Subscribe by Email

Eugene Terreblanche op sy plaas vermoor

Eugene Terre'blanche

PORT ELIZABETH – Die leier van die AWB, Eugene Terreblanche (69), is Saterdagaand op sy plaas by Ventersdorp in die Noord-Wes provinsie vermoor.

Volgens mnr André Visagie van die AWB is Terreblanche met ‘n knopkierie en panga deur swart mans op sy plaas Villanna doodgeslaan.  Sy liggaam is ongeveer om 18:00 gevind.

Hy het ten tye van die aanval geslaap, en is erg beseer.

Hy was alleen saam met werkers op die plaas tydens die aanval.

Kaptein Adele Myburgh sê Terreblanche is aangeval deur ‘n man en ‘n minderjarige wat vir hom gewerk het na ‘n argument oor onbetaalde lone.

Die DA in die Noord-Weste het woede en besorgdheid oor die moord op Terreblanche uitgespreek, veral omdat dit gebeur het in “‘n provinsie waar rassespanning in die plattelandse boerdery-gemeenskap toenemend aangewakker word deur die onverantwoordelike rassistiese uitsprake van die leier van die ANC Jeugliga, Julius Malema, en die Noord-Wes Cosatu sekretaris, Solly Pheto”.

DA parlementslid Juanita Terblanche sê die party deel nie Terreblanche se politieke oortuigings nie, “maar ‘n aanval van hierdie aard kan beskou word as ‘n aanval op die diverse groeperinge van die SA demokrasie.”

Die amptelike opposisie het hul meelewing met mev. Terreblanche en die familie uitgespreek.  Die DA het ook versoek dat mense kalm bly en dat die ANC rassistiese uitsprake ten sterkste veroordeel.

Volgens polisiebronne is twee mans, onderskeidelik 15 en 21 jaar oud, in hegtenis geneem.

Intussen het beide AfriForum en Solidariteit ‘n beroep op mense gedoen om kalm te bly na die moord op die AWB-leier.

Willie Spies van Afriforum sê dit is van kritieke belang dat alle Suid-Afrikaners – wit en swart – hulle weerhou van roekelose  uitsprake, en die “romantisering” van geweld.

Hy sê die moord op die AWB-leier bewys hoe plofbaar die situasie op die oomblik in die land is.

AfriForum het ‘n hofbevel verkry wat die leier van die ANC-jeugforum Julius Malema verbied om die kontroversiële “Skiet die boer”-liedjie te sing.

Verlede week het die Suid-Gautengse Hooggeregshof ook die lied verbied.  Die ANC is van plan om die saak na die Konstitusionele Hof te neem.