Subscribe by Email

Duitse ekonomie op, Japannese af maar dui op wêreldherstel

Al hoe meer goeie nuus oor die vooruitsigte van die wêreldekonomie beur na vore. Die Duitse Minister van Finansies, Wolfgang Schäuble het in ‘n onderhoud met Der Spiegel voorspel dat die Duitse ekonomie vanjaar met meer as 3 persent sal groei. Die werklike bemoedigende teken is dat hy meen dat die onrus op die wêreldmarkte die Duitse ekonomie nie tot op hede geraak het nie. Die amptelike syfers word eers môre bekend gemaak wanneer die Duitse Statistiekburo sy syfers bekend maak.

Duitsland se ekonomie is die sterkste en grootste in Europa.

Al het Japan se ekonomie in die tweede kwartaal met 1,3 % gekrimp, is dit aansienlik minder as wat na die verwoestende aardbewing van 11 Maart verwag is. Die Nikkei het dadelik met 1,5 % gestyg, wat egter ook deels deur die gesonder vertoning op Wall Street veroorsaak word.

Intussen het die Duitse koerant, die Welt am Sonntag, berig dat Duitsland dit kan oorweeg om gesamentlike Europese obligasies te steun, as deel van ‘n omvattende plan om die Europese skuldkrisis te besweer.

Dit is nog onseker of dit ‘n wolhaarstorie is, of ‘n geplante boodskap is om die water te toets. ‘n Deel van die probleem is dat dit juis die skuldgeteisterde lande is wat met hoë rentekoerse op staatsobbligasies te kampe het, en dus baie meer moet opdok om hul skuld te betaal. Die Duitse rentekoerse op staatsobligasies is egter laag, wat selfs vir ‘n buurland soos België probleme skep.

Gesamentlike Europese obligasies sal beteken dat lande wie se eie rentekoerse hoog is, nou op minstens ‘n deel van hul skuld minder rente sal betaal. In Duitsland sal die posisie omgekeerd wees, en word beraam dat sou die rentekoers van die gesamentlike obligasies 2,3 % hoër wees as die Duitse obligasies, sal die rentelas Duitsland jaarliks 47 miljard Euro meer uit die sak jaag. Die gedagte aan gesamentlike obligasies word dus sterk in Duitsland teengestaan, en Schäuble het ‘n dag voor die jongste berig nog ontken dat daar sprake van sou wees.

Die aanduidings dat die wêreldekonomie kop optel, of minstens dat die ergste beurspaniek verby is, word ook in die jongste goud- en platinumpryse gereflekteer. Vanoggend agtuur was die goudprys $1 741,90, en die platinumprys $50 meer. ‘n Week gelede was die posisie nog min of meer omgekeerd toe beleggers op goud toegesak het, en platinum, met sy groter nywerheidsaanwending, soos olie teen die agtergrond oor onseker ekonomiese vooruitsigte, relatief noustrop getrek het. Die olieprys was vanoggend bo $108 per vat.

Herman Toerien