Subscribe by Email

Duidelikheid nodig oor onteiening van grond sonder kompensasie – CDP

“Terwyl die meeste analiste verlig is dat die groep wat deur die ANC-Jeugliga aangevoer is, nie daarin kon slaag om ‘n voorstel deur te voer dat grond sonder vergoeding onteien kan word nie, maak diégene wat die voorstel gedryf het tog daarop aaaspraak dat hulle die oorwinning behaal het. Dit lyk of baie gelees word in die stertjie dat grond sonder kompensasie onteien kan word as dit in die eerste plek onwettig bekom is,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

“Geoordeel op uitlatings deur die voormalige jeugligaleier, Julius Malema, en sy waarnemende opvolger, Ronald Lamola, is dit duidelik dat die gedagte wyd loop dat baie boere hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Syfers van 2007, wat onlangs in die meestersverhandeling van die Matie Charl Swart opgeneem is, dui daarop dat ongeveer 80 persent van die swart mense glo dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en dat dié syfer toeneem.

“Die CDP doen dus ‘n beroep op die ANC-leierskap om dit baie duidelik te maak oor wie geïmpliseer word as mense wat hul grond onwettig bekom het, en sodoende moontlike chaos en polarisasie te voorkom.”