Subscribe by Email

FW de Klerkstigting oor jeugdag

Jeugdag skep die geleentheid vir ons om die posisie van ons jongmense en die uitdagings wat hulle in die gesig staar, in oënskou te neem. Volgens enige maatstaf is die benarde posisie van miljoene van ons kinders onaanvaarbaar.

Slegs 28.5% van swart kinders – en 50% van bruin kinders – het twee ouers in hul huishoudings.
Die onderwysstelsel het hele generasies van ons jeug gefaal. Geletterdheids- en gesyferdheidsvlakke vergelyk swak met dié van selfs die minste ontwikkelde Afrika-lande. 65% kinders verlaat die onderwysstelsel sonder matriek. Meeste van diegene wat matriek slaag ontvang `n kwalifikasie wat so afgewater en degradeer is dat dit hulle eenvoudig net nie voorberei op verdere onderrig of die werksmark nie.
Kindermishandeling kom algemeen voor. Miljoene kinders word groot in omgewings waar geweld, bendes, dwelms en misdadigers alledaags is – in hul skole, in hul strate en in hul gemeenskappe.
Duisende kinders is ouerloos en moet na hul broers en susters omsien – of op straat slaap.
Werkloosheid onder die jeug het die norm geraak in baie gemeenskappe. Miljoene jongmense is gedoem tot lewens van onaktiwiteit, nutteloosheid en toenemende frustrasie en woede. Hulle is `n ontvanklike gehoor vir vurige opruiers.
Almal – insluitend die regering – erken hierdie probleme. Almal sê dat die situasie onaanvaarbaar is. Konferensies word gehou en werkswinkels word gereël.Deskundiges praat op TV en op die radio. Kommissies word ingestel om die situasie te ondersoek en om oplossings daarvoor te vind. Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap hou `n R100 miljoen ‘anti-imperialistiese’ fuifparty. Maar dit lyk of min tot niks gebeur nie.

Niks sal gebeur tot die gemeenskappe wat die ergste geaffekteer is, begin om die probleem self aan te spreek nie:

Hulle moet seker maak dat ons mans hulle verantwoordelikhede as vaders aanvaar en om op te hou om die sorg en opvoeding van hul kinders alleenlik aan die moeders, wat lank reeds sukkel en oorbelaai is met verpligtinge, oor te laat.
Hulle moet help om toe te sien dat jong vrouens nie babas kry as hulle nie aan hulle die sorg en liefde kan gee wat alle kinders nodig het nie.
Gemeenskappe moet beheer van hul skole terugvat. Hulle moet skoolhoofde tot verantwoording roep. Hulle moet toesien dat onderwysers op hul poste is en dat kinders in die klaskamers is. Hulle moet vakbonde verjaag wat lui onderwysers wil beskerm en wat meer besorg is oor onderwyspakkette as oor die opvoeding van die kinders. Hulle moet toesien dat die skole netjies is, dat toilette werk en dat die heinings reggemaak word. Hulle moet ook seker maak dat geen wapens in skole ingebring word nie en dat geweld en bendes verbied word.
Gemeenskappe moet nouer saam werk met die polisie om misdadigers en bendes uit hul buurte te verdryf.
Ons almal moet daarop aandring dat geen kind gaan slaap sonder dat hy of sy na omgesien is nie en veral dat geen kind op straat hoef te slaap nie.
Ons moet daarop aandring dat die regering sou gou as moontlik die tipe tweevlak-indiensnemingsbedeling aanneem wat in 2005 deur President Mbeki voorgestel is. Dit sal dit baie makliker maak vir besighede om skoolverlaters en mense wat vir `n aantal jare werkloos was, in diens te neem – terwyl dit terselfdertyd die regte van gevestigde vakbondwerkers beskerm. Dít sal baie meer doen om werk te skep as al die duur programme wat tot dusver aangekondig is.
Moenie verwag dat die regering die antwoorde gaan gee nie. Hulle het `n belangrike rol om te speel – maar aan die einde van die dag, in ons demokrasie, is hulle daar om ons te dien. Die toekoms van ons kinders – en van ons land – is in die hande van ons gemeenskappe.