Subscribe by Email

FW Stigting kou prof Pierre de Vos

In sy artikel van 15 Augustus skryf Prof Pierre de Vos standpunte aan die Stigting toe wat ons nié ingeneem nie, en wat nie afgelei kan word uit ons reaksie op Aartsbiskop Tutu se onlangse beroep op wit Suid-Afrikaners om welvaartsbelasting ter vergoeding te betaal nie. Ons is nie gekant teen die inisiatief omdat ons die “ekonomiese belange van wit mense” wil beskerm soos De Vos beweer nie, maar omdat ons glo dat só `n rasgebaseerde vergoedingswyse die beginsel van nie-rassigheid en grondliggende regte tot gelykheid en menswaardigheid sal ondermyn.

De Vos spoeg vuur oor die Stigting se mening dat een van die beginsels waarop ons samelewing gebaseer is, nie-rassigheid is, en dat “ons nie meer wetgewing moet aanneem wat gemik is op een of ander rassegroep nie”. Ons baseer ons mening op die sigwaarde van die Grondwet se grondliggende beginsels; op ons verbintenis met die proses wat gelei het tot die aanvaarding van ons nie-rassige Grondwet; en op artikel 36 wat as volg bepaal: “[d]ie regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens `n algemeen geldende regsvoorskrif (dit wil sê dis van toepassing op alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras) beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in `n oop en demokratiese samelewing gebaseer om menswaardigheid, gelykheid en vryheid …”

De Vos, aan die ander kant, baseer sy ondersteuning vir die hernude rasseklassifisering van ons samelewing op die Grondwetlike Hof se uitspraak in 2004 in die saak van die Minister van Finansies en Ander v Van Heerden, wat gehandel het oor die pensioenregte van pre-1994 parlementariërs.

Die uitspraak, geskryf deur adjunkhoofregter Moseneke, kom inderdaad neer op `n gebrek aan enige besorgdheid vir die grondwetlike regte van die wit mense. Hy gaan deur `n rits regterlike verdraaiings om wit burgers se regte in artikel 9(3) op beskerming teen onregverdige diskriminasie, uit te sluit. Hy kom op met `n merkwaardige idee dat alle en enige diskriminasie teen wit mense in terme van artikel 9(2) regverdig is mits dit nie so verregaande is dat dit die langtermyn doelwit van gelykheid sal bedreig nie. Moseneke stel drie maatstawwe daar om vas te stel of maatreëls van regstellende aksie ingestel mag word in terme van artikel 9(2): teiken die maatreël persone of kategorieë persone wat benadeel is deur onregverdige diskriminasie? Is die maatreël ontwerp om sulke persone of kategorieë persone te bevorder of te benadeel? En bevorder die maatreël die behaling van gelykheid?

In terme van hierdie maatstawwe is die staat teoreties in staat om wit mense van hul eiendom en inkomste te ontneem en om inbreuk te maak op hul regte – moontlik tot op `n punt waar `n wye vlak van gelykheid gevestig word in alle ander bevolkingsgroepe.

Dit is egter een ding om Moseneke se redenasie te gebruik om – op `n nie-rassige grondslag – die relatief onbeduidende kwessie van die pensioenregte aan te spreek. Dit is heeltemal `n ander ding om dit te gebruik om miljoene Suid-Afrikaanse burgers van hul grondwetlike beskerming teen onregverdige diskriminasie te ontneem, alleenlik gebaseer op grond van hul ras. Dit moet voor die hand liggend wees dat pogings om onregverdige diskriminasie teen enige iemand te regverdig, afbreuk doen aan hul reg op gelykheid voor die reg in artikel 9(1) asook aan die volle en gelyke genieting van alle regte – insluitend hul reg op menswaardigheid – waarvolgens gelykheid gedefinieer is in artikel 9(2). Sulke optrede sal dus Moseneke se eie interne toets vir die bevordering van gelykheid dop – aangesien dit logies is dat gelykheid vir sommiges nie behaal kan word ten koste van die reg op gelykheid van ander nie.

De Vos behoort te weet dat die regte op menswaardigheid en gelykheid in terme van onregverdige diskriminasie so fundamenteel is dat dit geag word as nie-aantasbare regte, selfs in noodtoestande.

Alhoewel Regter Sachs Moseneke se uitspraak ondersteun het, het hy klaarblyklik bedenkinge gehad oor sy verwerping van die grondwetlike regte van wit mense op beskerming teen onregverdige diskriminasie binne die konteks van artikel 9(2). In sy minderheidsuitspraak het hy daarop gelet dat die Hof se toewyding tot die waardes van nie-rassigheid duidelik “nie toelaat dat artikel 9(2) geïnterpreteer word op `n manier wat sê: gegewe dat die maatreël wat die bevoordeelde persone (wit mense, mans, heteroseksuele mense en Engelssprekendes) raak, ontwerp is om die benadeeldes te bevorder, kan die eersgenoemdes behandel word op `n krenkende of onderdrukkende wyse wat hul menswaardigheid skend en wat aan hulle en die wêreld sê dat hulle van mindere waarde is as die benadeeldes nie.”

Dit is presies wat Aartsbiskop Tutu se voorgestelde rasgebaseerde welvaartbelasting sal doen. Die bedrag van só `n belasting is irrelevant. Die groot probleem is dat dit burgers sal stigmatiseer op grond van hul ras. Deur dit te doen sal dit hul menswaardigheid skend en sal dit aan die wêreld sê dat “hulle van mindere waarde is as die benadeeldes”. Dit is ook moeilik om in te sien hoe só `n belasting ingestel kan word sonder dat een of ander vorm van rasseklassifisering toegepas word. Dit sal duidelik `n ernstige hou toedien aan die beginsels van nie-rassigheid en gelykheid waarop ons samelewing gevestig is.

Daar moet geen interne konflik wees tussen die grondliggende beginsels van menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede nie. Ons kan nie die gelykheid van sommiges bevorder deur ander van hul menswaardigheid, gelykheid en regte te ontneem nie.

Die Stigting het nog altyd artikel 9(2) ondersteun, asook die noodsaaklikheid van wetgewing en ander maatreëls om die behaling van gelykheid te bevorder. Dit behoort nou egter heel duidelik te wees dat die maatreëls van regstellende aksie en breë-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging wat deur die staat aangeneem is, daarin misluk het hom gelykheid regdeur die samelewing te bevorder. Dit het 10% – 15% van die swart bevolking bevoordeel, maar het niks gedoen om die gelykheid van die armste 60% van die bevolking te bevorder nie. Ná 17 jaar is ons steeds so `n ongelyke samelewing as wat ons was in 1994. Die probleem is nie artikel 9(2) nie, maar die maatreëls wat deur die staat gebruik is om gelykheid te bevorder. Dit regering moes eerder sy pogings aangewend het om alle Suid-Afrikaners te bemagtig deur middel van ordentlike onderwys; effektiewe dienslewering en werkskepping.

Alle Suid-Afrikaners – swart en wit – moet `n inklusiewe nasionale poging ondersteun om hierdie doelwitte te bereik. Só `n benadering tot die behaling van gelykheid sal `n baie beter kans staan om suksesvol te wees as die rasgebaseerde, verdelende, onregverdige en teruggaande benadering wat De Vos klaarblyklik verkies.