Subscribe by Email

Die vergete oorlog

In talle wêreldstede stede kan besoek gebring word aan die graf van die onbekende soldaat. Dit is simboliese grafte om die klein soldaat wat sy lewe buite die openbare oog verloor het, te eer.

Dit is egter nie net soldate wat as haas onbekendes sterf nie. So ongelooflik soos dit mag klink, kan ganse oorloë te midde van die moderne kommunikasie moontlik is, ook vergete raak terwyl dit in alle felheid voortwoed. Dikwels is dit nie omdat die oorlog ‘n te lae intensiteit het dat die oë van die wêreld nie daarop gerig is nie, maar dit wat onderliggend daaraan is, is politiek inkorrek – of dan – politiek inkorrek vir sommiges.

In Suid-Afrika word dikwels gesê dat plaasaanvalle en die wrede moorde waarmee dit dikwels gepaard gaan, so ‘n vergete oorlog is. Nie net haal dit selde die buitelandse media nie, maar heelwat plaasmoorde haal nie eens die sommige van die plaaslike media nie. Sommige politici verswyg as ‘n standaard die plaasmoorde.

Vergete oorloë kan by tye heeltemal in reses gaan, net om weer as ‘n terreurdaad of spesifieke insident die aandag te trek. Hoeveel Suid-Afrikaners sou byvoorbeeld van die Moslem-groepe in die Filippyne geweet as dit nie vir die ontvoering van die Strydom-egpaar was nie? Hoeveel mense sou geweet het van die ongedurigheid oor Kasjmir se status as daar nie periodieke terreuraanvalle in Indiese stede soos Moembaai was nie? Die Bali-bomontploffing het dié vergete oorlog onder die wêreld se aandag gebring.

Onlangs het Koerdiese insurgente 24 Turkse soldate in ‘n aanval om die lewe gebring. Dit was nie die eerste aanval vanjaar nie, en oor die afgelope aantal dekades het al duisende mense die lewe gelaat. Uit weerwraak het Turkse soldate gerugsteun deur vegvliegtuie die grens met Irak oorgesteek, en pas het Turkse tenks die grens oorgesteek, na berig word om ‘n Koerdiese basis van die PKK naby die stad Zakho aan te val.

“Koerde?” sal sommiges vra. Daar is dan nie eens ‘n Koerdiese staat nie. En dis juis grootliks die probleem.

Terwyl die meeste wêreldlande hulle kliphard beywer vir ‘n Palestynse staat, is daar ongeveer nie ‘n piep oor ‘n staat vir die sowat 30 miljoen Koerde nie. Sowat 20 miljoen Koerde woon in ‘n vaag-omlynde gebied wat as Koerdistan bekend staan, en oor Turkye, Sirië, Irak en Iran strek. Daarby is daar baie ander Koerde wat in haas amper alle lande in diaspora woon, en hulle nog sterk met die Koerdiese saak vereenselwig. Dit het onlangs weer geblyk toe ‘n Koerdiese leier in Sirië vermoor is, en Koerde in verskeie wêreldstede optogte gehou het en selfs Siriese ambassades binnegedring het.

Met die opdeel van die ou Ottomaanse Ryk is sommige nuwe state as’t ware kunsmatig en uit die niet geskep, wat weinig met werklikhede op die grondvlak verband gehou het. Hierteenoor is die aanspraak op staatskap deur die Koerde geïgnoreer, en is Koerdestan tussen verskeie state versnipper.

Koerdiese ryke het veral in die 11de en 12 eeu na Christus bestaan, en die bekende Saladin wat uiteindelik die Kruisvaarders uit die Heilige Land verdryf het, was ook ‘n Koerd. In die moderne era het die Koerde egter net sweempies van ‘n Koerdiese staat beleef. Die eerste was tydens die Tweede Wêreldoorlog toe ‘n Koerdiese staat in die Weste van Iran met Sowjet-hulp tot stand gekom het. Die bedoeling was duidelik om ‘n Sowjet-satellietstaat te skep wat strategiese toegang tot die Persiese Golf sou bied. Dié staat het nie ‘n volle jaar gehou nie, en is na die Sowjet Unie se onttrekking gou deur die Shah-bewind onderwerp.

Na die eerste Amerikaans-geleide inval in Irak het die eerste Bush-administrasie ‘n geen-vliegsone oor die Koerdiese gedeelte van Irak afgekondig. Die doel was om te voorkom dat Saddam weerwraak op die Koerde sou neem, wat in die verlede al erg onder hom deurgeloop het en onder meer aan gifgas-aanvalle blootgestel was. Die implikasie is dat die Koerde ‘n de facto onafhanklikheid verwerf het, ‘n situasie wat in die grondwet van die post-Saddam-era neerslag gevind het. Die gebied is boonop olieryk.

Hierdie outonome status binne Irak skep egter weer vir Turkye probleme, want die PPK skep basisse in onherbergsame dele, en kan van daar aanvalle op Turkye loods.

Om vanuit die Turkse geskiedenis agter die kap van die byl te kom, is baie moeilik. Turkye het sy geskiedenis rondom die rewolusie deur die jong Turke so volledig herskryf, dat min etniese Turke byvoorbeeld hoegenaamd glo dat daar ooit ‘n Armeense en Assiriese volksmoord was. Terwyl Armeniërs wêreldwyd voorberei vir die eeu-herdenking van die Armeense volksmoord, moes Nederlandse parlementslede van Turkse herkoms al hul setels prysgee omdat hulle nie wil aanvaar dat die volksmoord ooit plaasgevind het nie.

Die Koerde is aan soortgelyke doodsmarse en ander maatreëls as die Armeniërs onderwerp, en na raming het honderde duisende omgekom. Selfs so onlangs as 1990 is nog staatsgesanksioneerde koverte operasies uitgevoer wat selfs binne Turkye op ‘n skandaal uitgeloop, en laat vaar is.

So het die Turke ook oor die Koerde se bestaan ‘n digte sluier probeer trek. Die praat van die Koerdiese taal is verbied, en Koerdiese stede het Turkse name gekry. Trouens, die Turkse hantering van die Koerdiese vraagstuk, het sterk herinner aan genl. Franco se onderdrukking van die Baske.

Turkye wil egter lid van die Europese Unie word, en om dit te kan doen moet die land aan sekere eise voldoen, waaronder die behoorlike staatkundige erkenning van minderheidsregte. In Spanje het hierdie vereiste byvoorbeeld gelei tot die outonomie wat die Baske en Kataloniërs geniet.

Die Turke het nomineel sekere verdrukkende maatreëls opgeskort, soos die verbod op die gebruik van Koerdies opgehef, en stede kon nou weer op hul Koerdiese name genoem word.

Baie van die aanvalle wat nog steeds op die Turke geloods word, is historiese weerwraakaanvalle vir volksmoord, konfiskasie van eiendom en verdrywing.

Die Koerde leen hulle ook nie goed tot assimilasie in die lande waar hulle ondervang versplinter is nie. Hulle is nie aan die Turke of die Arabiere verwant nie – hulle is Indo-Germane. Die meeste is wel Moslem, maar Soenies wat hulle ook Iran waar hulle ‘n taalverwantskap het, nie by die oorwegend Sjiïtiese bevolking laat inskakel nie. Trouens, die Ajatollah Khomeini het kort na sy terugkeer na Iran ‘n heilige oorlog teen die Soenie-Koerde verklaar.

Hierdie eiesoortigheid verklaar moontlik ook hoekom die Koerde nie die Arabiese domino-rewolusie aangryp om in Sirië weer die opstande aan te blaas nie. Indien enigsins, sal die Koerde onder ‘n bewind wat Assad se bewind vervang, waarskynlik swakker daaraan toe wees. Dit klink ongelooflik, veral omdat veral Bashar al-Assad se pa ‘n hele paar bloedige anti-Koerdiese aksies agter die blad het, en baie Koerde onlangs eers, as deel van ‘n susaksie, hul Siriese burgerskap bekom of herwin het.

Is die Koerde selfs sonder blaam?

Die persepsie bestaan dat die Koerde hulle maklik tot kommunisme wend, soos die Sowjet-gesteunde kortstondige onafhanklikheid in Iran getuig. Die PPK is openlik Marxisties, en is trouens deur die meeste wêreldlande, waaronder die VSA, tot terreurorganisasie verklaar.

Hoewel uit die diaspora maklik die indruk van ‘n eensgesinde Koerdiese denke verkry word, is die Koerde soos alle ander volke intern polities gediversifiseer. Dit word byvoorbeeld aanvaar dat minder as die helfte van die Koerde in Iran die onafhanklike Koerdiese staat erken het. Die Koerdiese leier in Sirië wat onlangs vermoor is en tot die opstootjies en amabassadebestormings in Europa gelei het, was boonop meer van ‘n Koerdiese dissident as iets anders. Die ontevredenes het Assad vir die moord blameer, maar dit is meer waarskynlik dat Koerde binne die hoofstroomdenke vir die moord verantwoordelik was.

In die oorhoofse wêrelddenke word die Koerde nie as ‘n buitengewone bedreiging vir wêreld- of selfs streekvrede beskou nie, maar die probleem gaan ook nie in die voorsienbare toekoms opgeklaar word nie.