Subscribe by Email

Die pad vorentoe

Mnr FW de Klerk het die Kaapstad Klub op 10 November toegespreek oor “Die Pad Vorentoe”.

In ‘n toespraak vroeër die jaar het FW de Klerk opgemerk dat ons ‘n kritieke punt in ons geskiedenis nader waar alle goedgesinde Suid-Afrikaners hulle om die Grondwet moet skaar. Volgens hom begin die kritieke balans al hoe meer onvoorspelbaar tussen die positiewe en negatiewe kantel. Mnr De Klerk het gesê daar is steeds heelwat positiewe aspekte:

• Verwagte groei van 3.1% hierdie jaar is steeds nie genoeg nie – maar is aansienlik beter as baie vooraanstaande ekonomieë.
• Regeringskuld gaan opbou tot 40% van BBP – wat steeds veel meer gesond is as baie van die wêreld se voorste ekonomieë waar nasionale skuld nou 100% van BBP oorskry.
• President Zuma se aankondiging laat-Oktober dat twee ministers in die pad gesteek is en die skorsing van die Kommissaris van Polisie, asook die aanstelling van ‘n Regterlike Kommissie van Ondersoek na die wapentransaksie, is stappe in die regte rigting – al moes hulle vroeër geneem gewees het.
• Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het ‘n voorbeeldige rol gespeel met haar ondersoeke na wanadministrasie.
• Die burgerlike gemeenskap het hom bewys as ‘n formidabele beskermer van ons grondwetlike waardes. ‘n Voorbeeld hiervan is die sterk rol wat dit speel om die Beskerming van Inligting Wetsontwerp teen te staan.
• Suid-Afrika gaan voort om ‘n prominente rol te speel in internasionale aangeleenthede – in die AU, die Groep van 20 en BRICSA;
• Die howe bewys hul doeltreffendheid met betrekking tot die instandhouding van die Grondwet en die beperking van misbruik van mag deur die uitvoerende gesag.

Die positiewes gaan ongelukkig hand-aan-hand met ‘n aantal ontstellende negatiewes.

Een van die sentrale redes tot kommer is die waarskynlike uitwerking van die ANC se Nasionale Konferensie in Mangaung volgende jaar.

Mnr De Klerk het genoem dat LPs volkome onder die beheer van hul partymasjinerie is omdat, indien hulle uit die party wat hulle tot die Parlement benoem het uitgeskop word, hulle hul sitplekke in die Nasionale Raad verloor. Dit beteken dat wat ookal in die binnekamers van politieke partye gebeur, meer belangrik is as dit wat in die Parlement gebeur.

By die ANC se laaste Nasionale Konferensie in Polokwane in Desember 2007 het ‘n swaai van slegs 10% van die 3 900 stemgeregtigdes die aansig van Suid-Afrikaanse politiek drasties verander. Die Mangaung-konferensie volgende jaar gaan bepaal of President Zuma ‘n tweede termyn gaan dien. Dit sal beleid neerlê vir die volgende vyf jaar en sal aandui welke van die Alliansie se faksies as die sterkste groepering na vore gaan tree. Mnr. De Klerk het opgemerk dat in die aanloop tot die Nasionale Konferensie sal die aandag van die Alliansie daarop toegespits wees om die ondersteuning van soveel as moontlik van die afgevaardigdes te werf. “Die probleem is dat al hierdie maneuvrering nie gunstig vir helder en effektiewe leierskap is nie.”

Mnr De Klerk het gesê dat alhoewel die ANC se besluit om Julius Malema te skors moontlik sy politieke loopbaan kan kortknip, het dit nie die realiteite verander wat die Malema verskynsel onderskraag nie:

• Die eerste was die werkloses en die onder-opgeleide jong Suid-Afrikaners wat hy voorgee om te verteenwoordig. Die Nuwe Suid-Afrika het misluk om hulle van basiese onderwys en die werksgeleenthede wat hulle so desperaat nodig het, te voorsien. Hul benarde toestand is ‘n nasionale prioriteit wat toegewyde aandag van die regering, die sakesektor, burgerlike gemeenskap en vakunies verg. “Wat ons jongmense nie nodig het nie is die populistiese en ekonomies-ongeletterde oplossings wat deur die Jeugliga aangebied word”.
• Die tweede onrusbarende faktor is die mislukking van die ANC leierskap om ferm in die openbaar standpunt in te neem teen die toenemend rassistiese en opruiende retoriek wat deur Malema en die Jeugliga opgedis word. Etlike maande gelede het President Zuma in stilte op dieselfde verhoog gesit terwyl Malema blankes beskryf het as “misdadigers, wat ons grond gesteel het en wat as kriminele behandel moet word.”

In die finale instansie is die menings wat deur Malema uitgespreek word, nie ver verwyder van die ANC se eie Nasionale Demokratiese Rewolusie ideologie nie wat “die eliminasie van die nalatenskap van apartheid super-uitbuiting en ongelykheid, en die herverdeling van rykdom en inkomste tot voordeel van die gemeenskap as geheel, veral die armes” ten doel het.

Die uiteindelike doelwit van die NDR is ‘n “nie-rassige demokrasie” – in alle aspekte van beheer, eienaarskap en bestuur van die staats-, privaat- en nie-regeringsinstansies – wat die demografiese samestelling van Suid-Afrika se bevolking weerspieël.

Volgens mnr De Klerk is die mees onlangse toepassing van hierdie ideologie van demografiese verteenwoordiging in die Departement van Korrektiewe Dienste in die Wes-Kaap. Bruin werknemers van hierdie departement is in kennis gestel dat hulle getalle verminder sal word van die huidige 38%, tot 9% ten einde hulle in lyn te bring met hul persentasie van die nasionale bevolking.

Mnr De Klerk noem ook dat die NDR-ideologie duidelik is in inisiatiewe soos die Groenskrif oor Grondhervorming wat verklaar dat “alle anti-koloniale strydaksies in hul wese oor twee aangeleenthede gaan: herbesitneming van grond wat deur mag of misleiding verloor is; en die hervestiging van die sentraliteit van inheemse kultuur.” Die opstellers verklaar eintlik dat 17 jaar na 1994, die anti-koloniale stryd nog nie verby is nie: blankes is kolonialiste; die stryd is teen hulle; en die inheemse kultuur behoort sentraal tot alles te wees.

Die Groenskrif stel voor ‘n beleid van “Landbou Transformasie” – wat dit beskryf as “spoedige en fundamentele verandering in die verhoudings [stelsels en patrone van eienaarskap en beheer] van grond, lewende hawe, oeste en die gemeenskap.” Mnr De Klerk het gesê dat die implementering van die Groenskrif verreikende en negatiewe gevolge vir plaaslike en internasionale beleggings, asook voedselsekuriteit sal hê. Dit sal ook rasseverhoudinge en eiendomsreg ondermyn.

Mnr De Klerk het beklemtoon dat geen redelike Suid-Afrikaner die noodsaaklikheid om werklike gelykheid te bevorder, bevraagteken nie; om ware gekykheid te bevorder; om regverdige en lewensvatbare grondhervorming te laat slaag; en om enige hindernisse te verwyder wat mag oorbly om swart vooruitgang in die ekonomie of enige ander sektor van ons nasionale lewe te verhoed nie. Mnr De Klerk het ‘n beroep gedoen op dialoog met die ANC en het gesê dat Suid-Afrikaners met mekaar behoort te praat oor hierdie vraagstukke op dieselfde eerlike en konstruktiewe wyse as tydens die onderhandelinge van die 1990’s.