Subscribe by Email

Dra ekonomiese ongelykheid tot resessies by?

Die afgelope paar jaar dra Suid-Afrika die twyfelagtige eer van die land met die hoogste inkomstegaping ter wêreld. Grootskaalse werkloosheid met die gepaarde armoede dra by tot dié toedrag van sake, en die radikale uitsprake binne die ANC-jeugliga is ‘n daaglikse herinnering dat die politiek-sosiologiese model van relatiewe deprivasie so geldig bly soos altyd. Kernagtig opgesom beteken dit dat hoe groter die verskil tussen verwagtinge en werklikheid word, hoe groter word die ekonomiese klimaat.

Onlangs het Timothy Noah, rubriekskrywer van die Amerikaanse aanlyn-tydskrif, The Slate, ‘n reeks artikels gepubliseer waarin hy op die groeiende inkomstepaing in die VSA wys.

Dit blyk ook dat in die verlede, wanneer die inkomstegaping die skeefste getrek het, ‘n resessie ingetree het wat die skeeftrekking weer reguiter getrek het. Die vernouing van die inkomstegaping word kompressie genoem.

In 1915, skryf hy, het die rykste een persent in die VSA ongeveer 18% van die totale persoonlike inkomste in die land verdien. Nou verdien die boonste een persent 24 % van die inkomste.

Dit mag dalk nie na ‘n groot toename oor so ‘n lang tydperk klink nie, maar daar was periodes waar die verskil afgeneem het. Daar was ‘n piek in die gaping voor die ekonomie in 1924 getuimel het. Dit het min of meer stabiel gebly deur die bloeitydperke van die 1950’s en 1960’s.

In die 1970’s, skryf Noah, het die kompressie weer uitgerafel. In ‘n ander bron word gemeld dat die boonste 1 persent se inkomste van 1975 tot 1995 met 400 % gestyg het teenoor die gemiddeld van 18 %.

Ironies, berg die Washington Post, het Noah onlangs saam met drie ander rubriekskrywers die trekpas by The Slate gekry. Noah was in daardie stadium met verlof om werk aan ‘n boek oor ekonomiese ongelykheid te voltooi.
Herman Toerien