Subscribe by Email

Digitale eeu deur rommel of bloed gemeet

Digitale rommel

Die Arabiese domino-rewolusie het soos min ander gebeure die wêreld se aandag op elektroniese kommunikasie gevestig. Onluste het soos veldbrande versprei in lande wat in effek met mekaar kompeteer om die laaste plek op Verslaggewers Sonder Grense se presvryheidsindeks te behaal. Die verhaal word soos volg vertel: Uit ‘n moontlike 178 plekke, beklee Iran die 175de plek, Sirië is 173ste, Soedan 172ste, Jemen 170ste, Tunisië 164ste, Libië 160ste, Saoedi-Arabië 157ste, Palestynse gebiede 150ste en Egipte 127ste.

Die boodskap van die voortrollende revolusie is ge-Twitter. Ander netwerkgedrewe kommunikasienetwerke was nie ver agter nie. Afwesige persvryheid snoer nie meer die verspreiding van inligting nie.

Uit in interessante oord kan die teenwoordigheid van elektronika nou gemeet word. In Nederland word jaarliks vyf kilogram elektronika per kop wat weggegooi word, herwin. Die herwinningsmaatskappy meen egter dit kan nog veel beter, want in twee gebiede, Vlieland en Halderberge, is dit meer as 20 kilogram per kop.

Hoewel nie alle elektronika met kommunikasie verband hou nie, is heelwat daarvan tog vir dié doel in gebruik, en word lustig ge-Twitter en aan ander sosiale netwerke meegedoen. Sommige tieners lyk soos wandelende krismisbome soos hulle digitaal toegerus is. Voeg hierby ‘n paar oorringe en ‘n ring deur die neus…

In Suid-Afrika sal die gemiddelde omvang weens die armoedeprobleem en groter vlakke van ongeletterdheid veel minder wees. Tog het die hoeveelheid selfone in omloop in Suid-Afrika verklap dat die aantal onwettige immigrante waarskynlik veel meer is as wat gemeen is, omdat die aantal mense wat formeel in die land is, en oud genoeg is om selfone te kan gebruik, onmoontlik nie die hoeveelheid selfone wat gebruik word kan verklaar nie.

Wêreldwyd is daar nou 150 joernaliste in aanhouding. Dit is nie veel meer nie as die 128 netwerk-nuusverspreiders, deur Verslaggewers Sonder Grense Netizens genoem, wat aangehou word.

Regerings wat kommunikasie wil versper, neem duidelik kennis van die invloed wat hierdie alternatiewe media kan speel.

Dit is nog te vroeg om die moontlike invloed van netwerk-kommunikasie op die diensleweringsproteste in Suid-Afrika te bepaal. Die potensiaal is egter daar, al word dit deur die regering ontken. Opmerkings deur die Vrystaatse premier dat die regering nou eers besef hoe treurig dit in sommige gebiede gaan, loop soos ‘n veldbrand.

In Nederland word die digitale eeu deur herwinbare rommel gemeet. In die Arabiese wêreld deur die spoed van die domino-revolusie.

Suid-Afrika se maatstaf moet nog bepaal word. Ons moet bid dat dit nie deur trane en bloed is nie.

Ongelukkig is die potensiaal daar. Binne minute na Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC Jeugliga, en Julius Malema die skare by die Gelykheidshof in Johannesburg oor die verrigtinge toegespreek is, is daar letterlik duisende internetkommentare waarin mense woedend reageer. Nie alleen word die twee van voortgesette haatspraak beskuldig nie, maar daar word in fyn detail uitgelig hoe die twee here na bewering getuienis wat pas gelewer is verdraai of doodgewoon daaroor kluitjies bak.

As dit nie die temperatuur gaan laat styg nie, sal min dinge dit waarskynlik doen.