Subscribe by Email

Eenhoring se blyplek toe dié van dier met drakekop

‘n Foutiewe vertaling van ou Koreaans het daartoe gelei dat die Noord-Koreaanse nuusagentskap aangekondig het dat argeoloë die blyplek van ‘n eenhoring gevind het.

Eenhorings maak ‘n belangrike deel van Koreaanse mitologie uit omdat legendes dit wil hê dat koning Tongmyong, grondlegger van ‘n koninkryk wat groot dele van die Koreaanse skiereiland en dele van China ingesluit het, op ‘n eenhoring gery het. Dié ryk het van die derde eeu voor Christus tot die sewende eeu na Christus geduur.

Die eenhoring se blyplek is in Pyongyang, 200 meter van ‘n ou tempel gevind. Voor die blyplek sou ‘n reghoekige rots wees met ‘n inskripsie wat lui, “Eenhoornnes.” Dié inskripsie dateer glo uit die era van die Koryo Koninkryk (918-1392).

Die argeologiese wêreld het, gegewe die propagandistiese aard van die bron, kwalik kennis geneem van hierdie “grootse vonds”, maar hier en daar is dit krities bekyk. Verskeie kenners van antieke Koreaans wys daarop dat die woord wat met “eenhoring” vertaal is, in werklikheid vertaal behoort te word met “dierasie met die kop van ‘n draak.” Die lyf sou dié van ‘n takbok wees, met die stert van ‘n bees.

Foto: Thinstock

Herman Toerien