Subscribe by Email

EFF verwelkom die diskwalifikasie van een van sy kandidate

eff-manifesto-launch+(1)Die EFF verwelkom die kieshof se besluit om sy kandidaat vir die Pretoria-wyk, Thabo Mabotja, te diskwalifiseer. Dit volg nadat Mabotja op Facebook gevra het dat wit mense doodgekap moet word. Die EFF wys daarop dat die party hom reeds voor die hofbeslissing van Mabotja gedistansieer het. Woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi wou egter weet waarom die OVK nog nie ondersoek ingestel het na ‘n klag wat die EFF teen ‘n ANC-streeksekretaris in Mpumalanga ingedien het nie. Volgens die EFF het die ANC-lid die gewelddadige ontwrigting van EFF-saamtrekke goedgepraat.

In nog ‘n ontwikkeling is ‘n EFF-kandidaat, Dorothea Sekoto, gister skielik dood. Sy was 67. Sekoto was ‘n raadslid-kandidaat in die Matlosana-munisipaliteit in Noordwes. Die party sê hulle is geskok oor haar dood omdat sy gesond was toe sy onlangs haar werwingsdokumente by die streekskantoor ingehandig het.

Nog verkiesingsnuus is dat die kieshof die Nasionale Vryheidsparty se aansoek om aan Woensdag se verkiesing deel te neem, van die hand gewys het. Die NFP is gediskwalifiseer omdat hulle nie die vereiste bedrag voor die sperdatum betaal het nie. Volgens die regsgeleerdes wat die party van KwaZulu-Natal verteenwoordig, het buitengewone omstandighede daartoe gelei dat die geld nie betyds betaal is nie. Hulle beweer dat die tesourier doelbewus ‘n fout gemaak het om die Inkatha Vryheidsparty te bevoordeel. Die hof het beslis dat daar streng by die verkiesing se reëls gehou moet word.