Subscribe by Email

Dooie See verklap klimaatsgeheime

Met die belangrikheid van klimaatsveranderings wat nou plaasvind word die verskynsel intensief deur verskillende vakgebiede bestudeer. ‘n Vertakking van die argeologie kyk ook hierna. Biologiese materiaal wat in ys vasgevang en bewaar word, lewer byvoorbeeld baie inligting op.

Danksy die dalende vlak van die Dooie See kan wetenskaplikes egter ook deur boorwerk inligting in nog ‘n stof bekom wat biologiese materiaal goed bewaar – sout. Die Dooie See se watervlak daal onder meer weens die onttrekking van baie vars water uit sy voedingsbronne.

By die Ein Gedi-oase aan die Wesoewer het wetenskaplikes 21 meter diep geboor en ‘n soutstaaf onttrek. Die onderste laag van hierdie staaf strek 10 000 jaar terug, en deur die stuifmeel te bestudeer wat in die verskillende lae gevind is, kon vasgestel word watter soort klimaat in bepaalde tye in die omgewing geheers het.

Drie spesifieke klimaattipes, wat mekaar vinnig opgevolg het wanneer die klimaat verander het, is gevind. Die natste periodes het ‘n Mediterreense tipe klimaat opgelewer, afgewissel met ‘n steppe-klimaat en ook ‘n woestynklimaat.

Die data wat so versamel is, klop goed met data wat bekom is deur die wisselende vlakke van die Dooie See te meet.

Die wetenskaplikes van die Universiteit van Bonn wil nou selfs dieper boor om die klimaatspoor selfs nog verder terug te volg.   

Bron:

http://www.pasthorizonspr.com/index.php/archives/08/2012/researchers-study-dead-sea-climate-past-finding-dramatic-results