Subscribe by Email

Europese kakafonie op spits

Europese kakafonie vandag op spits

Senuagtigheid dat die Italiaanse ekonomie, een van Europa se grotes, kan glip en ‘n domino-effek op Europa kan uitoefen, word vandag op die spits gedryf wanneer die president van die Europese Kommissie, ‘n spoedberaad in Brussel hou.

Hoewel baie ekonome Italië al ‘n geruime tyd by die Europese lande insluit wat ‘n skuldkrisis beleef, die sogenaamde Pigs-lande wat met Italië ingesluit as die Piigs-lande bekend staan, het ‘n paar faktore die afgelope paar dae die senuagtigheid verhoog. Die Italiaanse effektebeurs het ‘n swart Vrydag beleef, rentekoerse is die hoogte in, en die regering moet binne maande 70 miljard Euro’s leen om staatskuld “af te los.”

Boonop, berig De Standaard, het die omstrede premier Berlusconi ‘n aanval op die minister van Ekonomiese Sake, Giullio Tremonti uitgespreek. Tremonti wil 47 milrad Euro’s besuinig, maar die premier sê hy luister nie genoegsaam na die kiesers nie, wat laer belasting wil hê.

Tremonti is ongeveer die enigste Italiaanse minister in wie die markte vertroue het. Tremonti het op sy beurt die premier uitgedaag en verklaar: “As ek val, val Italië.”

Nie almal deel, of is reeds bewus van die omvang van die Italiaanse maagpyn nie. Die meeste Europese koerante verwys nie na die spoedberaad nie, en hamer steeds op die Griekse tragedie.

Boonop neem meer en meer koerante kennis van die Amerikaanse krisis. Pres. Barack Obama probeer die Kongres oortuig om die regering se skuldperk van $14,3 triljoen te verhoog, om te keer dat die staatsmasjienerie binnekort tot stilstand knars. Belastings moet dan verhoog word om die vergrote verpligtinge na te kom. Veral die Republikeine wat in die dampkring van die Tea Party staan, opponeer dit hewig en dring op beduidende besuigingsmaatreëls aan. Die jongste pogings om ‘n skikking te bereik terwyl die sand uitloop, het weer op ‘n dooie punt uitgeloop.

Die Berliner Umschau plaas egter vanoggend ‘n gerusstellende berig waarin ‘n Amerikaanse skulkdberader aangehaal word waarin hy die twis as eerder ‘n twis tussen twee politieke party as ‘n ekonomiese krisis beskryf. Die onderliggende faktor is om die skuldprosisie weer onder beheer te bring, ‘n proses wat die slagspreuk, Cut, Cap and Balance, opgelewer het.

Herman Toerien