Subscribe by Email

Egipte veroordeel makers van Mohammed-film ter dood

‘n Regbank in Egipte het sewe Koptiese Christene wat by die vervaardiging van die omstrede Mohammed-rolprent betrokke was, ter dood veroordeel.

Die film, wat op You Tube versprei is, het wêreldwyd tot gewelddadige betogings gelei wat ‘n tiental lewens geëis het, met die Amerikaanse Ambassadeur in Benghazi, Libië, wat in ‘n voorval wat verband gehou het, omgekom het.

Al sewe die veroordeeldes woon buite Egipte in Westerse lande.

Die regisseur van die film, Nikola Basili Nikola, sit op die oomblik in ‘n Kaliforniese tronk.

Die doodsvonnis moet nou deur ‘n moefti bekragtig word, wat as ‘n formaliteit beskou word.

Op 29 Januarie sal die regbank dan sy formele oordeel uitspreek, en ook bereg oor die Amerikaanse evangelis, Terry Brown, se aandeel in die film.

Kritici meen die verhoor is polities-gemotiveerd om militante Moslems in Egipte te pasifiseer. Egipte gaan op die oomblik weer onder betogings gebuk na pres. Mohammed Morsi magte gegryp het wat op ‘n magsgreep neerkom, en hom meer magte gee as wat die afgesette pres. Hosni Mubarack gehad het.

Die situasie is nog meer vertroebel deur die fokus op die Koptiese Christene toe pous Tawadros as nuwe Koptiese pous beëdig is.

 

 

Herman Toerien