, dat daar ‘n bedreiging vir ons Grondwet bestaan.” Dit was egter die ANC self, en nie hierdie “anti-meerderheid formasies” nie, wat net verlede maand verklaar het dat die grondwetlike ooreenkomste in “ons eerste oorgang” hulsef as “onvoldoende en onvanpas vir ons maatskaplike en ekonomiese transformasiefase bewys het”. Dit was die ANC se eie grondwetlike deskundige, adv Ngoako Ramathlodi, wat verlede September ‘n omvattende aanval teen die Grondwet van stapel gestuur het.

Kom ons maak dit heeltemaal duidelik: Ons aanvaar ten volle die reg van die verkose verteenwoordigers van die meerderheid om binne die raamwerk van die Grondwet te regeer.

Terwyl ons egter hierdie krities belangrike reg oorweeg, wil ons graag hê dat mnr Nzimande ons moet inlig hoe dit kon gebeur dat ‘n President afgedank is en nasionale beleid verander is na die Polokwane konferensie in 2007, met hoegenaamd geen mandaat van die kiesers nie?

Ons wil ook graag weet hoe dit kan gebeur dat sy party ongeveer 80 lede in die Parlement het, wat nie onder die vaandel van hul eie party verkies is nie, maar tog hul eerste lojaliteit aan daardie party gee? As hy so entoesiasties is oor die reg van werklike verteenwoordigers van die meerderheid om te regeer, waarom staan die SAKP dan nie as ‘n afsonderlike party in verkiesings nie? Hoe kan mnr Nzimande hom verder versoen met die mening van die SAKP en Cosatu dat “die diktatorskap van die proletariaat die enigste waarborg is dat daar ‘n werklike oorgang van die Nasionale Demokratiese Revolusie na sosialisme sal wees.” Hoe sal die wense van die meerderheid bepaal kan word onder ‘n kommunistiese diktatorskap, en hoe sal die mense dan in staat wees om te regeer?