Subscribe by Email

Die “orgazm” eetplek en ander Ballito dinge.

‘n Kort verslag oor ‘n heerlike wegbreek geleentheid na Ballito, aan die KZN se Noord-Kus.

Ballito Dit is Dinsdag, 16 Maart 2010, die nodigste dinge is gepak en ons vertrek na Ballito vir ‘n wegbreek van 3 dae, al langs die N3 na Durban, vanwaar ons op die N2 Noord klim en 50 km noord van Durban hierdie moderne en gewilde kusdorpie aan die KZN se Noord-kus tref. Ballito, ook die domein van die bekende Mnr Louis Luyt, waar Luyt Brouerye nog steeds ‘n plekkie het. Ons kry ons woonstel se sleutels, en sit af na die pragtige “triplex” woonstel reg op die strand.

Die see is pragtig, skoon, met ‘n helder aqua kleur, mens kan dwarsdeur die brekende branders sien, die strande is netjies, skoon, en direk toegangklik, 20 meter van ons woonstel se voorhekkie.

Die atmosfeer is heerlik “platteland by die see” terwyl die buite seisoen paar vakansie gangers en plaaslikes die son en branders saam met ons geniet, spasie vir almal. Hier en daar is daar ook ‘n visserman wat sy lyn bietjie natmaak vanaf die rotsgedeeltes op die baie verskillende kleiner strandjies direk in die omgewing.

‘n Ellelange “boardwalk” verbind die hele Ballito strandfront, waarop jy vir kilometers al langs die strand kan loop, van een punt na die ander, indien jy nie verkies om dit op die sand self te doen nie. Met hoogwater stoot die see op tot amper teenaan hierdie “boardwalk”

Die klimaat in Maart is eintlik baie lekker, dit is nogsteeds taai-drukkend-warm, maar die seebriesie sorg vir ‘n welkome balans in temperatuur en hitte ongemaklikheids vlakke. Geen sterk winde het tydens ons verblyf gewaai nie, en hoewel die wolke partykeer goed saamgepak het, kon ons tog genoegsaam werk aan daardie “ek was by die see tan”.

Nou moet ek ook eers vertel van die eetplekke wat ons wel kon besoek in hierdie kort wegbreek rukkie wat ons daar was.

Die eerste aand het ons rondgery, opsoek na ‘n eetplek, en kom toe op die Cosmos Coctail Bar en Restaurant af. Ons sit buite op die dek, met die see amper reg onder ons. Ons het effe ongemaklik gevoel, ek weet nie hoekom nie, maar die eerste indrukke van hierdie eetplek was effe taaierig. Ons kelnerin vir die aand, met wie ons aanvanklik engels mee gesels het, neem ons drankie bestelling. Ek bestel ‘n Castle, en my vrou ‘n Black Lable, en hier haak die kelnerin af met die volgende woorde op my vrou se bestelling:

“Ahhh, another lady who drinks black lable, that is good, because they say that black lable is good for a ladies orgazims”

Nodeloos om te se, dat ons eers geskok, en toe amper kliphard gelag het oor hierdie opmerking, en uiteindelik kon agterkom, wat ons kelnerin eintlik bedoel het om te se, is dat sy gehoor het dat black lable goed is vir ‘n vrou se interne organe. Daarna het ons, na ‘n heerlike lag, eerder met haar Afrikaans gepraat. Die kos was toe darem nie te sleg nie, maar omdat ek ‘n vleiseter is, was die porsie net effe min vir myself, en het die prys daarvan nie die hoeveelheid wat in my bord was, geregverdig nie. Ek gee die Cosmos in Ballito darem ‘n 5 uit 10.

Die volgende oggend, het ons ingery na die “Lifestyle Sentrum” om ‘n brunch te gaan geniet by ‘n meer bekender plek, en ons kies toe die Spur uit, omdat ons weet watter kwaliteit mens gewoonlik by ‘n Spur restaurant tewagte kan wees. In hierdie geval, wat ‘n yslike teleurstelling was die Spur in Ballito gewees.

Ek het nog nooit so baie “foute” kon kry met enige eetplek, as met die Spur in Ballito. Eerstens moes my koffie wat ek vooraf bestel het, omgeruil word, omdat die melk wat hulle voorsien het, suur was, en aanpaksels so duk soos sneeuvlokkies in die koffie gevorm het. Verder was die area waar ons gesit het, uiters vuil, met ‘n dik laag stof op die lysies, en spinnerakke aan die boonste hoeke van die vensters. Ek het foto’s daarvan geneem, en onderneem om dit aan te stuur na die Spur Hoofkantoor. ‘n Los plafon wat lyk of dit enige oomblik gaan afval, het bokant ons koppe gehang.

En toe kom die kos. My bestelling was ‘n 500 gram lazy aged steak, en wat ‘n teleurstelling. Ek bestel altyd ‘n lazy aged steak by ‘n Spur restaurant, en weet presies hoe dit deur die bank orals voorberei word, en weet ook hoe dit moet proe, met monkygland sous. Die steak in my bord was beslis nie aged nie, en effe taaierig. Verder was dit beslis nie ge “flamegrill” en het ook nie enige “basting” bevat nie. Hierdie dinge is standaard by ander Spurs waar ek soortgelyk al bestel het. Die “monkygland” sous het sommer so ‘n valerige kleur gehad, en gladnie na monkygland sous geproe nie, en die tjips en uieringe was effe gebrand in te-warm olie. En dan, my medium gaargemaakte steak, was alles behalwe medium gaar, dit was oorgaar. Die Spur in Ballito, kry ongelukkig by my ‘n 0 uit 10.

Die volgende oggend, ons laaste oorslaap dag in Ballito, besluit ons om ‘n lekker boere ontbyt te gaan eet by Mugg and Bean. Om ‘n lang storie kort te maak, het Mugg and Bean ons ontbyt opgeneuk, want die eiers wat ons “sunnyside up” bestel het, was amper “gescramble” so gaar was die geel. Die bestellings van doodgewone boere ontbyt kos, was ook nie korrek uitgevoer nie, deurdat daar “beef saussage” in ons borde beland het in plaas van die bestelde “pork banners” Geen botter was beskikbaar vir die “toast” nie. Daar is duidelik ook geen kwaliteit beheer by Ballito se Mugg and Bean, met wat uit die kombuis uit kom nie. Wat ‘n teleurstelling. Mugg and Bean, Ballito, kry ‘n 4 uit 10 by my.

Nou voordat enige leser dalk dink ek is vreeslik vol fiemies, kom ek vertel julle van ons laaste eetplekkie, waar ons op ons laaste aand in Ballito gaan eet het. Dit was by die Ocean Bar and Grill, reg op die strand. Hierdie eetplek het sy deure blykbaar een week gelede oopgemaak. Ons kies toe ‘n tafel buitekant, op die dek, reg langs die branders.

Die kelnerin wat ons bedien het, was baie profesioneel, ken haar produkte, en ook baie ywerig en vriendelik, sonder om werklik te pla. Die spyskaart het werklik ‘n wye keuse, van allerhande disse, vanaf eenvoudig tot gourme. Ek is honger, en my oog vang die 500 gram “prime cut” steak “grilled to perfection” op die spyskaart. Ek bestel dit, natuurlik medium gaar, met monkygland sous, tjips en ‘n mengelmoes van groen slaai.

My bord kos arriveer, en opvallend was die keurige aanbieding van hoe alles gerangskik is in my bord. Die steak was werklik sappig, medium gaar, sag, heerlik, en vullend, saam met die tjips wat uit werklike aartappels bestaan, en die slaai was kraakvars en heerlik, maar die monkygland sous was die eerste perfekte monkygland sous wat ek in ‘n lang tyd kon geniet. Die bediening was flink, op tyd, elke keer, en vriendelik. Die eienaar is nog ‘n jong man, en ons wens hom groot sukses toe met sy week oue restaurant, werklik aan te bevele aan enige een wat nie lus is om bloutjies te loop op ander plekke in Ballito. Die Ocean Bar and Grill in Ballito kry by my ‘n 10 uit 10. Hulle verkoop ook Luyt Lager daar, in Luyt Lager glase.

Ballito, is oor die algemeen, ‘n heerlike rustige vakansie wegbreek plek, en ons sal beslis teruggaan soontoe, maar beslis sekere eetplekke vermy.

Sien julle daar volgende keer.