Subscribe by Email

Einde van satelliet wat 29 jaar lank “alles gesien het”

Landsat 5Die satelliet wat nog die langste diens ooit gedoen het, Landsat 5, word nou in sy 29ste jaar van aardwaarnemings uit diens gestel, het die USGS aangekondig.
Landsat 5 was ontwerp om drie jaar lank waarnemings te kan doen, maar het dié verwagtinge ver oortref. Verskeie kere het dit gelyk of onklaar toerusting die satelliet se einde sou beteken, maar daar is telkemale in geslaag om die kanniedood weer vlot te maak. Nou het ‘n giroskoop ingegee, en aardtegnici kon nie daarin slaag om die fout te herstel nie.
Tydens sy dienstydperk het Landsat 5 155 000 keer om die aarde gewentel, en meer as 2,5 miljoen beelde van verskynsels op die aardoppervlak na die aarde teruggestuur. Die satelliet het ‘n reuse bydrae tot omgewingstudies gelewer.
Sedert dit in 1984 gelanseer is, was daar waarskynlik geen beduidende gebeurtenis op aarde en wat ‘n merk groter as rugbyveld gelaat het, wat nie deur Landsat waargeneem is nie. Dit wissel van orkane tot tsunami’s tot veldbrande. Onder die bekendste verskynsels wat deur Landsat 5 waargeneem is, is die Tsjernobil-kernramp, die uitbarsting van Mount Saint Helens in die VSA, en die brande in die Koeweitse olievelde.
Landsat 5 se funksies sal nou deur Landsat 7, wat self al sy lewensduur oortref het, oorgeneem word. ‘n Instrumentefout beperk egter Landsat 7 se vermoëns, maar moet deug tot Landsat 8 in Februarie 2013 gelanseer word.
Die USGS se volledige verklaring kan hier gelees word.
Herman Toerien