Koerant.co.za

Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel…
Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel…

Die slag van Braamfontein is gelewer, en hoewel die DA-optoggangers volgens die beeldmateriaal voet in die wind geslaan het, is die Suid-Afrikaanse demokrasie die groot verloorders.

Cosatu het dit duidelik gemaak – dié organisasie beskou homself as die alleen-titelhouers van werkersbelange. Dit sluit goed aan by soortgelyke geluide vanuit die ANC dat daardie party die alleen-titelhouers is van die regeermandaat oor die land, en selfs die grondwet word nie as temperende meganisme geduld nie.

‘n Opposisie wat die drieparty-alliansie uitdaag, word ook nie geduld nie. Die ANC wil sy energie inspan om die Wes-Kaap, soos die ANC dit stel, van die DA te bevry. Die ANC het geen aptyt om op die tuisfront ‘n eksterne bedreiging te moet verdedig nie.

Vir die ANC is die onaangenaamste ervaring waarskynlik dat die DA daarin slaag om ook swart steun te trek, al probeer die ANC en sy vennote alles in hul vermoë om die DA in sy beeld van ‘n elitistiese wit verlede vasgeverf te hou.

Wanneer ‘n voormalige wit party dan dié persepsie begin aantas, so lyk dit, word na die mentaliteit van vuurhoutjies en buitebande teruggeval om afvalliges te straf en ander te intimideer.

Dis geen resep vir demokrasie nie, en stemkeuses is byna altyd strategies, in plaas van soos dit hoort, afgestem op ‘n vry keuse om vir beginsels te stem.

Uiteindelik dan ook die vraag: Hoeveel mense wat van die optog en sy afloop kennis dra, weet veel van die oorspronklike kwessie – die voorgestelde jeugsubsidie?

Emosies oor die optog is bedoeld en onbedoeld aangeblaas. Aan die een kant was daar die woordestryd tussen die DA-leier, Helen Zille, en Cosatu se grootbaas, Vavi. Cosatu se aangevuurde reaksie was vanuit die staanspoor een van onverdraagsaamheid teen grondwetlike demokratiese regte.

Soos met enige oorlog is die vraag nie so seer wie die veldslag gewen het nie, maar wie in die wye persepsie die beste daarvan afgekom het. Was Suid-Afrika deel van die klassieke vrye Weste, sou die antwoord eenvoudig wees: Cosatu het gewoon buite die aanvaarbare spelreëls opgetree. Die “occupy Wall Street” wat oor ‘n groot deel van die wêreld versprei is, is nie deur politieke teenstanders aangeval en verdryf nie. Dit is lank geduld, en uiteindelik het die polisie na behoorlike regsprosesse ingegryp – en is hard gestriem waar skynbaar onnodig hardhandig opgetree is.

Cosatu se teenreaksie staan in die konteks van bykans landswye protesaksies teen dienslewering. Geweld en vernielsug is alledaags, soos die groot skade wat onlangs aan die Bloemfonteinse Glaspaleis en naasliggende historiese stadsaal aangerig is.

Maar dis te vroeg om te beoordeel of Cosatu in sy oorwinning op die slagveld die harte van die Suid-Afrikaanse kieserspubliek gewen het. Suid-Afrika gaan egter op verskeie maniere verloor. Die klip wat die Mail & Guardian se verslaggewer, Nickolaus Bauer, teen die kop getref het word in Verslaggewers Sonder Grense se register aangeteken, en gaan Suid-Afrika se kreeftegang op die persvryheidsindeks versnel. Dit blaas ‘n rits dalings op ander indekse, soos die korrupsiepersepsieindeks en beleggersvertroue-indeks aan. Kortom, alle Suid-Afrikaners is die verloorders.

Die feit dat die DA se bedryfsbestuurder in Noordwes, Tiaan Kotze, ook teen die kop getref is, voorspel niks goeds vir ‘n persepsie dat Suid-Afrika ‘n sterk demokrasie het nie.

Teen dié agtergrond is uitlating van die DA se Gautengse leier, John Moodey, dat die gevegte die begin van ‘n nuwe 1976 is en dat die ANC en sy alliansievennote maar gewoond aan DA-optogte moet raak miskien nie die mees sensitiewe opmerking van die millennium nie. Min mense wat, van welke kant ook al, deur die destydse geweld geraak is, sal dié opmerking as in goeie smaak beskou, en Moodey behoort verskoning te vra vir dié ongevraagde opmerking.

Dit is nog heeltemal te vroeg om te bepaal hoe die insident die DA se beeld onder sy eie ondersteuners gaan raak. Kan die gemiddelde Afrikaner-ondersteuner hom gemaklik vereenselwig met die optogkultuur?

Om ‘n multi-kulturele politieke tuiste vir almal te wees, was nog nooit maklik in Suid-Afrika nie. Dit word onderstreep deur die Sowetan se redaksionele reaksie op oud-president FW de Klerk se omstrede CNN-onderhoud: “The former leader of the NP that gave birth to apartheid, believes certain elements of the backward political system, particularly the Bantustans, were ‘not morally repugnant’. De Klerk’s remarks in an interview with CNN has justifiably sparked outrage since he comes across as someone who hates nonracial democracy under a united South Africa. It is shocking that 18 years into a nonracial and non-ethnic democracy and 15 years since the adoption of the final Constitution, someone like De Klerk should just pop up and rubbish everything being supported by politically civilised citizens. His remarks smack of double standards. De Klerk must apologise for insulting not only all South Africans, but the essence of the nonracial, united South Africa.”

Die feit is egter dat die ANC self nie ‘n nie-rassige beeld kon bou nie, en onlangs drie Afrikaanssprekende akademici gevra het om ‘n ondersoek te loods na hoekom die ANC van minderheidsgroepe vervreem raak.

Die party wat waarskynlik van sy stigting af die mees nie-rassige kenmerke getoon het, die ACDP, het in ‘n redelike kort tyd van sewe setels in die parlement na drie teruggesak, en van sy agt setels in die provinsiale wetgewers ook net drie oorgehou. Die UDM het met sy aanvanklike tweekoppige leierskap, waarvan een Roelf Meyer was, na ‘n party teruggesak wat hoofsaaklik in die Xhosa-gemeenskap gesetel is.

Die DA gaan dit nie makliker vind nie.

Foto: Media 24

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms
Onlangs was alles gereed – die orkes, sjampanje, roeiers en toeskouers by Dover. Toe word die replika van ‘n boot uit die Bronstydperk wat met replikagereedskap van 3 500 jaar gelede gemaak is te water gelaat – en die boot sink.

Die geleerdes gaan nou koppe bymekaar sit om vas te stel waar hulle nie 100 % reg was in hul waarnemings van die Bronstydperk nie.

Vandag skryf prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV en rubriekskrywer in Die Burger die volgende: “As jy wit Suid-Afrikaners mal wil maak, praat oor die verlede. As jy swart Suid-Afrikaners mal wil maak, praat daaroor soos F.W. de Klerk op CNN gedoen het. http://www.dieburger.com/Rubrieke/JonathanJansen/Jakkalsdraai-oor-reg-en-verkeerd-20120514

Intussen het De Klerk opnuut aangedui dat wat hy gesê het, verdraaid aangebied is. http://afrikaans.news24.com/Suid-Afrika/Nuus/De-Klerk-se-opmerkings-is-verdraai-20120514

Jansen striem hierna vir De Klerk en vervolg: “As ons nie kristalhelder oor reg en verkeerd kan wees nie, loop ons jeug gevaar om ons morele dubbelsinnigheid te erf. In die afgelope twee weke het hierdie morele dubbelsinnighede oor die verlede die hede met mening binnegedring.”…” Ons kan nie ons wonde uit die verlede genees nie tensy ons eens en vir altyd erken apartheid was boos, uit en gedaan.”

In die Akademie-tydskrif van Maart vanjaar word berig oor ‘n nuwe geskiedenisboek oor Suid-Afrika wat deur die land se voorste 26 historici, onder die leiding van prof. Fransjohan Pretorius saamgestel word, om “`n omvattende, ewewigtige en geloofwaardige naslaanwerk oor ons geskiedenis te skep, as teenwig vir die skewe haasbek-geskiedenis wat die arme kinders op skool deesdae lepels vol van gevoer word.” Aldus Hennie van Deventer, oud-redakteur van die Volksblad onder die titel, Die laaste boek. http://hennievandeventer.com/hvdblog/?p=4050

Op RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, was die deelnemers dit eens dat dit nog jare sal duur voor die onderwerp wat De Klerk aangespreek, objektief en emosieloos onder die loep geneem sal kan word.

Suid-Afrika is ook nie al land wat moeite het om perspektiewe uit die verlede onder die knie te kry nie. Hoofsaaklik weens die Nazi’s se optrede teen Jode, sigeuners en ander, het verskeie Wes-Europese lande wetgewing wat die ontkenning van volksmoorde strafbaar maak. Tog het Turkye die volksmoorde op die Armeniërs, Koerde en Assiriërs uit hul geskiedenisboeke verwyder, en is so deeglik hiermee dat Turksgebore parlementslede in Nederland al as parlementslede bedank het omdat hulle weier om te glo die volksmoorde het plaasgevind. Maar dit wat die Turke ontken is besonder lewend onder die slagoffervolke, en dié volksmoorde vier binnekort hul eeuherdenking. Turkye se ore gaan behoorlik tuit.

Paleontoloë, argeoloë en historici span nou in vele studies saam om te kyk hoe die mens en die natuur in die verlede by klimaatverandering aangepas het, sodat iets daaruit wys geword kan word met die oog op die toekoms. Daar is gewoon nie ruimte vir persoonlike of groepsentimente nie – dit vereis ‘n kliniese blik op die werklikheid.

Wanneer mense se motiewe in die verlede beoordeel word, is ander spelreëls egter nodig om die element van subjektiwiteit te bepaal. In ‘n onlangse meestersverhndeling by die US word onder meer duidelik getoon hoe uiteenlopend persepsies by wit en swart is oor hoe blankes hul grond bekom het. Verreweg die meeste swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl baie min blankes en bruin mense hierdie denke deel. Malema se opmerking dat blankes misdadigers is wat swart mense se grond gesteel het, was nie in ‘n lugleegte nie. Dr. Pieter Mulder se kliniese uiteensetting in die parlement het ‘n soortgelyke reaksie ontlok as De Klerk se CNN-stellings en sy verduidelikings daarna.

Die Romeins-Hollandse regstelsel, gebaseer op die beginsel van natuurlike geregtigheid, vereis egter dat daar begrip moet wees vir iemand se persepsie van die werklikheid, enersyds om te bepaal of daar kwaadwillige opset was, of om as strafversagting te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse grondwet, wat die artikel oor administratiewe geregtigheid aanvul met ‘n artikel oor die reg van toegang tot inligting wat ‘n burger se regte raak en wat die staat hou, is een van die min grondwette in die wêreld wat so ver gegaan het om dit grondwetlik te kodifiseer.

In die geval van die Reitz-vier, was Jansen ‘n goeie voorbeeld van iemand wat dié konsep goed onder die knie het, en hy het wye lof hiervoor gekry.

Is dit werklik so eenvoudig om iemand as in sy wese as boos te beskryf, wat aan moedersknie geleer het alle mense is gelyk, en juis daarom moet verskillende groepe elk die reg tot volle selfbeskikking hê, en wat nooit die k-woord gebruik het nie soos sy ouers hom geleer het? Selfs al het hy akademies bitter swaar aan Kovsies gekry waar hy in die middel 70-gerjare verskil het van die dosent wat die studente verplig het om te leer van die “Christelike beleid van apartheid versus gelykstelling?” En juis verskil het omdat hy nie saamgestem het met die dosent se stelling dat apartheid nie ook op gelykstelling moet neerkom om Christelik te kan wees nie?

En verder, moet hy nou sy ouers veroordeel oor wat hulle geglo het, en gesterf het voor hulle die afloop van die geskiedenis kon beleef?

Voorts is daar die probleem dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in groot mate ooreenkom met die volkereg. De Klerk het na die voorbeeld van Tsjeggo-Slowakye, wat verdeel is, verwys. Meer onlangs het Soedan en Suid-Soedan onder die leiding van die AU in twee etniese state verdeel. Vroeër het Eritrea van Ethiopië afgeskei. Baie lande in die wêreld, insluitend Suid-Afrika, beywer hulle vir ‘n onafhanklike Palestynse staat.

Artikel 235 van die grondwet maak voorsiening vir selfs geografiese selfbeskikking van groepe op sterkte van taal en kultuur. Suid-Afrika is lid van die VN met sy resolusie oor die regte van minderheidsgroepe, wat lande móét nakom.

Ook dit is nie die volle prentjie nie. Die harde werklikheid is dat baie van die groepe wat na selfbeskikking streef, dit openlik op rassegrondslag doen; iets waarvoor die volkereg en die grondwet nié voorsiening maak nie.

Dit sal ook ‘n interessante studie wees om te bepaal of die huidige rassistiese opmerkings van jong mense in byvoorbeeld die kuberruim werklik na hul ouers herlei kan word, en of dit nie ‘n baie soortgelyke reaksie is op die huidige regering se neo-apartheid nie. Kan jong wit mense werklik ander belewenisse wys word uit hul ervarings, en die huidige ervarings van hul ouers, oor die voortdurende trek van die kort lootjie weens hul velkleur, as wat swart mense onder die vorige bedeling ervaar het?

Prof. Jansen is bekend vir die heldeverering wat hy vir Bram Fischer het. Hieroor het hy ‘n sekere persepsie, terwyl baie ander in afsku vervul is oor ‘n man wat hom volgens die literatuur blind gehou het vir Stalin se moordlus.

‘n Oorvereenvoudigde persepsie oor die verlede kompliseer die toekoms deur die toekoms met onverdiende bagasie op te saal. In ‘n onderhoud met Beeld wou Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, niks van minderheidsregte weet nie, en het hy dit foutiewelik aan ras gekoppel. ‘n Persepsie van die verlede laat hom die baba nou saam met die badwater uitsmyt. Dit bring Suid-Afrika nie in pas met die wêreld nie, maar haal Suid-Afrika juis uit pas uit.

Toe die laaste apartheidswet vanjaar, 21 jaar gelede, uit die wetboek verwyder is, was die ANC nog ‘n hele paar jaar nie aan bewind nie. Die ANC moet minstens ten dele die blaam dra dat die land vandag so erg rasgereguleerd en rasgepolariseerd is, en so lank as wat dit onder politieke korrektheid verberg word, so lank gaan die land nie aanbeweeg nie. Die simptome is duidelik, soos met naamsveranderings, terwyl, soos in die geval van die Tswane-metroraad, 300 strate nog naamloos is.

Hoe kan na ‘n skoon lei gewerk word, soos wat die huidige bedeling van voorneme was om te doen?

- Jan Hofmeyr van die Sentrum vir Geregtigheid het onlangs in ‘n TV-onderhoud onder meer voorgestel dat daar in elke gemeenskap ‘n forum moet wees waar gekommunikeer moet word. Wat hy voorgestel het is geen nuwe gedagte nie, Suid-Afrika het oor die jare die Verhoudingsaksie met sy stelsel van verhoudingskomitees, en ander soos die gemeenskapskakelforums, en private inisiatiewe soos Kontak en die Vroueburo geken. Die politieke leierskap het blykbaar geoordeel dat dié forums oorbodig onder die nuwe grondwet sal wees, ten spyte van waarskuwings tot die teendeel deur onder meer dr. Tjaart vd Walt, destydse president van die RGN. En Van der Walt was reg.

- Moenie die geskiedenis probeer manipuleer nie. Kyk die geskiedenis in die oë, en leer om korrek daarmee te handel. Deur ‘n groep se bydrae tot die geskiedenis, hetsy die goeie of die slegte bydraes, te minimaliseer of weg te skryf toon ‘n gebrek aan respek en gaan die toekoms aan die hakskeen byt.

- Stof die vredesakkoord gereeld af, en maak seker dat iemand dit in letter en gees onderskryf voor hy of sy tot die parlement verkies word of as kabinetslid aangestel word.

- Laat vaar die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak. En tree dan konsekwent oor haatspraak op.

Suid-Afrika het nie juis ‘n ander keuse as om van al die kante te versoen nie, anders gaan die boot met sy tewaterlating sink. Dan gaan elke kulturele en staatkundige ideaal in die land by voorbaat onder verdenking staan – van transformasie tot in die neerslag van die internasionale reg.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Twiet-twiet, in die voet geskiet
Die afgelope paar dae het verskeie binnelandse nuusgebeure om kommentaar en ontleding geroep. Daar is ‘n storm om die kop van luitenant-generaal Richard Mdluli waar dié stekelrige uitryg nog nie end se kant toe staan nie, voorgestelde wysigings aan die inligtingswetsontwerp met nog genoeg angel oor, twee modelle wat die land se ore met hul twiets laat tuit het, ‘n gesprek van die ANC met meningsvormers uit die Afrikaanse gemeenskap, met die boikot deur onder meer die FAK en Solidariteit wat waarskynlik meer nuuswaardig was die gesprek self, en ‘n woordestryd tussen die DA en Cosatu wat op verskeie vlakke uitslaan. Voorts het oud-president FW de Klerk in ‘n onderhoud met CNN aspekte van die tuislandbeleid geopper wat op nou so ‘n manier aangebied word dat dit ook ‘n storm veroorsaak.

Elkeen van hierdie onderwerpe is uiters belangrik. Die DA-Cosatu-stryd roep byvoorbeeld na ‘n antwoord oor wie die land se werklike opposisie is – die DA, of Cosatu?, en die antwoord sal as koorspen dien oor die stand van veelpartydemokrasie.

Die Mdluli-sage dien weer as barometer oor onbehoorlike politieke inmenging, en die geloofwaardigheid van die skarrellende politici.

Die hele sage om die samesprekings met die ANC is tekenend dat die boer se moermeter nog in die rooi loop. Dié wat nie die gesprek geboikot het nie, het die ANC meegedeel dat die regering sy sokkies sal moet optrek. Nog kwessies wat die moermeter gaan stook is dat die ANC se sekeretaris-generaal, Gwede Mantashe, in ‘n onderhoud niks van minderheidsregte wou weet nie, en dit op die een of ander manier na wit bevoorregting herlei.

En vir oulaas span dr. Piet Croucamp, een van die gespreksfasiliteerders, die teerkwas in om na die Afrikaner te verwys. Hy skryf onder meer: “Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ’n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.” (Lees artikel in Rapport by

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2012/05/12/R2/VI/13mei_pietcrou.html )

Die modelle se getwiet trek egter ‘n buitengewone aandeel van die nuus. Hulle is beide jonk en dat juis hulle die wag voor die vingers vergeet het, dui aan dat rasprobleme in die land steeds diep loop, 21 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is.

In RSG se program, Kommentaar, het die deelnemers ook geoordeel dat die klimaat nog lank nie reg is dat FW die kwessie oor die tuislandbeleid klinies kon aanspreek nie.

As ‘n gesoute politikus en opgeleide regsgeleerde soos FW sake op ‘n manier kan stel wat as ontstellende pakket aan die wêreld voorgehou word, watter kans het twee modelle en ander jong Suid-Afrikaners om slaggate te vermy wat dikwels dateer uit ‘n era voor hulle nog gebore is?

En dit is dikwels juis die jongelinge wat met ontsaglik potente kommunikasie-instrumente in die hand toegerus is – hulle twiet en benut die kuberruim op ander maniere. Dis instrumente wat ‘n sleutelrol in die Arabiese domino-revolusie gespeel het.

Dit is egter nie net die jongelinge wat twiet nie. Die DA-leier, Helen Zille, het groot aandag getrek toe sy in ‘n twiet na mense wat uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap stroom as vlugtelinge verwys het. Sy is vanuit ANC-geledere erg hieroor verkwalik.

Skaars het die voorlopige bevindings van die Openbare Beskermer oor ‘n kommunikasietender in die Wes-Kaap uitgelek, of joernaliste en ander politieke leiers onthou sy het getwiet dat sy sal bedank as daar ongerymdhede sou blyk.

Die benutting van die kuberruim is ‘n relatiewe nuwe verwikkeling in die mensdom se kommunikasie-arsenaal. Paslike protokolle en wetgewing ontbreek nog dikwels, wat ‘n groot ruimte laat aan kuberswyne om dié tegnologie in te span om, verskuil agter skuilname, die teerkwas vir erge vitrioel in te span. So iets sal uiteraard nie lank in ‘n land met ‘n sin vir geregtigheid geduld word nie, en wêreldwyd neem die vervolging van die kuberswyne toe. Van hulle het selfs al tronkstraf op die lyf geloop.

Presies hoe laakbaar die kubervitrioel kan daal blyk daaruit as ‘n “debat” in die kuberruim losbars waarin mense wat hulself Christene noem oor geloofskwessies mekaar so bydam dat die eertydse Inkwisisiedrywers sou kon kom les neem.

Die kuberruim het egter gekom om te bly, en dit maak die wêreld moeilik om inligting te smoor. Dit behels inligting wat die owerheid om die een of ander rede van die publiek wil weerhou, of inligting wat selfs ‘n wetlik vrye pers weerhou wanneer daardie inligting nie ‘n politieke agenda pas nie, en selfsensuur toegepas word.

Dit plaas in die gewone mens se hande iets wat veel magtiger as die swaard is.

Twiet, twiet, jou reputasie is tot niet.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

ANC se fasiliteerder oorskry alle perke met sy weersin in die Afrikaner – AB
Die Afrikanerbond het met skok in die Rapport gelees hoe dr Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg in die artikel “Safari na Luthuli” van Sondag 13 Mei 2012 sy afkeer en weersin in die Afrikanergemeenskap gedemonstreer het in sy reaksie teenoor mnr Flip Buys van Solidariteit.

In die artikel laat hy hom soos volg uit: “My politieke instink het ’n weersin in Afrikanerpolitiek en ek het dit van die begin duidelik gemaak dat die term Afrikaner ideologies gelaai is. Ek dink mense wat hulself as Afrikaners beskryf, beskou hulle nie as deel van Suid-Afrika nie en hul doelstellings korrespondeer nie met die Grondwet van die land nie. Wat my betref, is Afrikaners byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste. “Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ’n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.”

Met die ongegronde oordeel, wat in sy persoonlike vooroordeel neerslag vind, diskwalifiseer dr Croucamp homself om in die toekoms as onafhanklike fasiliteerder op te tree.

Die Afrikanerbond het saam met ander lede van die Afrikaanse taalgemeenskap die uitnodiging tot dialoog aanvaar. Die uitnodiging van die ANC het die spesifieke bewoording bevat: “Minderhede moet méér wees as net ’n kritiese stem. Hulle moet ook ’n deelnemende/proaktiewe stem wees in die bevordering van gemeenskaplike belange en ’n nasionale konsensus.” Die doelwit van die dialoog-beraad is gestel as: “Hierdie vergadering beoog om vervreemding binne hierdie segment van die burgerlike samelewing sowel as binne die politieke en ekonomiese bedeling teen te werk. Die verwagting is dat dié byeenkoms in nasionale belang tot ’n betekenisvolle dialoog sal lei wat konstruktiewe kommunikasie en samewerking tussen die ANC en Afrikaanssprekende belangegroepe sal fasiliteer.”

Tydens die gesprek het ons dit baie duidelik gemaak dat hoewel ons Afrikanerbelange dien, ons ook as lid van die Afrikaanse taalgemeenskap kwessies wat hierdie gemeenskap raak wil aanspreek, maar dat ons ook die kwessies wat op die burgerlike samelewing in sy geheel ŉ negatiewe uitwerking het, eweneens op die tafel plaas.

Ten spyte van die feit dat dr Croucamp nie sy taak as fasiliteerder na behore uitgevoer het nie, het die deelnemers egter die geleentheid goed benut om openlik en sonder vrees hulle saak te stel en is ŉ groot aantal kwessies op die tafel geplaas. Ons het ook in persoonlike gesprekke met teenwoordiges nie die indruk gekry dat die Afrikaanse taalgemeenskap standpunt inneem teen Afrikaners nie. Dit is immers nie waaroor die gesprek gegaan het nie en was dit ŉ gesprek tussen die Afrikaanse taalgemeenskap en die ANC.

Dr Croucamp probeer met sy persoonlike en verwronge opvatting oor die Afrikaner ŉ wig indryf tussen die Afrikaner en ander lede van die Afrikaanse taalgemeenskap. Dr Croucamp, soos baie ander, besef nie dat ŉ Afrikaner tegelyk ŉ lid van die Afrikaanse taalgemeenskap en lid van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing kan wees nie, en dit geld net so vir ŉ Zoeloe, Xhosa, Khoi-San ensovoorts. Dit staan individue soos dr Croucamp natuurlik vry om hom nie met ŉ spesifieke kultuurgemeenskap te vereenselwig nie en ons respekteer dit. Ons verwag egter dieselfde van hom.

Die term Suid-Afrikaner is ŉ suiwer staatkundige begrip en kan nie verwar word met ŉ kultuurbegrip nie. Daar bestaan nie iets soos ŉ Suid-Afrikaanse kultuur nie, maar wel ŉ nasionaliteit. Dit word gedemonstreer in die sin dat daar nie ŉ Suid-Afrikaanse taal is, of homogene kulturele gebruike nie. Nog minder is ons gesamentlik gevorm deur historiese kragte. Wanneer Suid-Afrika egter op die sportveld optree of ons bevind onsself tussen mense van ander lande is ons Suid-Afrikaners. Dit is ons patriotisme en dit is ons lojaliteit. Vanuit ŉ nasionaliteitskonteks is ons dus Suid-Afrikaners. Dit onderskei ons van ander nasionaliteite.

Die term Afrikaans verwys na taalverband. In die verband en binne die konteks deel ons die taal met miljoene gebruikers van die taal en moet ons verenig om die taal Afrikaans tot sy reg te laat kom. Veel eerder moet die term Afrikaanssprekende gebruik word teenoor die term Afrikaanse wat soms verkeerdelik as ŉ kultuurbegrip aangewend word. Die Afrikaanse taalgemeenskap van Suid-Afrika is tans binne die Afrikaanse Taalraad georganiseer en tree gesamentlik op om bepaalde uitdagings die hoof te bied. Dit is ook die Afrikaanse taalgemeenskap wat Dinsdag 8 Mei 2012 met die ANC in gesprek was.

Die term Afrikaners verwys na kulturele identiteit. Kulturele identiteit verwys na die gebruikstaal, ŉ gedeelde historiese herkoms, vaste kulturele gebruike, en vele meer. In ŉ onlangse besprekingsdokument vir die Afrikanerbond – “Taal en Kultuur in die Suid-Afrikaanse grondwet” skryf prof Marinus Wiechers “Die individu is die belangrikste kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur ŉ groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ŉ besondere kultuurgemeenskap beleef word. So ŉ kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur ŉ gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis.” Selfs Unesco wat poog om ŉ internasionale handves van kulturele diversiteit daar te stel beskou kultuur as eiesoortige eienskappe wat geestelike, materiële, intellektuele en emosionele kenmerke van ŉ samelewing of ‘n sosiale groep omvat, en dat dit benewens kuns en letterkunde ook lewenstyle, maniere van saamleef, waardestelsels, tradisies en oortuigings insluit. Duidelik is dr Croucamp ŉ ander mening toegedaan en gun hy nie aan Afrikaners ŉ kultuurerfenis of belewenis nie.

Die gevolgtrekking is dus redelik eenvoudig: Staatkundig is ek ‘n Suid-Afrikaner eerste, taalkundig is ek Afrikaans eerste, kultureel is ek ‘n Afrikaner eerste. Die begrippe staan nie teenoor mekaar nie en is die een nie afhanklik van die ander of ondergeskik nie.

Dr Croucamp se standpunt is ŉ belediging vir honderde duisende Afrikaners wat die volste reg het om as deel van die Afrikanerkultuur, neffens ander kultuurgemeenskappe, hulle Suid-Afrikanerskap uit te leef en te vier. Dit mag sekere politici en hooggeleerde individue dalk nie aanstaan dat ŉ beduidende groep in Suid-Afrika enersyds trots is op hulle Afrikanerskap en andersyds dankbaar is om deur hulle taal deel te wees van so ŉ groot taalgemeenskap nie.

Diegene wat ŉ weersin het in Afrikaners en dit as sodanig uitspreek moet self die vraag oor rassisme beantwoord. Om trots te wees op jou Afrikanerskap, stel jou juis in staat om ander kulture te waardeer en te respekteer en dit is presies wat ons wil bevorder.

Die Afrikanerbond se visie is As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika. Ons glo dat baie Afrikaners konstruktief en positief wil meewerk aan ŉ suksesvolle Suid-Afrika, daarom is ons deel van die gesprek en daarom soek ons saam na oplossings, saam met die regerende party en ook in gesprekke met die opposisie. Ons is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika en sal steeds voortgaan om ons bydrae op alle gebiede soos landbou, ekonomie, onderwys en vele meer te lewer. Ons sal ons nie deur verwronge idees van stryk laat bring nie.

Argeologie onder die water
Vergeet eers van Atlantis. Daar is oorgenoeg ander plekke wat nou onde3r die water lê wat ondersoek kan word, soos die Middeleeuse Engelse dorp Dunwich wat nou onder die see lê. En verder noord lê ook nog Old Kilnsea en Eccles.

Maar dis tien keer duurder om ondersee te graaf as aan land, en daarom word verskeie vorme van moderne tegnologie ingespan om te soek na kerke, strate en ander oorblyfsels van menslike bewoning wat nou onder die water lê.

En die Noordsee lewer al hoe meer artefakte op uit tye wat tot moontlik ‘n 100 000 jaar terug strek. Trouens, groot moeite word gedoen om ‘n topografiese kaart op te stel van die “Verlore land” wat Engeland nie net met Europa nie, maar selfs Skandinawië verbind het.

Argeologie onder die water het onlangs weens beter toerusting werklik ‘n erkende vertakking van argeologie geword, en intussen ook al gespesialiseer. Dit behels veel meer as die ontdekking en bestudering van ou skeepswrakke, omdat groot dele van die oseaan voorheen weens lae seevlakke bewoon was, en nou onder water is.

Trouens, lae seevlakke het dit moontlik gemaak dat mense na die Amerika’s kon verhuis, en sekere diersoorte soos die kamele en bisons ook na ander kontinente kon verhuis. Soms, soos na Australië, het stukke see oorgebly wat nog ‘n stukkie seevaart nodig gemaak het. Wat egter duidelik is, is dat die eerste Australiese inboorlinge dié vasteland moes bereik het lank voor mense die Amerika’s kon bereik het, die eerste waarskynlik so 50 000 jaar gelede, en daarna nog wat “deurgesyfer” het soos die mense wat die dingo in die laaste 5 000 jaar gebring het. Die inboorlinge het skynbaar hul seevaartvermoë verloor, en Tasmanië droogvoets bereik. Na die seevlak gesyg, en die inwoners van Tasmanië “vasgekeer” het, kon die vasteland en selfs nabygeleë eilande nie weer bereik word nie. Waar die inboorlinge wel seevaartvermoëns gehad het, is dit blykbaar eers later ontwikkel.

Die interessantheid is dat sommige bronne nog meen die vroegste Australiese inboorlinge tot Homo erectus behoort het. Genetiese toetse toon aan dat daar wel, soos met Europeërs, ‘n klein teenwoordigheid van Neandertal is, asook Denisovan, die afsonderlike menstipe wat onlangs deur DNS-toetse van ‘n pinkie uit ‘n Siberiese grot geïdentifiseer is.

Hoewel argeologie en paleontologie net vir ‘n breukdeel van die aarde se bestaan oorvleuel, kom daar daagliks nuwe ontdekkings aan die lig wat fraksies diepe in die paleontologie se “domein” in strek.

Die vraag oor wanneer die eerste mense die Amerika’s moes bereik het, lewer gereeld ouer en ouer antwoorde op. In die suide van Suid-Amerika is nou reeds bewyse van menslike aktiwiteite van 14 000 jaar gelede gevind, wat min of meer ooreenstem met die oudste aanvaarde bewyse van menslike besetting in Noord-Amerika. Sou dit wees dat beide kontinente byna gelyktydig beset is, sou dit net kon gebeur as die suidwaartse migrasie eers plaasgevind het langs ‘n strook wat nou onder die see lê. Daar is toenemende bewyse dat dié migrasie met bote, of minstens deels met bote geskied het.

Om die binneland te bereik sou weens ‘n groot ysversperring byna onmoontlik wees, sodat dit nou ook lyk of die meer noordelike aanvanklike vestiging van Noord-Amerika uit die suide kon plaasgevind het – na die migrerendes onderom die suidelike punt van die ysversperring getrek het.

Dikwels is daar van die mense van toet self geen oorblyfsels nie, maar wel van hul gereedskap, en van dié gereedskap se merke op diere waarop hulle jag gemaak het, of geaas het.

Dele wat later onder water beland, word dikwels beter bewaar, omdat omstandighede daar kan ontwikkel waar min suurstof in die water is. Onderwatergrotte in Meksiko se Yucatánskiereiland is ‘n goeie voorbeeld. Die area is grootliks kalksteen, en dit is, soos die Kangogrotte, geneig om baie diep grotte, en baie daarvan te vorm. Tussen 10 000 en 14 000 jaar gelede, toe die skelette wat nou in die grotte is daar beland het, was dit egter droë grond. En nou het so ‘n skelet voete gekry – is blykbaar gesteel.

‘n Geraamte wat vroeër gevind is, het kenmerke van Indonesiese en Suid-Asiatiese kenmerke gehad, wat ‘n klomp vrae oor die herkoms van die oudste Amerikaanse bevolkings laat ontstaan het, en wanneer hulle daar gekom het. Voorheen is geglo dat die Clovis-kultuur van sowat 13 000 jaar oud die oudste menslike nedersetting verteenwoordig. Amerikaanse hoofstroom-argeologie is bekend vir hul konserwatiewe benadering – met goeie rede – en om van geykte opvattings af te wyk, verg baie onomstootlike bewyse. Die pre-Clovis-gedagte vat egter algaande meer en meer pos, en die bewyse stapel op.

Verlede jaar het argeoloë aanspraak gemaak dat hul klipwerktuie in sentraal-Texas gekry het wat 15 500 oud is, en dus Clovis met 2 500 troef. Dié werktuie wat onder die Clovis-laag gekry is, is ruwer en kleiner as Clovis, maar die argeoloë meen dit kon nietemin wees dat Clovis later hieruit ontwikkel het.

Terwyl argeoloë en genetici die herkoms van die eerste Amerikaners uitpluis, lyk dit al meer na ‘n uitgemaakte saak dat minstens twee onverwante migasiestrome sowat 15 000 jaar gelde uit Siberië moes gekom het, nadat ‘n groep reeds duisende jare lank in relatiewe isolasie voor die deurtog aan die Beringsee gewoon het. ‘n Uitsondering is die Na-Dene-groep wat vermoedelik eers sowat 6 000 tot 10 000 jaar gelede Noord-Amerika bereik het – dalk per boot. Daar is ‘n sterk saak uitgemaak dat die Na-Dene-tale verwant is aan ‘n groep Siberiese tale waarvan Ket steeds gepraat word.

Onlangs het twee wetenskaplike weer lewe geblaas in die teorie dat mense uit Europa Noord-Amerika sowat 22 000 jaar gelede kon bereik het, en weer het die see die eerste artefak opgelewer. ‘n Treiler het in 1970 ‘n mastodontand (oer olifant) uit see by Virginia uit die Atlantiese Oseaan geskep. Saam met die tand was ‘n klipmes se lem. Die tand, het toetse getoon, was 22 000 jaar oud. Dié vonds was 100 kilometer van die teenswoordige kus, en sowat 70 meter diep. Teen die einde van die laaste ystydperk was dit droë land, naby die kus. Sedertdien is nog klipwerktuie uit die se gehaal, en ‘n boek is onlangs hieroor gepubliseer.

Hierdie oermense, wie se werktuie met ‘n groep wat in Spanje en Frankryk gewoon het ooreenstem, sou al langs ‘n ysplaat wat in die ystydperk langs die Noord-Atlantiese oseaan gestrek het, beweeg het en baie soos Eskimo’s geleef het.

Genetiese toetse lewer egter nog geen stawing op nie, anders as dat die eerste Amerikaners uit ‘n bevolking stam wat nie lank voor 15 000 jaar gelede oor die Beringsee gekom het nie.

Terwyl argeoloë dikwels van onregstreekse metodes gebruik moet maak om af te lei dat voorsate ‘n vorm van seevaart geken het, omdat dit byna onmoontlik is om klipwerktuie uit dae van laer seevlak te vind, is wel artefakte uit Valsbaai gehaal. In Suid-Amerika word dit afgelei van die ontleding van reste van byvoorbeeld seewier, waaruit dit blyk dat hierdie migrante verskillende soorte seewier as eetbaar moes geken het, en ook waar om dit te oes.

Baie navorsing word onder meer gedoen om te bepaal of die vroeë emigrante uit Afrika ook Arabië via die Horing van Afrika kon bereik het, en dus seevaart moes bemeester het, al was die see toe veel smaller as nou.

Ook Neandertal, minstens soms, het skynbaar die vermoë gehad om watermassas oor te steek. Kreta, wat al miljoene jare gelede ‘n eiland was, lewer klipwerktuie op wat sowat 125 000 jaar oud is, dus voor sapiens uit Afrika gekom het. Sou dit die werk van Neandertal wees, het hulle die eiland waarskynlik eerder met primitiewe vlotte as bote of kano’s bereik.

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Minderheidsregte en die ANC – en die getwiet van modelle
In ‘n artikel in Media 24 se dagbladpers word na die onlangs-gestigte Solidariteitbeweging gekyk. Dit kan gelees word by

http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2012/05/10/VB/9/solidar.html

Die verslaggeefster het onder meer ‘n draai by die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantshe, gemaak en daar na die ANC se standpunt oor minderheidsregte uitgevra. Sy antwoord was ‘n onheilspellende stelling dat dit nie beskerm behoort te word nie – in elk geval nie ten koste van ‘n meerderheid nie.

Minderheidsregte, per definisie, kan nie die regte van meerderhede bedreig nie. Minderheidsregte bestaan juis om die minderhede teen ‘n diktatuur van die meerderheid te beskerm.

Tweedens bind die grondwet Suid-Afrika aan internasionale verdrae wat dit onderteken het, asook aan die internasionale reg. Onder die belangrikstes is die VN se Deklarasie vir die Regte van Persone wat aan nasionale, etniese, godsdienstige en taal-minderhede behoort, en die Deklarasie oor die Regte van Inheemse mense. Hulle is te lese by:

Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities en die Declaration on the Rights of Indigenous Peoples.

Ook in die grondwet is verskeie aanduidings dat minderhede sekere regte het.

Dit is positiewe regte, dws regte wat pertinent aan minderhede toegeken word. Die ANC kan dit slegs ontneem deur die grondwet en sy verbintenis tot internasionale verdrae te skend. Eersgenoemde deklarasie laat geen twyfel nie – dit is regte wat lande moet (Engels: shall) handhaaf.

Die finale kwessie ter tafel is dat Mantashe verkeerdelik minderheidsregte aan ras gelykstel. Sy leefwêreld vier binnekort die mondigwording van ondergang – die laaste apartheidswet is oor ‘n maand of wat 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder. Boonop is die ANC, as die argitekte en oprigters van neo-apartheid waarin ‘n meerderheidsras wetlik en voortdurend bevoordeel word, en minderhede teen gediskrimineer word. Dit kwalifiseer nie eens om onder die gelaaide term, “affirmative action” geklassifiseer te word nie, want dié begrip word wêreldwyd ook aan die beskerming van minderhede gekoppel.

En met die New Hampshire-saak oor die bevordering van brandweermanne is selfs hieroor perke gestel deurdat affirmative action nie tot ‘n verlaging van lewensbelangrike standaarde en vaardighede mag lei nie.

Met positiewe minderheidsregte is die raskwessie byna altyd uitgesluit. Dit kan byvoorbeeld nie as norm gebruik word om ‘n volk mee te definieer nie (vgl ook die HAT se definisie van volk), en die regte rondom ras staan byna altyd as die sogenaamde negatiewe regte bekend, soos ook in ons grondwet. Die grondwet stel onder meer ‘n verbod op die onbillike diskriminasie teenoor iemand op grond van ras, en die verbod op haatspraak sluit ook ‘n kategorie oor ras in. Die debakel oor die koppe van twee modelle, die een wit wat die k-woord ingespan het, die ander swart wat geskryf het sy wens alle blankes is dood, is voorbeelde hiervan. Hier hou dit geen verband met minderheidsregte van enige aard nie.

‘n Voorbeeld waar dit wel met minderheidsregte verband hou is die haatspraak-hofsaak wat Afriforum en TLU-SA teen Julius Malema aanhangig gemaak en gewen het. In hierdie saak het die ANC sy volle gewig agter Malema ingewerp, en ook die saak op appèl geneem.

Dit sal Mantashe ook loon om ‘n oomblik te besin oor hoe die raskwessie aanwesig is in die hofsaak wat teen die staat aanhangig gemaak is om die regering te dwing om die taalwet op die wetboek te plaas, soos wat die grondwet vereis. Selfs die kwessie dat dié hofsaak deur ‘n Afrikaanssprekende aanhangig gemaak is, kan nie na ras herlei word nie omdat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie. Dié feit is alom bekend omdat dit deurlopend gebruik word in argumente teen die verengelsing van Maties.

Mantshe se opmerking kelder terselfdertyd die sin daarvan om dié week met ‘n groot aantal Afrikaanse kultuurleiers te gepraat het. Kultuurregte maak immers ‘n baie belangrike onderdeel van minderheidsregte uit. Deur minderheidsregte so van die tafel te vee, laat by wyse niks op die tafel oor om met kultuurleiers gesprek te voer nie.

Mantashe moet deur die ANC gerepudieer word, en die Solidariteitbeweging moet om verskoning gevra word. As Suid-Afrika nie die internasionale reg en sy verbintenis tot verdrae respekteer nie, kan dit nie kla as Suid-Afrika sy internasionale geloofwaardigheid verbeur nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Herrie se kerrie: Hondelewe in die Oos-Vrystaat
‘n Brief in Vrystaat waarin ‘n honde-liefhebber op die lot van Oos-Vrystaatse honde, veral korthaarbrakkies, in die winter wys, het Herrie se gedagtes wyd laat loop.

Die briefskrywer skryf sulke honde kan nie in die winter buite slaap nie, en moet bedags in die sonnetjie buite kan gaan lê. En genoeg oefening en geselskap kry. Dit klink mos na die regte soort hondelewe vir die mens se beste vriend.

Vanoggend tref dit Herrie weer hoe hondelewens die afgelope dekade of wat verander het, en dit het nie vreeslik baie met wat honde maak of nie maak nie te make.

Dink net, wanneer laas het u die grootste vragmotor die straat sien afry, gevolg deur die buurt se kleinste wolhaargedoentetjie wat die lorrie jaag, vreeslik tande uitpak en verwoed grom en blaf? Dis ‘n grits, grits, doef, tjank van naels oor die teerpad sleep en neersloeg in slaggate.

Nee, as ‘n hond sonder leiband nou op straat is, is dit omdat hy op ‘n manier uit sy eienaars se huisfort ontsnap het, en verdwaal is. Daar word gou rondgebel oor wie ‘n hondjie vermis, en boodskappe word oor die radio uitgesaai, pamflette word uitgedeel.

En Herrie kan nie eens meer onthou wanneer hy laas ‘n buurbrak se slagyster op die grasperk moes gaan opruim nie.

Maar in die Herries se straat is daar ‘n groterige hond wat nog op sy eie op straat kom. Eers was hulle twee, maar nou net een want dis ‘n baie besige straat. En dié honde is te groot om, soos Herrie al gesien het hoe ‘n paar katte maak – die katte klim aan die oorkant in die stormwaterinlaat in, en oomblikke later weer by die stormwaterinlaat aan die kant uit. Hulle span die waterpyp as duikweg in.

Die hond wat so op straat kom, kry dit reg omdat die hek van sy mense nie behoorlik kan toemaak nie. Sy maat het sommer oor die muur gespring, en so een keer bo-op ‘n vrou beland wat op die sypaadjie geloop het, en plat teen die grond gespring is.

Die oorlewende hond het ook al ‘n student wat verbygestap het, gebyt.

Maar uit Herrie se kleintyd ken Herrie van een ding – as ‘n hond storm, maak of jy ‘n klip optel en hom gooi. Herrie het nog nie ‘n hond gekry wat nie vir daai een val nie. En daai brak is verskriklik bang hiervoor. Dalk het die feit dat hy al met regte klippe gegooi is, iets daarmee te make, want Dawie se sypaadjie oorkant die straat het nie meer ‘n inkelte klip nie. En Herrie het self in die dae van klippe ‘n paar missiele gelanseer, eintlik raaksiele want daai klippe het behoorlik teen die hek weergalm.

Uit eie ervaring weet Herrie ook dat honde universeel val vir dié klipgooi-foefie.

Jare gelde het Herrie as student saam met nog ‘n student by gasouers in Bijlmermeer buite Amsterdam tuisgegaan en sommer die eerste oggend op vreemde bodem saam met die gasouers se dogter, en hul poedel, Panda ‘n wandeling onderneem. Skielik bars ‘n steekhaar tussen die bossie uit, en skraap vir Panda. Instinktief maak Herrie of hy ‘n klip optel, en omdat die steekhaar steeds kom, die klip na hom gooi. Toe verstaan die brak “Afrikaans”, en vlieg stompie tussen die bene kortom, eenkant om die bosse. Om die ander kant kom die brak se woedende eienares, en gryp Herrie voor die bors.

Omdat Vrystaat ‘n gesinskoerant is, kan Herrie nou nie alles herhaal van wat sy gesê het nie. Boonop, vir ‘n eerste dag in Nederland is Herrie se ore ook nie so lekker ingestel vir mense wat Hollands in plaas van keellangs praat nie. Herrie maak darem iets uit dat sy objeksie het dat haar hond met “ein stein gewerfen” is, of so iets. Heel duidelik ken die Nederlanders nie die kultuur van maak of mense honde met klippe gooi nie.

Herrie besef hy gaan geklap word, en besin intussen oor die nodigheid al dan nie om te keer. Maar sy het vreeslike gespierde voorarms, kan Herrie sien terwyl hy geskud word. Maar voor die finale besluit geneem kan word is die gasouers se dogter by en gryp die ontstoke honde-eienaares. Oor dié relletjie laat Herrie liefs die sluier sak, ander moet dié vertelling nog ‘n ouderdomsbeperking vir geweld ook kry.

Die ergste, daar was nie eens “stene” in die omgewing nie, ook nie eens klein klippies nie. Herrie het eers later besef die Nederlanders noem ‘n klip ‘n “stein” en spel dit “steen.”

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Sondaars en e-tollenaars en die sondebok
Hoewel Sanral formeel aanvoer dat sy uitvoerende hoof, Nazir Alli, om persoonlike redes bedank het, is die algemene gewaarwording dat hy na die hofuitspraak in sy eie swaard geval het.

Suid-Afrika ervaar te min dat die leierskap verantwoordelikheid neem vir dit wat in hul departemente en organisasies verkeerd loop. Suid-Afrikaners staan soms verstom oor die redes waaroor ministers oorsee die tuig neerlê, soos ‘n minister van vervoer wat bedank na ‘n lughawe-ongeluk wat op geen logiese manier voor sy deur gelê kan word nie.

Sulke bedankings word nie altyd aanvaar nie, maar die beginsel is duidelik dat mense bereid is om pa en ma te staan vir dinge wat verkeerd gaan. Dit dra boonop by daartoe dat die regeringshoof die ongemaklike taak het om ‘n minister af te dank.

Die prentjie in Suid-Afrika lyk baie anders. Die lysie van ministers wat onder ekstreme omstandighede afgedank is, raak wel langer, maar die lysie van hopeloos onbekwame ministers wat as lojale kameraad tot nadeel van die land in die amp gehou word, raak nog vinniger langer.

Dit strek verder terug as die Manto’s en Bengu’s, tot waar promises gemaak is, lapa-diëte “voorgeskryf” is ‘n grensbasis glo so dronk soos ‘n spook besoek is, en die derdespan se reserwes as Kemptonparkse onderhandelaars ingespan is soos ‘n bekende rubriekskrywer dit in ink verewig het.

In Alli se geval is daar konsensus dat hy moes bedank, of so nie die trekpas moes kry. Die lys “aanklagte” teen hom is ellelank, waaronder ‘n groot afwesigheid van deursigtigheid en al hoe meer goggas wat nou uit die geroeste blikkie begin kruip oor beweerde onbehoorlike bevoordeling. Met die ondersoek na die omstrede wapentransaksie wat pas begin het, word nou bewerings gemaak dat maatskappye met bande met van die wapenmaatskappye weer mildelik bakhand-ontvangers is.

Op die oog af lyk dit of daar dié keer nie weer so ‘n uitgerekte stryd gaan wees om agter die kap van die byl te kom nie. Volgens die hofbevel moet relevante inligting aan die aansoekers beskikbaar gestel word, en behoort ‘n fyn kam minstens sommige distels uit die wol te kan kam. Maar hiervoor het die burgerlike organisasie wat die aansoek voor die hof gebring het, Outa, nou met ‘n regsrekening van miljoene rande.

Alli, as uitvoerende hoof, het op die oog af alles in sy vermoë gedoen om die deksel op die skynbare heksebrousel te hou. En dit lei nou tot ‘n reeks vrae:

Het hy in sy swaard geval, of verlaat hy bloot die skip voor die eintlike bom bars?
Wat van die verantwoordbaarheid van die betrokke ministers? Afriforum meen die minister van Vervoer, S’Bu Ndebele en sy voorganger, Jeff Radebe, het in hul politieke oorsigrol misluk en moet ook verantwoordelik gehou word.
Deur nie die ministers af te dank nie, of ten minste tot na die ondersoeke afgehandel is te skors nie, sal die vraagtekens oor die spesiale taakspan onder die leiding van die adjunk-president onder ‘n wolk van wantroue verkeer. Gaan dit werklik oor die vind van die beste weg uit die tameletjie, of gaan dit oor die verdoeseling oor bande tussen Sanral en persone met bande met Chancellor House?
Die onopgeloste tameletjie word goed deur adv. Anton Alberts van die VF Plus saamgevat: “Mnr. Alli se bedanking laat die vraag ontstaan oor watter inligting hy beskik aangaande die e-tostelsel se kontrakte wat aan internasionale maatskappye toegeken is en wat ook betrokke was by die wapenaankope-transaksie van die regering in 1999. Die feit dat hy nie meer die uitvoerende beampte van Sanral sal wees nie, onthef hom nie van die verantwoordelikheid om alle inligting oor die e-tolstelsel se kontrakte bloot te lê nie. Daar kan ook met reg gevra word of mnr. Alli nou deur die regering opgedis word as die enigste persoon wat aanspreeklik gehou kan word vir die e-tolstelsel-probleem.”

In dié stadium lyk sake nie belowend oor in hoe ‘n mate die ANC bereid sal wees om die sluier te lig nie. Die Parlement se komitee vir finansies se vrae aan Tesourie oor die geldelike implikasies, is deur die voorsitter kortgeknip, en moet nou deur geskrewe vrae vervang word. Die DA en ACDP het ongelukkigheid uitgespreek oor die parlement verhinder word om sy oorsigrol te speel.

Verskeie kommentators wys daarop dat die opstand teen die e-tolstelsel ‘n simptoom is van ‘n burgerlike belastingopstand. Terwyl die burgery raap en skraap om liggaam en siel aanmekaar te hou, is daar geen einde aan berigte oor reuse bedrae wat vermors word, deur korrupsie in bodemlose putte verdwyn en van selfverryking nie. Die Ontvanger is bekommerd dat hierdie berigte tot weerstand teen die Wet van Transvaal sal lei. Rhoda Kadalie het pas in ‘n rubriek geskryf beheer oor die ANC is:… gelyk aan beheer oor die ekonomie en toegang tot kitsrykdom.”

Alli se bedanking is slegs ‘n nietige ratjie in die ‘n groot masjien wat onklaar geraak het. Met sy bedanking gaan alles nie oornag in maanskyn en rose omgetower word nie. Iemand is nog besig om die land van sy toekoms te beroof, en so die bevolking tot ‘n eietydse ekonomiese slawestand te verlaag.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Grondwetregters “aangekla”
Baie luisteraars na RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, het waarskynlik onthuts regop gaan sit toe een van die deelnemers, dr. Piet Croucamp, sê dit is geen uitgemaakte saak dat die grondwetlike hof die omstrede inligtingswetsontwerp as ongrondwetlik sal verwerp nie. Die redes vir sy stelling is selfs nog meer onheilspellend: Met die saak van die Skerpioene was die verdeling tussen die regters 5 – 4. Van die regters neig om politieke beslissings eerder as grondwetlik-juridiese beslissings te maak, en as die president die twee vakatures met ja-broers vul, kan die wet die toets van grondwetlikheid slaag.

Die implikasies is legio. Die howe, met die grondwetlike hof as finale instelling, word wyd voorgehou as die laaste bastion van die wigte en teenwigte wat die grondwet moes verskans.

Dit is nog meer ontstellend dat die FW de Klerkstigting die ANC daarvan beskuldig dat dié party op 5 Maart vanjaar laat blyk het dat dit die nasionale akkoord waarop die grondwet geskoei, is of minstens dele daarvan, nie meer as bindend beskou nie.

Voorts is daar ‘n veldtog teen die oppergesag van die grondwet, wat deur die president self gelei word, terwyl van sy ministers dit duidelik maak dat die Vryheidsmanifes, beter bekend as die Freedom Charter, swaarder weeg as die grondwet. Dieselfde ministers lê ‘n eed van getrouheid aan die grondwet af, en sou in enige beskaafde land met sulke opmerkings die trekpas gekry het.

Maar hoe geldig is die kommer oor die grondwetlike hof?

Vroeër het die FW de Klerkstigting in ‘n verklaring enkele sake genoem wat die Stigting meen, waarin die grondwetlike hof in sy uitsprake gefouteer het. Daar is ander tekens – soos die minderheidsuitspraak in ‘n regterspaneel van twee regters, deur regter Kate O’Regan oor die onteiening van padreserwes.

Een van die vroeë gevaartekens was die bekende uitspraak van City Council of Pretoria v Walker, in 1998. In hierdie saak het die meerderheid regters beslis dat plaaslike owerhede wat blanke inwoners gemeterde tariewe, en swart inwoners in die townships vaste tariewe laat opdok, ongrondwetlik optree. Die saak het gevolg na ‘n aantal blankes juis die grondwet se verbod op onbillike diskriminasie gebruik het om ook die Wet van Transvaal deur vaste tariewe na te kom.

Regter Albie Sachs het egter ‘n minderheidsuitspraak gelewer, wat ook sou kwalifiseer as ‘n ANC-politiek-korrekte uitspraak. Hierdie uitspraak word in daardie kringe steeds as ‘n model-uitspraak voorgehou, en dikwels word verswyg dat dit ‘n minderheidsuitspraak is.

Die saak kan gelees word by http://www.saflii.org/za/cases/ZACC/1998/1.html

Van regter Sachs moet egter ook gesê word dat hy nie net op die Walker-saak beoordeel kan word nie. Sy bydraes tot regstellende geregtigheid in die Ubuntu-konteks word as beduidend beskou, en die beginsel van natuurlike geregtigheid het by hom baie swaar geweeg. Hy het ‘n dinamiese konsekwentheid hiermee deur sy uitsprake aan die dag gelê. Sy fokus op ras eerder as die individuele omstandighede het egter sy werk beïnvloed, en word nou erg gemanipuleer om ‘n pseudo-jutdiese regverdiging vir die regering se neo-apartheid aan te bied.

Of Croucamp wolf-wolf skree is vroeg om te sê. Die grondwetlike hof hét al indrukwekkende uitsprake gelewer, waarvan baie, soos die bekende Modderklipsaak, die regering met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Rigtinggewende sake wat die publiek se oog tref, moet nog volg na regter Magoeng Mogoeng as hoofregter aangestel is.

Sou die grondwetlike hof ‘n politieke rubberstempel word, tuimel die laaste wig van die wigte en teenwigte.

Wat opnuut die feit onderstreep dat wanneer ‘n grondwet geskryf word, dit behoorlik gedoen moet word. Prof. Marinus Wiechers, een van die argitekte van die huidige grondwetlike bedeling, het pas in ‘n onderhoud die volgende te sê gehad: “Die huidige Grondwet kon doelmatiger gewees het. Eerstens kon taalregte doeltreffender verskans gewees het. In die Interim-Grondwet was daar ’n klousule dat die tale se bestaande status nie mag verander nie. Dis toe uitgehaal.”

‘n Doelmatiger grondwet is ‘n swakheid as die grondwetlike hof deur goeie, onafhanklike regters oorheers word. Politieke aanstellings verongeluk daardie luukse. En, sou Croucamp reg wees, is Suid-Afrika nie uniek nie. Die VSA se geskiedenis is bevlek hiermee, waar konserwatiewe regters in die Supreme Court konserwatiewe presidente volg, en liberale regters weer liberale presidente. Hoogstens is daar ‘n sleureffek ingebou, sodat George W. Bush waarskynlik stilweg verlig is dat hy nie genoeg tyd gehad het om die hof met regters te laai wat die Wade v Roe-saak kon omkeer nie. Met daardie uitspraak is aborsies op aanvraag gewettig, en het dié saak sedertdien die fokus van pro-lewe lobbies.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

TLU SA nie betrokke by toe-deur gesprekke met ANC
TLU SA het kennis geneem van die ANC-leierskap om met Afrikaanse groepe in gesprek te tree oor maniere om Afrikaanses nader aan die ANC te kry, terwyl TLU SA homself meer verbind voel tot die Afrikaner-groepering en die waardes wat hul voorstaan.

Vir ’n geruime tyd probeer TLU SA met regeringsleiers in gesprek tree oor sake wat landbou in Suid-Afrika raak. TLU SA poog om daaroor met die land se President in gesprek te tree, en daar word gepoog om afsprake te bekom met die Ministers van Waterwese, Vervoer en Polisie, asook met die Kommissaris van polisie. Hierdie gesprekke het ten doel om knelpunte te hanteer wat boere ondervind.

“Ons pogings tot hierdie soort gesprekke was tot dusver vrugteloos, en lei noodwendig daartoe dat daar ’n gevoel by georganiseerde landbou ontstaan dat die Regering geen gevoel vir die landbouers en hulle probleme het nie. As daar vervreemding ontstaan het, is dit te danke aan die ANC self, en moet hy sy rol as verantwoordelike regering begin nakom. Dit sal die eerste stap wees vir die herstel van vertroue,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes.

“Solank die regering nie met ons wil praat oor landbousake nie, stel ons nie werklik belang in gesprekke agter geslote deure met ander ANC-rolspelers nie. Daardeur sal ons net ons eie mense van ons vervreem. TLU SA se primêre doel is om op te staan vir sy lede en die landbougemeenskap in die algemeen,” sê mnr. Meintjes.