Subscribe by Email

Dors Grand Canyon kry straks water van ver

Kommer oor die Coloradorivier wat aan die opdroog is, kan voorlopig iets van die verlede wees as planne om water ‘n duisend kilometer ver van die Missouri aan te lê realiseer.

Die Colorado se eens magtige waterstroom wat ook deur die Grand Canyon vloei trek noustrop soos die vraag van besproeiingswater en die stede van Kalifornië en Arizona meer en meer opslurp, en slegs ‘n fraksie haal uiteindelik die monding in Meksiko.

Onder die planne wat voortydig aan die New York Times uitgelek is, word onder meer beoog om water met ‘n pypleiding ‘n duisend kilometer ver aan te lê tot by Denver, van waar die water in die Colorado sal vloei.

Die Coloradorivierkom voorsien water aan sowat 30 miljoen mense in Arizona, Kalifornië, Colorado, New Meksiko, Nevada, Utah en Wyoming. Daar is bereken dat die watertekort oor 50 jaar miljoene kubieke meter per jaar sal beloop.

Die idee van water uit die Missouri of selfs die Mississippi is nie nuut nie, maar stuit telkemale voor politieke en koste-realiteite. Die U.S. Bureau of Reclamation het voorstelle aangevra oor hoe om die probleem op te los. Meer as ‘n 100 voorstelle is vroeër vanjaar ontvang, waarvan baie as verspot afgemaak is. Hieronder tel die sleep van ysberge na Kalifornië en die vul van sakke met sneeu in Alaska en die vervoer daarvan na die smagtende suide.

Die Missouri-Colorado bly een van die mees aanneemlike opsies, ook omdat dit aan talle ander behoeftes sal voldoen soos die vul van opgaardamme langs die pyplyn, en selfs die aanvul van ondergrondse waterbronne. Dié voorstelle is in die finale konsep behou wat aan die New York Times gelek is. Onder die ander finale voorstelle tel beter bewaring van waterbronne en ontsouting.

Herman Toerien