Subscribe by Email

Donderdag is D-Dag vir nasionale protesoptog teen misdaad

Dirk Herman van Solidariteit skryf:

“Solidariteit afgevaardigdes van dwarsoor Suid-Afrika kom Donderdag in Pretoria bymekaar vir die Solidariteit nasionale kongres. Een van die mosies wat op die kongres gaan dien is ‘n nasionale dag van protes teen misdaad.

Indien dit goedgekeur word, sal na verwagting tot 150 000 mense deelneem aan die protesaksie. Die ander instellings van die Solidariteit Beweging, naamlik AfriForum en Solidariteit Helpende Hand, is besig met soortgelyke mandaatprosesse onder hulle lede.

Indien die mosie aanvaar word gaan Solidariteit ook ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge kennis gee aan NEDLAC van die vakbond se voorneme om die protesaksie te loods. Dit sal die eerste keer wees dat Solidariteit ingevolge dié artikel ʼn protesaksie uitroep. Ingevolge artikel 77 van die Wet kan ʼn protesaksie uitgeroep word oor enige sosio-ekonomiese kwessie. Die lede van ʼn vakbond wat ingevolge artikel 77 toestemming kry om deel te neem aan ʼn wegblyaksie kan daaraan deelneem sonder om dissiplinêre optrede te vrees. Die normale reël van geen werk, geen betaling geld egter.

Ons wil deur die dag van protes ʼn alternatiewe manier van protes aan Suid-Afrika bekend stel. In uiters gespanne omstandighede is konstruktiewe protes nodig. Ons kan nie van mense verwag om stil te sit nie, maar ons stel ook nie belang in protesaksies wat behels dat vullisdromme omgegooi en skade veroorsaak word nie.

Die plan is egter om die aksie baie groter te maak as net Solidariteit. Alle gemeenskappe in Suid-Afrika gaan gebuk onder ernstige misdaad. Maak nie saak of dit in die Suide, Noorde, Weste of Ooste is nie. Misdaad tref klein, groot en medium dorpe. Plase, stede en besighede is almal slagoffers.

Ons sal julle op hoogte hou van die besluit van die nasionale kongres. Ek dink egter dit is tyd om op te staan en saam te staan.”