Subscribe by Email

Europese e-Colisterftes: Moet Suid-Afrika bekommerd wees?

Moet Suid-Afrikaners bekommerd wees vir die skynbaar nuwe e-Coli-variant wat al sowat 20 lewens in Europa geëis het, en nou reeds na die VSA versprei het?
Kenners is dit nog nie eens of dit ‘n nuwe variant is of nie. Terwyl ‘n Sjinese laboratorium bevind het dis nuut, vra ander deskundiges hoe dit nuut kan wees as dit reeds immuun teen bestaande antibiotika is. Daar is ongeveer 700 variante bekend.
Intussen waarsku ander dat die gebruik van antibiotika vermei moet word, omdat dit ander bakterieë in die aangetaste persoon se liggaam kan vernietig en dan die e-Coli-variant vryer teuels gee. Veral nierskade kan weens antibiotika-dosering opgedoen word.
E-Coli is maar te bekend in Suid-Afrika. Die variant wat hier aangetref word, word gewoonlik met riool-besoedelde water geassosieer. Omdat dit maklik opspoorbaar is, word dit as goeie klikbek beskou dat die groeimedium ook geskik is vir ander, gevaarliker, siektes soos cholera en maagkoors (tifoïde). Die afgelope klompie jare is cholera onder meer in ‘n waterpoel in Soweto aangetref, en tifoïde het sterftes by Delmas veroorsaak.
E-Coli – die variant wat in Suid-Afrika aangetref word – is selde op sy eie dodelik. Mense wat siek is aan Vigs en ander toestande, of ondervoed is, veral babas, kan egter sterf as hul gestelle afgetakel is. Dit is onder meer deur ‘n Amerikaanse studie in Oos-Afrika gestaaf.
In die VSA veroorsaak ‘n variant wat met kitskos, soos hamburger-patties geassosieer word ‘n reuse impak op die land se produktiwiteit en gesondheidsrekening. Dit beloop saam ongeveer $500 per jaar, en 60 Amerikaners sterf jaarliks daaraan, of weens komplikasies. Ongeveer 2 000 Yanks beland jaarliks in die hospitaal.
In die VSA word e-Coli-besmetting dikwels met salmonella-vergiftiging geassosieer. Dit is verskillende siektes wat soortgelyke simptome toon.
In Suid-Afrika is dit egter rioolbesoedelde water wat die groot probleem veroorsaak. ‘n Tweede, kleiner bron is reënwater wat oor die veld afloop waarop diere gemis het.
As dit by drinkwater kom, is die vereiste dat daar géén e-Coli-telling mag wees nie. Water met ‘n e-Colitelling van 30 bakterieë per 100 milliliter water moet liefs vir watersport vermei word. Bykans alle waterstrome in die Vrystaat het e-Coli-tellings is. By Loch Logan in Bloemfontein het die water by geleentheid ’n telling van ongeveer 800 bakterieë per 100 ml water gemeet, wat verskriklik hoog is – hoewel tellings van miljoene al in Suid-Afrika geneem is soos in die Jukskeirivier by Alexandra.
Juis omdat die voorkoms in Suid-Afrika dikwels met drinkwater geassosieer word, is dit so belangrik dat die verskillende waterbronne groen- en bloudruppelstatus handhaaf, en dat riool-aanlegte behoorlik in stand gehou moet word. Dit blyk egter dat ongeveer net 3 % van Suid-Afrika se riooluitvalwerke aan die groendruppestatus voldoen. Uitvoerders het al gewaarsku dat Suid-Afrika op ‘n swartlys van onder meer groenteuitvoere na Europa geplaas kan word, sou e-Coliebesoedeling van waterbronne nie onder beheer gebring word nie.
Of die krisis wat Europa nou getref het, ook na Suid-Afrika kan versprei, hang af van heelwat faktore soos wat die groimedium is, en of die land dit doeltreffend buite sy grense kan hou. In Europa stry hulle nog en pak die skuld op mekaar.
Meer kan oor die siekte gelees word by http://www.about-ecoli.com/
Herman Toerien