Subscribe by Email

Die stryd om die metro’s woed voort

849x493q70Ranjeni-edited-SA-elections-final-weekendDie stryd om Johannesburg en Pretoria woed voort en die Demokratiese Alliansie het tans ‘n effense voorsprong in albei dié Gautengse metro’s waar tellery byna afgehandel is na Woensdag se plaaslike regeringsverkiesing. Die DA het tans 42,07 persent steun in die Goudstad teenoor die ANC se 41,48, en in die Tshwane-metro 43,55 teenoor die 40,92 van die ANC. In Ekurhuleni aan die Gautengse Oosrand het die ANC 48,64 persent steun en die DA 34,44.

Die ANC het landwyd altesaam 53,82 persent steun, gevolg deur die DA met 27,01 en die Ekonomiese Vryheidsvegters met 8,1.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê intussen DA-leier Mmusi Maimane se aankondiging dat sy party die ANC in die Tshwane-metro verslaan het voor die amptelike aankondiging gedoen is, is nie verkeerd nie. Maimane het gister aan joernaliste gesê die party het meer steun as die ANC in die hoogs bestrede owerheid behaal. Die OVK se ondervoorsitter, Terry Tselane, sê daar is niks verkeerds of ongerymd aan sulke aankondigings nie.