Subscribe by Email

Eugene Terre’Blanche vertel self sy storie

Die vermoorde AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, se eie weergawe oor sy lewe van storm en drang gaan kort na sy dood vir die eerste keer vertel word soos wat hy dit ervaar het. Enkele weke nadat Terre’Blanche wreed op sy plaas vermoor is, kry Suid-Afrikaners die geleentheid om uit die vermoorde AWB-leier se mond self te hoor wat is sy storie.

In ʼn nuwe boek getiteld Eugene Terre’Blanche, my storie wat van volgende maand in die handel beskikbaar sal wees, vertel Terre’Blanche vir die heel eerste keer self in die eerste persoon sy eie weergawe van onder meer die destydse opspraakwekkende en dikwels rampspoedige gebeure waarby hy as leier van die AWB betrokke was. Dit sluit in gebeure soos die slag van Ventersdorp, die inval in Mmabatho en die bestorming van die World Trade Centre tydens die grondwetlike onderhandelinge.

Terre’Blanche het geglo hy was die slagoffer van magte groter as hyself en die AWB. Die boek was persklaar ten tye van die AWB-leier se dood en sal van volgende maand beskikbaar wees

In die boek wat deur Griffel Media uitgegee word, lig Terre’Blanche vir die eerste keer die sluier oor die vervreemding wat tussen hom en sy aangenome dogter ingetree het asook die spanning wat sy woeste politieke loopbaan in sy huwelik tot gevolg gehad het.

Hy voer onder meer aan dat hy keer op keer in die strik getrap het wat die destydse NP-regering vir hom gestel het. Hy sit die teorie herhaaldelik en in fyn besonderhede uiteen. Hy hou ook vol dat hy later onskuldig tronk toe gestuur is weens aanranding op ’n petroljoggie, en laat blyk hy weet wie die eintlike skuldige was.

Dr. Amos van der Merwe het die boek met Terre’Blanche se volle medewerking geskryf, sodat dit soos ’n outobiografie lees: dis dan ook Terre’Blanche wat deurgaans praat, in die eerste persoon. Vir die eerste keer vertel hy heelwat van sy lewe in die tronk – van die benoudheid, maar ook van wat goeie verhoudings was met van sy medegevangenes – almal swart.

Benewens heelwat van Terre’Blanche se gedigte, betreklik beknopte inligting oor sy grootwordjare, diens in die polisie en sy huwelik, bevat die boek breedvoerige uiteensettings van sy politieke oortuigings, meer gematig as die van die militante weerstandsleier wat Suid-Afrikaners oor drie dekades heen leer ken het. Baie ruimte word afgestaan aan sy versterkte Christelike oortuigings.

Oor die dood sê hy onder meer hy is nie bang vir die dood nie. Hy sê almal gaan dood en die dood wag op jou van die eerste asem wat jy in jou babalonge trek en hy aanvaar dat hy weer na stof sal terugkeer.

Volgens die uitgewers gee die boek ’n buitengewone insig in hierdie omstrede figuur. Griffel Media se uitgewer, Hendrik Venter, het aan Koerant.com gesê die skrywer slaag daarin om Terre’Blanche se psige te verken en hy gee ’n aangrypende blik op een van Suid-Afrika se mees bekende figure.

“Die leser sal self kan oordeel wie Terre’Blanche werklik was en waarvoor hy homself beywer het. Was hy self die slagoffer van dit waarteen hy gewaarsku het? Dit bly ’n ope vraag of sy nuutgevonde gematigheid hom die prooi van sy gewelddadige dood gemaak het.” In sy eie woorde: “Het ek dan ʼn kans om ʼn weg te baan waar die ander gefaal het?”

Eugene Terre’Blanche, my storie sal van volgende maand beskikbaar wees by toonaangewende boekhandelaars. Dit kan ook direk van Griffel bestel word by www.griffel.co.za of On The Dot 0861 668 368.jean@koerant.com