Subscribe by Email

FW betig Arch

Die FW de Klerk Stigting het kennis geneem van die kommentaar wat Aartsbiskop Tutu onlangs tydens `n boekbekendstelling in Stellenbosch gelewer het.
Die Aartsbiskop het baie van die probleme wat Suid-Afrika tans ervaar – insluitend misdaad, verkeersterftes en selfs rommelstrooiing in swart gemeenskappe – toegeskryf aan apartheid (en in effek, aan wit mense). Hy het gesê dat wit mense almal voordeel getrek het uit apartheid. Hul kinders het “spoggerige skole” bygewoon en hulle het in spoggerige woonbuurte gewoon. Hy het gesê dat ryk wit mense `n “welvaartbelasting” moet betaal om op te maak vir die verlede.

Suid-Afrikaners het baie respek en liefde vir “die Arch” en vir sy uitgesprokenheid oor die beskerming van die beginsels en regte waarop ons nuwe samelewing geskoei is.
Een van daardie beginsels is nie-rassigheid en die idee dat ons nie meer wette moet instel wat op een of ander rassegroep gemik is nie. Dit sal gevolglik ongrondwetlik wees om welvaartbelasting af te dwing op slegs een van Suid-Afrika se rassegroepe. Dit sal die herinstelling van rasseklassifikasie vereis, sowel as van baie ander afbrekende wyses van onderskeiding tussen rasse wat met apartheid geassosieer is.

Dit sal ook onregverdig wees. Sal daar van wit mense wat apartheid teengestaan het, ook verwag word om dieselfde te betaal as diegene wat dit ondersteun het? Sal daar verskillende belastingskale wees vir wit mense wat die ANC, die DP en die ou Nasionale Party ondersteun het? En wat van die vele swart mense wat hoë poste beklee het in die regerings van die tuislande?

Om grondwetlik te wees, sal welvaartbelasting van toepassing moet wees op alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras. Gelukkig – of ongelukkig – het ons alreeds so `n meganisme: dit word inkomstebelasting genoem. Daardie ongelukkige mense wat meer as R585 000 verdien betaal 40% van hul inkomste aan die staat om, onder andere, maatskaplike, behuisings- en onderwysprogramme te befonds. Dit beteken dat sulke mense – van wie baie wit is – werk vir langer as die helfte van die jaar vir hul mede-Suid-Afrikaners werk, as `n mens die BTW en ander belasting wat hulle betaal, in ag neem. Hulle doen dit byna altyd sonder om te kla – selfs al ontvang hulle baie min onderwys-, gesonderheids- en sekuriteitsvoordele vir die belasting wat hulle betaal.
Natuurlik is daar niks wat enige iemand, swart of wit, keer om iets ekstra te betaal om die welstand van minderbevoorregte landsburgers te bevorder nie. Interessant genoeg doen baie ryk Suid-Afrikaners presies dit. Volgens `n onlangse internasionale meningspeiling is hulle van die mees vrygewigste skenkers vir liefdadigheid in die wêreld – nie net in terme van geld nie, maar ook in terme van hul tyd. Heel moontlik tree hulle bloot op as verantwoordelike burgers wat omgee.

Dít lê ook aan die kern van die Aartsbiskop se ander punt van kritiek, dat apartheid (dit wil sê wit mense) verantwoordelik is vir die groot vlakke van misdaad, padongelukke en selfs rommelstrooiing wat steeds deur swart gemeenskappe ervaar word. Só `n benadering doen afbreuk aan die kernverantwoordelikheid wat alle burgers het oor hoe hul optree in hul eie lewens. Dit is ook onregverdig teenoor die miljoene swart mense wat goeie, verantwoordelike en wetsgehoorsame lewens lei, ten spyte van die verlede en ten spyte van die voortdurende armoede waarin hulle lewe. Op `n ernstiger noot lei dit die aandag weg van diegene wat nou in die regering is, wat verantwoordelikheid is vir swak onderwys, behuisings- en gesondheidsdienste.

Ons moet wegbeweeg van die rassestereotipes in terme waarvan te veel van ons nog ons mede-Suid-Afrikaners ag. `n Groot deel van die wit Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie en was nog nooit ‘ryk’ nie. Hulle woon nie in spoggerige huise nie en woon nie spoggerige skole by nie. Dit is ook `n wanindruk dat hul lewenstandaard alleenlik of hoofsaaklik te danke is aan die uitsluiting van swart Suid-Afrikaners. Daar is geen rede om te dink dat wit Suid-Afrikaners nie weens hul eie pogings min of meer dieselfde vlak van maatskaplike en ekonomiese ontwikkelings sou bereik as Europese emigrante wat hul gevestig het in Australië, Kanada en Nieu-Seeland nie.

Van die begin van die 1980s het meeste wit mense aanvaar dat dit noodsaaklik was om dominansie deur die minderheid stop te sit. Hulle het egter groot vrese gehad oor die toekoms. Volgens `n peiling in 1988 het 92% gedink dat die effektiwiteit van die regering agteruit sou gaan onder `n swart regering; meer as 80% het gedink dat mediese en onderwysdienste agteruit sou gaan; 73% het gedink dat misdaad sou toeneem en 74% het gevrees dat daar korrupsie in die regering sou plaasvind. Daar was ook die feit dat feitlik al die lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee ook lede was van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

Ten spyte van hierdie vrese, het hul gewilliglik uitgereik na hul mede-Suid-Afrikaners van alle rasse en saamgewerk om `n nuwe samelewing te stig wat gebaseer is op nie-rassigheid, menseregte en die oppergesag van die reg. Dit was moontlik die beste manier om op te maak vir 342 jaar van oorheersing deur wit mense. Daar is nog baie wat gedoen moet word om die visie van waardigheid, gelykheid en menseregte te behaal soos wat dit artikuleer word in ons Grondwet. Dit is egter `n uitdaging wat alle Suid-Afrikaners moet aanvaar op grond van hul verantwoordelikheid vir die toekoms van hul land.

Hoe vernietigend apartheid ook al was, mag ons nie ad infinitum voortgaan om alles wat fout gaan in Suid-Afrika toe te skryf aan die verlede nie. Ons kan ook nie die gevaarlike idee van rasseskuldgevoel aanvaar nie – of die uiters onchristelike idee dat sommige Suid-Afrikaners op morele vlak oppermagtig is bo ander bloot as gevolg van die rassegroep waartoe hulle behoort nie.