Subscribe by Email

Fisiologie van versoening – meer as net ‘n grondwet

Omdat ‘n mens ‘n vrag historiese, sosiologies, sielkundige, juridiese en maatskaplike faktore by ‘n versoeningsproses moet verreken is dit seker een van die mees komplekse inter-dissiplinêre aksies om te voer.
Tog sal baie “kundiges” vanuit ‘n enkele dissipline hul monde rek oor “al wat nodig is” om dié kwessie aan te spreek.
En heel dikwels word die politieke sosioloë, waarskynlik die vakkundiges met die mees toepaslike opleiding, op die kantlyn geplaas. Miskien omdat dit wat hulle sê, nie is wat die huidige politiek-korrekte omgewing wil hoor nie.
Dit is al ‘n voos-geskryfde onderwerp, maar is weer in die Afrikaneromgewing geplaas deur ‘n lang artikel deur Max du Preez in Rapport.
Die probleem: polarisasie vind plaas, en dit geskied gereeld oor rasselyne.
Dit is as by die voorgestelde oplossings kom dat my en Max se beskouings gapend verskil.
Die naweek bel Ivy. Sy is ons huishulp Rebecca – – eintlik reeds afgetree en met ouderdomspensioen maar sorg vir soveel sy moet deeltyds aanhou werk – se kleindogteer. Rebecca se jongste seun, ‘n werklose man van ouer as dertig, is dood. Deur die polisie kaal gekry – dus waarskynlik vermoor. Ons gesin moes die afgelope jaar al help diep die hand in die sak steek terwyl ons self erg noustrop trek – met begrafnisse. Nie net met Rebecca se suster wat by haar afgelaai is nie, maar ‘n dogter en ‘n stokou buurman. Hulle het niks, maar ken nie afskeepbegrafnisse nie.
So spartel die twee gesinne nou al lank saam. Die een weens die impak van “regstellende aksie,”, die ander oor daar net nie werk is nie. Rebecca maak ook nog twee kleinkinders, Ivy en ‘n boetie, groot van ‘n dogter wat gedrink het, en toe aan “middeloorontsteking” dood is.
En hoeveel gevalle is daar van gesinne wat oor die rassegrense heen lief en leed deel?
Twee van ons bekendste politici se ma’s was huishulpe – pres. Jacob Zuma en Julius Malema.
Maar baie ander se eerste blootstelling oor die rassegrense heen het eers later, op die werksvloer en soortgelyk gekom. Mense van kennis oor mekaar se kultuur, se verwagtinge en vele meer gestroop.
Ek sê mekaar, want dit kan nie ‘n eenrigtingverkeer wees nie.
Max se voorgestelde oplossing is dat wit mense met rassisme moet wegdoen sodat dit ook by swart mense kan gebeur.
Fout! Al is dit hoe mense werklik voel – of dit nou weens ‘n paternalistiese of negrofilisiese oogpunt is, in rolspel kies jy gewoon nie kant en blameer die een groep nie, al is dit onbedoeld. Probeer ‘n gelyktydige aksie kry. En moenie rassisme probeer aanspreek deur self ‘n rasse-onderrok te laat uithang nie. En as een groep die inisiatief self, en uit eie beweging neem, is dit ‘n bonus – mits dit ook nie paternalisties gedoen word nie.
En moenie oppervlakkig wees nie. En bly weg, ver weg, van retoriek of politiek-korrekte weergawes, want die ander groep se persepsie van die feite gaan waarskynlik lynreg daarvan verskil, en hul gesindheid vertroebel word.
En die proses moet altyd kundig begelei word. Ja, selfs ‘n politieke sosioloog kan erg hierin droogmaak as sy eie politieke oortuigings sy wetenskaplike kennis oorheers. Maar dis die wetenskap wat die dinamika van waarmee ‘n mens werk, die beste verklaar en bestuur.
Dit spreek vanself dat die oplossings onder meer in die staatkunde en die ekonomie gevind kan word, maar uiteindelik bly die finale toets hoe dit in die verhouding tussen mense van verskillende identiteite manifesteer. Verskeie lande, soos Indië, België, Spanje en Nigerië het grondwetlike bedelings geïmplementeer wat op ‘n vorm van geografiese federalisme neerkom, terwyl lande soos Nieu-Seeland, Indië, Libanon en selfs Sirië modelle met ‘n vorm van korporatiewe selfbeskikking, of dan minstens gewaarborgde inspraak, geskep het.
Heterogene lande met ‘n grondwet soortgelyk aan dié van Suid-Afrika neig om moeite te hê – Sri Lanka, Frankryk (tot onlangs met die Baske), Marokko met Wes-Sahara, die Ivoorkus en ander.
Bloot staatkundig gesproke, kan Suid-Afrika heterogene druk ervaar, maar die omvang word ook skerp beïnvloed deur hoe die groepe teenoor mekaar oor die weg kom.
Om dit blatant te stel: Die ANC se hewige in die bres tree ten gunste van die liedjie, Maak dood die boere, loop ‘n hele klomp kragte wat versoening in die hand kan werk eenvoudig plat. Van die ander kant gebeur ook kwetsende dinge.
Die uwe het die oud-president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt al tot vervelens aangehaal waar hy jare gelede gemaan het dat geen staatkundige model, nie eens die beste grondwet in die wêreld, gaan werk as die mense mekaar nie verstaan en begryp nie.
Hier is waar die kwessie faal.
Die internet kry baie slae as katalisator vir die eskalasie van die aanhitsende vitrioel. Dit is nie net Suid-Afrika wat hieroor kopkrap nie, omdat soos dit nou gaan, die internet ‘n veilige hawe bied aan lafaards wat gekoester agter skuilname, die liederlikste laster, skoorsoekery, leuens en haatspraak kwytraak. Die gevolg is dat Europese lande nou na maniere kyk waar iemand net kommentaar kan lewer mits minstens sy e-posadres outomaties op die stelsel geregistreer word.
Die teenargument is dat so iets die reg op vrye meningsuitdrukking aan bande lê – in elk geval volgens die kritici, meer as die “normale” beperkings wat op vrye uitdrukking van toepassing is. Maar die teenvraag is of iemand wat ‘n skuilnaam gebruik, hom nie in die proses outomaties regtens skei van sy menseregte nie. Kan ‘n skuilnaam ‘n regspersoonlikheid met regte vorm? Dit sou tog absurd wees.
‘n Vanselfsprekende uitsondering is dat ‘n verklikker op beskerming teen identiteitsopenbaring geregtig is. Die eenvoudige is dat die naamlose lasteraar ‘n misdaad pleeg, die verklikker probeer misdaad stuit.
‘n Finale opmerking oor Max: As iemand Max sou vra of hy ‘n regstaat voorstaan, sou hy ongetwyfeld ja sê. Tog gaan noem hy die beweerde aanrander van prof. Anton van Niekerk nog voor ‘n verhoor plaasgevind het – om nie van ‘n skuldigbevinding of die audi altaram partem-reël toegepas is te praat nie, ‘n regse boef. Dis presies dieselfde beginsel as om nie-rassigheid te predik, maar rassisme inspan om die doel te bereik.
En tweedens, Max pleit in die artikel vir versoening. Presies hoe dra sulke vitrioel inspan by tot die ontlonting van die debat?
Herman Toerien
Hons in Politieke Wetenskap, Politieke Geografie as hoofvak, en Staatsreg 100. Hy het nie formele kwalifikasies in Politieke Sosiologie nie, maar het wyd daaroor opgelees. Hy was die laaste hoofverhoudingsbeampte in die Vrystaat.