Subscribe by Email

Duisende wys hul steun vir Pretoria se naam en Voortrekkermonument by AfriForum-musiekfees

Meer as 30 000 mense het gister by die Voortrekkermonument in Pretoria saamgetrek om hul steun vir die behoud van Pretoria se naam en die Voortrekkermonument te wys. Dié skare het ʼn Afrikaanse musiekfees by die monument bygewoon wat deur AfriForum ter viering van Pretoria se 156ste verjaardag en ter behoud van die stad se naam gereël is.

Die skare het ook eenparig hul steun getoon aan AfriForum se “Red ons Monument”-veldtog wat tydens die fees van stapel gestuur is om te verhoed dat die staat die Monument se subsidie verder sny en die publiek aan te moedig om die Monument finansieel te ondersteun. Die veldtog behels dat die publiek R10 ten bate van die Monument kan skenk deur die woord ‘RED’ na 38655 te SMS, asook ʼn petisie waardeur lede van die publiek die staat versoek om die subsidieverpligtinge teenoor die Monument, waarop in 2010 ooreengekom is, nou en in die toekoms na te kom. Die petisie is beskikbaar by www.afriforum.co.za. Die staat het vanjaar die Monument se subsidie met R900 000 gesny en is ook traag om die res van die subsidie uit te betaal.

Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Lianie May, Jay, Elizma Theron, Sorina (Flooze van 7de Laan) en Armand Hofmeyr tel onder die 28 bekendes wat by AfriForum se musiekfees opgetree het.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys die feit dat letterlik duisende mense by die Voortrekkermonument opgedaag het, dat mense baie sterk oor die stad se naam en die Voortrekkermonument voel en dat hulle nie gediend is van knaende pogings om Pretoria se naam te verander en die Monument se staatsubsidie te sny nie. “Die regering moet hiervan kennis neem,” het Kriel bygevoeg.

Die ander sangers en groepe wat opgetree het, is Vaughan Gardiner, Adam Tas, Willem Botha, Fredi Nest, Pieter Koen, Adam, Gerrie Pretorius, Dewald Wasserfall, DJ Ossewa, Pieter Smith, Mel Botes, Ghapi, Beeskraal, MD Greyling, Andries Hendrik Potgieter, Saarkie, Jennifer Zamudio, Zandré, die SA Talent-wenner, die Neels Ackerman-boereorkes en die Albert Wentzel-boereorkes.

Dit was AfriForum se vyfde musiekfees en die fees groei elke jaar.