Subscribe by Email

Duitsland se nuwe isolasie – oor Libië

Terwyl die een Europese staat na die ander met fisiese steun aan die VN se vlugverbod oor Libië toetree, ontwikkel ‘n situasie in Duitsland wat dié land se status en reputasie erg kan beïnvloed – of so voel baie Duitsers skynbaar. Daar is selfs ‘n gevoel dat Duitsland ‘n historiese breuk met die verlede gemaak het.
Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het ‘n sterk gevoel posgevat dat daar geen oorlog meer vanaf Duitse grondgebied gevoer sou word nie.
Die beste manier om dit te bewerkstellig, is deur in stewige alliansies verweef te word, is gemeen. Trans-Atlantiese en Europese integrasie is as belangrike doelwitte gesien om ‘n herhaling van die verlede te voorkom. Sedertdien was lojaliteit aan die VSA en toewyding aan die Europese saak die grootste konstante faktore van opeenvolgende Duitse regerings, skryf Antoine Verbij in Trouw.
Duitsland het egter nou gebreek met die tradisie wat grotliks deur Adendouwer gevestig is. In die VN Veiligheidsraad is buite stemming gebly toe magtiging verkry is om Ghaddafi se Libië vas te vat.
Suid-Afrikaners, wat gewoond is daaraan dat muishonde van die wêreld soos die Castro’s, Hugo Chavez van Venezuela, selfs Ghaddafi en Robert Mugabe gereeld as helde voorgehou word, sal miskien nie heeltemal die impak op die Duitse gemoed so intens beleef, soos toe Chavez by wyse van spreke uit dankbaarheid Angela Merkel om die hals geval het nie.
Die rug toekeer van bondgenote het ander sielkundige newe-effekte. Die Duitse optrede word binne Duitsland as effektiewe steun aan Ghaddafi se slagting van sy eie mense beskou.
Skielik bevind Duitsland hom in die koppe van die Duitsers “in dieselfde kamp” as China en Rusland wat menseregte op groot skaal misken.
Dit lyk of die Duitse regering hom in twee opsigte misreken het. Duitsland het daarop gereken dat verskeie Europese state wat nie VN-veiligheidsraadslede is nie, nie die uitvoering van die vlugverbod sou steun nie. Die pot is hier duidelik misgesit, maar meer nog, dit lyk of die regering hom met die Duitse bevolking misreken het. – Herman Toerien