Subscribe by Email

E-TV gaan verkla word by Uitsaaiklagtekommissie

Berig vanaf Vryheidsfront se Facebook blad.

Debora Patta

Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag indien by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) teen E-TV en die joernalis, Deborah Patta, insake ‘n insetsel in die aktualiteitsprogram, 3rd Degree, waarin ‘n VF Plus-studenteleier van die Universiteit van die Vrystaat en vise-president van die Studenteraad, me. Chrisna De Kock, deur die joernalis me. Deborah Patta geïntimideer en op ‘n neerbuigende wyse behandel is tydens ‘n onderhoud oor rassepolitiek op die kampus.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, het benadruk dat me. Patta alle grense van joernalistieke etiek oorskry het en dat sy en gevolglik E-TV, hulle nie net skuldig gemaak het aan die sanksionering en promovering van sielkundige geweld nie, maar dit self ook toegepas het. Verdere gronde vir die klag wissel van bevooroordeelde kommentaar tot die skending van me. De Kock se integriteit. Alles sake wat in die Uitsaaiklagtekommissie se media-kodes omskryf word.

Tydens die onderhoud met me. De Kock het me. Patta aggressief oorgekom en nie vir me. De Kock werklik kans gegee om te antwoord op haar beweringe van rassisme nie. Eers nadat sy me. De Kock tot trane gedryf het, het sy minder aggressief opgetree. Die inligting wat me. Patta gebruik het was ook nie feitelik korrek nie, maar sy het dit desnieteenstaande as ‘n platform gebruik om me. De Kock, Afrikaners en die VF Plus in ‘n negatiewe lig te stel.

Die voorval spruit uit ‘n program wat 3rd Degree vervaardig het rakende die rassespanning wat op die UV-kampus sou heers. Dit blyk ook dat E-TV se span by die UV-kampus aangekom het met voorbedagte rade om emosies op te wek en sodoende polarisasie te kweek ter wille van die vervaardiging van ‘n sensasionele program. Dit is gedoen deur die verspreiding van twee verskillende plakkate onder die studente met die inhoud wat onderskeidelik lees “Proud to be White” en “Proud to be Black”.

“Watter mediaspan sal na ‘n plek toe gaan waar rassespanning ‘n probleem is en sulke materiaal saambring en aan studente wys voordat onderhoude gevoer word? Wat kan die bona fides van sodanige optrede wees en hoe professioneel is dit?” wou adv. Alberts weet. “Nou sal die gereg sy gang moet gaan. Ons hoop om spoedig ‘n verhoordatum van die UKKSA te kry ten einde die skreiende onreg jeens me. De Kock, Afrikaners en die VF Plus reg te stel.”

*Die program was uitgesaai op 25 Mei 2010 om 21:30 op E-TV se gratis dienskanaal.

One Response to E-TV gaan verkla word by Uitsaaiklagtekommissie

  1. Frans

    Mei 31, 2010 at 9:50 pm

    Ja ek het die program self gekyk,en ek is geskok oor hoe Debora Patta soos ‘n onbeskofte rasis aangegaan het, sy het die arme De Kock met ‘n duiwelse tong aangeval. Dit het vir my gelyk asof die duiwel self haar beheer het. En wat my die meeste geskok het, is dat sy op die einde van haar aanval, as ‘n laaste word voordat die program ge eindig het gese, “Die Boere is almal rasisties”. Waar haar haat vir “Die Boer” van daan kom sal ek graag wil weet want dit is oogloopend dat sy die Boere met haar hart en siel, as sy nog een het, haat. Om haar te vra om die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika se reels van regverdigheid teenoor almal te volg, vernaam as dit by die Boere kom,is ‘n mors van tyd.