Subscribe by Email

Dissie onsie, dissie bryde – mylpale van mediavryheid

Enkele jare gelede het Rapport hierdie beeld gebruik – die bruide wat graag hul troufoto’s op ‘n oop erf laat neem, maar dis ook die oop erf waar die straatkinders iets heel anders doen. Toe die straatkinders oor die klank aangespreek word wat oor die plek hang, was hul antwoord dat dit nie hulle nie, maar die bruide was wat so onbetaamlik daar was.

Dié staaltjie is gebruik as analoog hoe gou die skuld op ‘n ander gepak word – soos op die media.

Die media het pas weer twee keer onder skoot gekom – ‘n predikant wat groot nuus was oor hy sou gesê het dat gebed nie help nie, maar toe laat blyk het die joernalis het hom verkeerd aangehaal. Kort hierna vaar die regering se omstrede woordvoerder, Jimmy Manyi, teen die media uit oor die tipe vrae wat aan hom gevra word, en in die besonder die Gupta’s se verhouding met kabinetsministers wat in Saxonwold onthaal word.

Ter agtergrond: Onlangs het die persombudsman by ‘n werksessie vir nuusredakteurs self onder die joernaliste ingeklim omdat hul algemene kennis so swak is. Onder die redes wat in ‘n mate wêreldwyd geld is dat die konvensionele massamedia onder geldelike druk is, algaande moet verjong om kostes te bespaar, en dat kwaliteit ‘n prys is wat betaal moet word. In Suid-Afrika speel die regering se kwotabeleid ook ‘n rol om te keer dat die beste mense nie noodwendig die mense is wat die nuus moet skryf of daaroor verslag moet doen nie.

Voortdurende aksies word geloods, omdat dit eventueel tot taamlik opsigtelike foute lei. Die lesers- en luisteraarspubliek ondergaan nie noodwendig dieselfde verjonging nie, en hul kennis neem nie af nie. ‘n Koerant weet hy het probleme as ‘n subredakteur aan ‘n verslaggewer se feite verander, en in die proses feite – en soms selfs spelfoute laat insluip.

Enkele jare gelede het Tim du Plessis, destydse redakteur van Rapport en nou van Beeld, in ‘n rubriek geskryf oor die impak van onder meer die internet in inligtingsvloei, wat dit vir koerante onmoontlik maak om nuus te manipuleer, soos hulle gereeld van beskuldig word. Sedert hy na “die alewige blogs” verwys het, het die internet se krag eenvoudig hand oor hand toegeneem, en speel volgens alle aanduidings ‘n belangrike rol om die ondemokratiese Arabiese regerings tot ‘n val te laat bring. Daar word glo woes ge-Twitter.

Koerante moet al hoe meer kennis neem van wat op die internet as feite versprei word, aangesien ‘n koerant wat nie sake regstel of in perspektief stel nie, groot skade aan geloofwaardigheid kan ly. Iemand het immers tong in die kies op die internet geskryf: “Ek het dit op die internet gelees, dus moet dit waar wees.”

Dit maak sin dat Arabiese diktators onder die aanslag van die internet pap in die knieë sou word. Arabiese lande in die besonder, maar Moslemlande in die algemeen, vaar swak op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks. Trouens, Albanië is op 88ste waarskynlik die oorwegend Moslemland wat die beste posisie beklee. Vergelyk dit daarmee dat Suid-Afrika onlangs deur Freedom House van ‘n staat met mediavryheid afgegradeer is tot ‘n staat waar die media slegs as gedeeltelik vry beskou word, en Verslaggewers Sonder Grense Suid-Afrika kort daarna na die 35ste posisie afgradeer het, dan is dit duidelik hoe onvry die lande is wat nou wildwakker ge-Twitter word.

Op 12 Maart vier die wêreld die Internasionale Dag teen Internetsensuur. Vanjaar is besonder simbolies na aanleiding van die rol wat die internet gespeel het om ‘n paar stoere diktators se gesag te laat verkrummel.

Wêreldwys is 119 Net-joernaliste agter tralies, teenoor 153 “gewone” joernaliste. Onder die Net-joernaliste wat klippe kap, is min waarskynlik op ‘n pap-dieët oor vuilbekkigheid waarvoor die Net ongelukkig ook bekend is, maar omdat hulle pennevrug diktators wakker laat lê.

‘n Onlangse peiling het ook aangedui die meerderheid Nederlanders sal eerder ‘n maand sonder koerant klaarkom, as ‘n maand sonder internet.

Omdat mediavryheid soos ons dit vandag ken, ‘n relatiewe jong gegewe is wat as onlosmaaklike deel van die demokrasie beskou word, is dit ‘n omstrede kwessie om ‘n datum aan die geboorte daarvan te koppel. Ongetwyfeld was die vrylating van Payne en sy makkers na Cromwell beheer oor Engeland teen 1649 oorgeneem het, ‘n belangrike mylpaal. Payne en sy vriende het bekendheid verwerf omdat hulle deur Koning Karel I toegesluit is, en toe gelas het dat, synde hulle nie wou hoor om hul kritiek op die koning te staak nie, ‘n oor van elk afgekap moes word. Die laksman, wat nie heeltemal ingestel was op sulke delikate kapwerk nie, het een se oor aan ‘n lelletjie laat hang, en moes toe maar weer die skavot bestyg om sy brouwerk te voltooi.

Eina Payne!

Meer sinvol-blywend was toe die VSA se grondwet in 1789 sy sogenaamde “First Ammendment” gekry het en nie net vryheid van uitdrukking opgeneem is nie, maar spesifiek ook persvryheid. Die Suid-Afrikaanse grondwet van 1996 het dieselfde beginsel gevolg, hoewel die meeste demokrasieë persvryheid aflei uit hul grondwetlike reg op meningsuiting.

Binne die Europese Unie is die reg op persvryheid al deur staatsleiers as die vierde been van die demokrasie, hoewel nie-amptelike, beskryf. Hofsake waar state inbreuk wil maak om veiligheidsredes, soos in Nederland, neig om teen die state te gaan.

Dit is dus ‘n ontsettende mag wat steeds aan die pen kleef, en dit spreek vanself dat demokrasie nie gedien kan word as die staat dit beheer nie. Daar is ook ‘n sterk ooreenkoms tussen ‘n staat se posisie op die persvryheidsindeks en sy plek op die korrupsiepersepsie-indeks.

Dis egter ook magtig as dit onregverdig of van lae gehalte is, en ook dit dien nie die demokrasie nie. Die publiek het die reg om op te eis dat die media so knap moet wees soos wat dit in die ekonomiese omstandighede kan bekostig om te wees… of bereid te wees om terug te staan vir die verskillende vorme van gemeenskapsmedia, insluitend die internet. Moderne tegnologie maak immers van potensieel enigeen ‘n joernalis – met sy selfoon kan hy foto’s neem waar die konvensionele media nooit betyds kan kom nie. Met sy internet het hy minute later ‘n berig op Koerant.co.za gepubliseer.

Nuusmakende instansies wat deur protokolle of ander voorskrifte voorskriftelik aan die media wil wees, gaan hul vingers verbrand in ‘n omgewing waar die kliënt, die publiek, altyd reg is.

‘n Minister kan hom ook met moderne tegnologie vasloop. Hy kan nog ontken hy het ‘n ruim bedraggie vir ‘n wêreldrekord ge-“promise” of die joernalis kan ‘n bandopname terugspeel daarvan.

Manyi se beskuldigings aan die adres van die media is misplaas – as joernaliste nié die vrae vra nie, is die storie môre per internet die wêreld vol – sonder die ministers se weergawes. Al is dit om te sê: “Disssie onsie, dis die &^%$ joernaliste.”