Subscribe by Email

FW-stigting kou Blade

Die FW de Klerk Stigting het kennis geneem van minister Blade Nzimande se onlangse opmerkings rakende die Stigting en ander organisasies wat ten doel het om die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners te onderhou.

Die minister verwys na ons as `n “liberaal konserwatiewe” organisasie. Hy beskou klaarblyklik beide liberalisme en konserwatiwiteit as negatiewe terme, maar hy is heeltemal reg. Ons is `n liberale organisasie in die sin dat ons op ondubbelsinnige wyse al die individuele regte en waardes ondersteun wat in die Grondwet uiteengesit is. Ons glo onbeskaamd in individuele vryheid; in vrye markte; die vryheid van uitdrukking en in `n vrye en onafhanklike regbank.

Ons ondersteun ook gemeenskaplike regte wat hul oorsprong het in al die ryk tradisies en kulture van ons diverse samelewing. Daarbenewens verkies ons pragmatiese benaderings wat gebaseer is op die ervaring en geakkumuleerde wysheid van ons en ander samelewings, eerder as die ideologiese benaderings van ‘menslike ingenieurswese’ wat deur ander aangehang word. In hierdie verband is ons ook `n konserwatiewe organisasie.

Die minister verwys ook na ons as `n “slegs wit”-organisasie. Dit is nie waar nie. Ons raad sluit gerespekteerde lede in uit al ons gemeenskappe. Ons het `n heeltemal nie-rassige benadering tot die aanstelling van personeellede en vereis slegs dat hulle almal die Grondwet ondersteun. Alhoewel ons dit in swak smaak vind om ons werknemers in terme van ras te klassifiseer nie, het ons swart en bruin personeellede in diens gehad en `n meerderheid van die interne by ons was was van swart of Asiatiese oorspring. Een van ons senior swart werknemers het ons verlaat om meer tyd te spandeer met haar familie, en `n ander het ons verlaat toe sy `n pos aanvaar het as navorser vir `n regter van die Grondwetlike Hof. Ons kon uitstekende swart kandidate in belangrike poste aangestel het, maar ons het ongelukkig nie die finansiële hulpbronne gehad om hulle die markverwante salarisse te betaal waarvoor hulle gevra het nie. Ek sal versigtig wees met hierdie uitspraak aangesien dit geen aanduiding gee van ons gelykwaardige ondersteuning van die transformatiewe imperatief wat die Grondwet onderskryf, naamlik om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. In daardie konteks sal dit beteken dat indien ons twee gelyke applikante gehad het, wat bereid was om dieselfde terme te aanvaar, sou ons verplig wees om die swart persoon in die pos aan te wys.

Ons doelwitte is heeltemal nie-rassig. Ons is diep bekommerd oor die beskerming en bevordering van die regte van alle Suid-Afrikaners. Ons het onlangs regstelling versoek en verkry van die Menseregtekommissie vir `n swart Suid-Afrikaners wie se regte deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens geskend is. Ons is ook tans besig om `n groep van hoofsaaklik bruin Suid-Afrikaners by te staan, wie se regte ernstig ondermyn word deur die regering. Ons het die Nyathi-saak as amicus curiae betree om te verseker dat die staat na wense reageer op hofbevele wat hoofsaaklik verband hou met betalings deur die regering aan swart burgers. Ons het ook die regte van San- en Koi-gemeenskappe ondersteun en het hulle adviseur.

Die meeste van ons aktiwiteite is egter gesentreer rondom kwessies wat die regte van alle Suid-Afrikaners affekteer. Ons ondersteun die onafhanklikheid van die regbank en die integriteit van die proses waarvolgens regters aangestel word. Dit is om hierdie rede dat ons tans betrokke is as amicus curiae in die saak van die Kaapse Balieraad v die Regterlike Dienskommissie. Ons het pogings om die onafhanklikheid van die nasionale vervolgingsgesag te ondermyn en om die Skerpioene te ontbind, sterk teengestaan. Ons het ook die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting teengestaan omdat ons glo dat dit steeds `n ernstige bedreiging is vir die vryheid van uitdrukking en die reg op toegang tot regeringsinligting. Ons het die Onteieningswetsontwerp teengestaan in 2008, nie omdat ons teen onteiening in beginsel gekant is nie, maar omdat die Wetsontwerp poog om die howe se rol ten opsigte van regverdige vergoeding uit te sluit.

Met baie van hierdie aktiwiteite het ons onsself in opposisie met die regering van die dag bevind. Ons is egter nie met enige politieke party geaffilieer nie en sal partye en organisasies kritiseer of ondersteun volgens die vlak waartoe hul beleide en optrede in ooreenstemming is met die Grondwet. In ons openbare kommunikasie gaan ons uit ons pad uit om pluimpies uit te deel aan die regering vir die vele positiewe en konstruktiewe inisiatiewe wat dit geneem het – soos wat ons gedoen het tydens ons konferensie hierdie jaar oor “Dit wat Ons Verenig”. Ons sal egter nie huiwer om die kollig te plaas op enige optrede of beleid wat ons glo in teenstelling is met die Grondwet nie.

As `n burgerlike organisasie in `n vrye en demokratiese samelewing het ons die volste reg om betrokke te raak by kwessies van openbare belang. Om die waarheid te sê, ons glo dat ons `n plig het om dit te doen. Toe hy President was het FW de Klerk `n beroep gedoen op sy kiesafdeling om die onderhandelingsproses te ondersteun en om hul vertroue te plaas in `n beregbare, nie-rassige Grondwet wat regverdig is teenoor alle Suid-Afrikaners. Alhoewel hy uitgetree het uit die aktiewe politiek, glo mnr De Klerk dat hy `n voortgesette plig het om alles te doen wat hy kan om daardie Grondwet te onderhou, nie net vir sy ondersteuners nie, maar vir alle Suid-Afrikaners.