Subscribe by Email

Dokter verklaar lewendige pasiënt dood

’n Mediese dokter van Khayelitsha, wat ’n trauma pasiënt dood verklaar het terwyl die nog lewendig was, is geskuif na ’n ander hospitaal, terwyl die departement van gesondheid die voorval ondersoek. Die voorval het gebeur by die Khayelitsha Gemeenskaps Gesondheidsentrum.

Faiza Steyn, ’n woordvoerder van die departement, sê dat die dokter by ’n ander kliniek werk sal verrig, vir die volgende twee maande.

Daar word beweer dat die dokter ’n trauma pasiënt dood verklaar het by aankoms, maar toe die pasiënt later ondersoek word deur ’n trauma verpleegster, die pasiënt nog asem gehaal het. Die verpleegsters het die pasiënt daarna gestabiliseer en afgevoer na ’n ander hospitaal, waarna die persoon volkome herstel het.

Intussen, in ’n onverwante geval, is ’n Kaapstadse dokter, Dr Johan Hamman gister vrygespreek van onprofesionele gedrag deur die Profesionele Gesondheidsraad van Suid-Afrika. Penny Williams, van Parkwood, het hom drie jaar gelede aangekla omdat hy volgens haar, nie behoorlik haar klein nefie Darcio, ondersoek het toe die kleuter by die noodgevalle van die hospitaal aangekom het met stuiptrekkings. Volgens Penny se getuienis, het Hamman gesê dat daar niks fout is met die kleuter en hulle huis toe gestuur. Die volgende dag het die kind toe weer stuiptrekkings gekry, waarna hy terug na Constantiaberg gehaas is en opgeneem was in die intensiewe sorgeenheid.

Met kruisondervraging het dit egter uitgekom dat Penny nooit self in die ondersoekkamer die eerste keer was nie en dat sy Hamman se naam as dokter by die personeel gekry het en aangeneem het dat hy die kind oorspronklik ondersoek het. Volgens hospitaalrekords was Hamman blykbaar glad nie teenwoordig met die ondersoek nie en word dus vrygespreek.