Subscribe by Email

Die VSA brand erg

Altesaam 20 reuse bosbrande woed nou gelyk in die VSA buite beheer, meestal in die weste waar versengende hitte wat rekordboeke herskryf en waar droogte ervaar word. Een brand, in Colorado, het daartoe gelei dat 11 000 mense ontruim moes word. Meer as 9 000 mense is ook weens ‘n brand in Utah ontruim.

Bosbrande kom nou al meer as ‘n maand lank onophoudelik in verskillende deelstate voor. ‘n Ongewone oorsaak word vir altesaam 20 van die brande wat al vanjaar uitgebreek het geblameer – mense wat vuurwapens afvuur. Die vonke van koeëls wat wegskram beland op kurkdroë gras en blare. Die probleem is so erg dat ‘n debat oor die hantering van vuurwapens opnuut in deelstate uitgebreek het waar vuurwapeneienaars se regte oor die dra en gebruik van vuurwapens so hoog aangeslaan word soos die reg om aan die regterkant van die pad te bestuur.

Dit is nog nie bekend hoeveel hektaar in totaal in die slag gebly het nie.

In een bosbrand in Colorado is meer as 17 000 hektaar verwoes, en in een brand in New Mexico is meer as 14 000 hektaar verwoes, dikwels in natuurparke.

Die warm weer in die Noordelike halfrond word met aardverwarming in verband gebring. Pas is berig dat die ys op die noordpool ‘n rekordvlak laagtepunt vir Junie bereik het, en dat die algehele laagtepuntrekord in September of Oktober aan die slag gaan bly.

Die tornado’s wat verskeie dl van veral die Oos-Vrystaat getref het, word ook aan die weersonstabiliteit toegeskryf wat met klimaatsveranderings gepaard gaan.

Foto van bosbrand in Colorado: Reuters

Herman Toerien