Subscribe by Email

Falklandeilande: Twis nou op die spits?

Vanjaar, dertig jaar na die Falklandoorlog, neem die wêreld weer deeglik kennis van die soewereiniteitsstwis tussen Argentinië en Brittanje oor die gebied.
Om die kwessie eens en vir altyd te probeer bylê, gaan die Britte volgende jaar ‘n referendum onder die eilande se minder as 3 000 inwoners te hou. Hiervan woon meer as 2 000 in die hoofstad, Stanley.
Die Argentyne is min beïndruk deur die referendumpraatjies, aangesien die Britte tydens hul oorname van die eilande doodgewoon die Spaanssprekende bevolking van die eilande afgesit het. En dié inwoners se nasate het nie stemreg in die referendum nie.
Die dispuut het enkele jare gelede weer begin opvlam toe dit geblyk het dat daar soektogte ter see gaan wees vir olie. Argentinië het met skadevergoedingseise teen firmas gedreig wat met eksplorasie voortgaan terwyl daar ‘n twis oor die soewereiniteit is.
‘n Tweede komplekse probleem is dat die Falklandeilande op die Suid-Amerikaanse, en spesifiek, Argentinië se kontinentale vlak geleë is. Benewens die gewone grense van gebiedswater, is daar nog die tweede stel grense – dié op die kontinentale bank. Grense op die kontinentale vlak kan baie belangrik word soos wat met die Europese kontinentale bank gebeur het toe olie in die Noordsee ontdek is. In die skikking, wat op die lengte van die lande se seegrense geskoei was, het die Britte die leeue-aandeel van die Noordsee-olie gekry.
Argentinië span satelliettegnologie in en beskuldig van die ekspolorasieskepe dat hulle Argentynse gebiedswaters betree, iets wat die Britte as tipiese Argentynse propaganda afmaak.
Britse olie-eksplorasie in die see by die Falklandeilande het Argentinië twee jaar gelede reeds die harnas ingejaag, en Argentinië het toe die steun van bykans alle Latyns-Amerikaanse lande gekry, en die Argentynse pers het bespiegel dat die saak ‘n draai in die wêreldhof in Den Haag kan maak.
Volgens die Argentyne erken die VN die status van die eilande as “dispute gebied” en daarom mag niks gedoen word om die status aan te tas alvorens die saak bereg is nie. In wese kom dit daarop neer dat Argentinië meen die Britte moenie toegelaat word om potensiële rykdomme in te palm, terwyl dit later kan blyk dat dit eintlik Argentynse olie is nie.
Brittanje, weer, meen hul aanspraak op die eilande is bo dispuut verhewe.
Maar is die saak so eenvoudig? Het die Argentyne ‘n geldige aanspraak op die Islas Malvinas soos die Argentyne hierna verwys.
Die ironie is dat die Argentynse naam van Franse herkoms is. Dit is afgelei van ‘n agtervoegsel vir die Bretonse hawe Saint Malo, nadat die Franse in 1764 ‘n kolonie aan die oostekant gestig het.
‘n Jaar later, onbewus van die Franse teenwoordigheid, het ‘n Britse ondekkingsreiseger die gebied besoek en namens Brittanje daarop aanspraak gemaak. In 1766 is ‘n Britse nedersetting by Port Egmont opgerig.
Ook in 1766 het die Spaanse en Britse vlote, wat beide gestuur is om soewereiniteit oor die strategiese eilande oor te neem, byna aan mekaar gespring. Die Franse het ingestem om ten gunste van Spanje die gebied te verlaat, en kompensasie is aan die Franse betaal.
Die Britte het egter in Port Egmont aangebly tot hulle in 1776 die eiland tydelik verlaat het, maar dit duidelik gemaak het dat hulle steeds aanspraak maak op die gebied.
Spanje het die eilande tot 1811 vanuit Buenos Aires geregeer. Onder Napoleontiese druk en die Suid-Amerikaanse onafhanklikheidstryd het Spanje aan die eilande onttrek, maar ook nie sy aanspraak laat vaar nie.
In 1820 is namens die Verenigde Provinsies van die Rio de la Plata (voorloper van Argentinië) op die eilande aanspraak gemaak.
In 1833 ‘n Britse oorlogskip opgedaag en aangedring dat die Argentynse vlag gestryk, en met die Britse vlag vervang word. Die Argentyne moes padgee omdat hulle nie ter see teen die Britte opgewasse was nie. Brittanje het die eilande eers in 1841 formeel gekoloniseer.
Nou, 30 jaar nadat die Argentyne kortstondig die Islas Malvinas by die Britte afgeneem en opnuut deur die Britse seemag verjaag is, is die vet weer behoorlik in die vuur.
Sinici wonder ook soms of Argentinië werklik kan bekostig om weer soewereiniteit oor die eilande te neem. Deur die jare het die eise oor die besit van die eilande ‘n baie handige verenigende faktor geword terwyl die land deur allerlei probleme en krisisse geteister is.
Die ironie is dat die Falklandeilande voor kontinentale drywing eerder deel van die Afrika-kontinent uitgemaak het, en ongeveer teenoor Plettenbergbaai geleë was.
Herman Toerien