Subscribe by Email

Dodetal in Indiese aardbewing styg

Terwyl die dodetal bly styg en reeds amper die 50-kerf bereik het in die aardbewing wat die grensgebied tussen Indië, Nepal en Tibet geskud het, is vanjaar wat sterk aardbewings betref nog stiller as verlede jaar.
Verlede jaar het altesaam 22 aardbewings van M 7 of sterker voorgekom, insluitende die M 8.8-skudding wat dood en verwoesting in Chili aangerig het.
Van die 15 wat vanjaar voorgekom het, was 4 vroeg in Januarie.
Verlede jaar was ‘n buitengewoon besige aardbewingjaar wat sterk aardbewings betref en heelwat meer het voorgekom as in die voorafgaande aantal jare.
Die mees onlangse aardbewing van sterker as M 7, was toe ‘n aardbewing van M73 Fidji op 15 September geskud het.
Dit is egter interessant dat van die aardbewings wat sterftes opgelewer het, soos in Spanje en Turkye, swakker as M 6 was. Die aardbewing wat op 21 Februarie soveel dood en verwoesting in Christchurch, Nieu-Seeland, aangerig het, het “maar” M 6.1 gemeet, maar die episentrum was maar 6 kilometer van die stad, en ook omtrent 6 kilometer diep. Die M 7.3-aardbewing by Fidji was 626 kilometer diep en meer as ‘n 100 kilometer van die naaste bewoonde eiland.
Die aardbewing wat nou sterftes in Indië en Nepal veroorsaak het, het M 6.9 gemeet, en was ook betreklik vlak, net minder as 20 kilometer.
Word na die wêreld se aardbewingkaart van die afgelope week gekyk, is dit interessant om te let dat Australië ‘n tweede ligte aardbewing in ‘n kort tydjie beleef het, maar ver van mekaar. ‘n Tweede aardbewing in ‘n kort tydjie het in die Mosambiekkanaal voorgekom. ‘n Ligte skudding het Christchurch pas weer geskud.
Japan en die skiereiland van Alaska lyk of dit nou die besigste aardbewingsones is. Die VSA oos van die Rotsgebegte bly ook nog aktief, maar die kaart is effens misleidend omdat die VSA ook baie ligte aardbewings op sy grondgebied en omgewing aandui, wat nie elders gebeur nie.
Herman Toerien