Subscribe by Email

ESKOM moet ware toedrag van sake aan verbruikers openbaar

TLU SA het uit verskeie bronne kennis geneem dat ESKOM tans probleme ervaar om genoeg elektrisiteit te kan voorsien en dat daar weer ‘n moontlikheid bestaan van kragonderbrekings en beurtkrag, asook ‘n verdere verhoging in elektrisiteitspryse.

In ‘n brief aan die Hoof Uitvoerende beampte van Eskom, sê TLU SA se President, mnr. Louis Meintjes, dat sonder vrees vir teenspraak aanvaar moet word dat as landbou-aktiwiteite as gevolg hiervan onderbreek of ontwrig sou word, dit verreikende gevolge sal hê. “Gedurende soortgelyke gebeure in 2008 is die ontwrigtende gevolge wyd gevoel. Daar is egter aangeneem dat tydige en deeglike kommunikasie tussen ESKOM en sy kliënte in die toekoms sal verseker dat die ongelukkige gevolge van vorige jare voorkom sou kon word. Nou wil dit tog egter voorkom of ‘n soortgelyke situasie, sonder waarskuwing, weer ontstaan het. Die ingewikkeldheid van voedselproduksie en die boere se afhanklikheid van betroubare elektrisiteitsvoorsiening gedurende kritieke tye van besproeiing, melkvoorsiening en kommunikasie, vereis dat dit behoorlik beplan moet word,” sê mnr. Meintjes.

“Die huidige stand van sake laat my geen ander keuse nie as om dringend daarop aan te dring dat die ware toedrag van sake, rakende huidige probleme en moontlike gevolge, aan die verbruikers openbaar gemaak moet word om ‘n soortgelyke krisis as in 2008 te voorkom,” sê mnr. Meintjes in sy skrywe aan ESKOM.