Subscribe by Email

Facebook vir kieserregistrasie in Washingtonstaat

Washington, die Amerikaanse deelstaat in die noordweste van die VSA, se kiesers kan van volgende week af deur Facebook registreer. Dit is die eerste deelstaat wat dié gerief kry.

Die staat se sowat 3,7 miljoen reeds-geregistreerde kiesers kan dan ook hul besonderhede via Facebook opdateer.

Aanlyn-registrasie in dié staat is reeds in 2008 ingestel, en sowat ‘n halfmiljoen kiesers het reeds so geregistreer. Facebook belowe dat die diens wat hulle ook nou instel, nie die persoonlike besonderhede van die mense wat daaraan deelneem  sal bekom nie – die besonderhede gaan slegs na die staat se registrasie-owerhede.

Talle instansies het reeds met die oog op die Amerikaanse presidentsverkiesing later vanjaar veldtogte geloods om mense aan te moedig om as kiesers te registreer. Pres. Barack Obama en die Republikeine se kandidaat,  Mitt Romney, loop volgens peilings kop aan kop.