Subscribe by Email

Die nuuskommentator – ‘n paadjie vol slaggate

Die doel van hierdie artikel is nie om myself te evalueer, te verontskuldig of vir komplimente te vis nie.

Na sowat twee dekades se feitlik ononderbroke nuuskommentare die raaktrap van slaggate, die kopwas, die advies is daar dalk ‘n ietsie wat vir aspirant kommentators handig te pas kan kom. Dié kommentare het oor die jare verskeie kere van die tipe media verander – aanvanklik vir ‘n staatspublikasie gemik op ‘n swart gehoor, daarna merendeels vir LUK’s, ministers en so aan, toe vir ‘n privaat koerant, maar nooit daagliks nie, en toe begin dit daagliks raak vir ‘n radiostasie. Later meer as een radiostasie, en nou veral vir die nuwe media- die internet.

Nuuswaardigheid is nie maklik begrensbaar nie, en daarom kan ‘n nuuskommentator nie sommer kieskeurig wees oor wat die nuus van die dag is wat kommentaar verg nie. En dis nie noodwendig ‘n onderwerp waarmee hy vertroud is nie, en nog minder iets waarin hy self belangstel.

Spesialisasie is egter ‘n luukse wat min mense gegun word.

‘n Goeie algemene kennis is dus broodnoodsaaklik, al is dit net om leidrade te kry oor watter soekterme om in daai onontbeerlike moderne hulpmiddel, Google, te gaan intik. Met meer grys hare, gebeur dit nou minder maar as student het ek ‘n kompetisie vir algemene kennis gewen, en is ek ‘n slag deur iemand in die inligtingegemeenskap beskryf as “die een wat alles weet.”

Nou ja, wanneer mens ouer word, sal die jonklomp wie se gebrek aan algemene kennis jy so jammer vind, gou vir jou sê jy weet niks. Darem gelukkig van Google.

Ervaring help gewoonlik. Dit beteken egter nie dit sluit jong mense uit nie … daar is jong mense wat eenvoudig met die goue talent in die vingerpunte gebore is. (En ja, moedig hulle gerus met komplimente aan).

Die gehoor bepaal die lengte van ‘n nuuskommentaar. In die gedrukte media is ruimte gewoonlik baie beperk. Vir ‘n radiostasie is die lengte gewoonlik ‘n titseltjie langer. Die kuberruim gee bietjie meer ruimte tot versigtige formulering en volledigheid, maar dit moet steeds in gedagte gehou word dat die gemiddelde leser nie in ellelange stukke andermanskommentaar belangstel nie. Bly dus steeds in hoofsaak by feite, feite, en beperk onnodige eie afleidings.

Objektiwiteit is baie noodsaaklik. Daar is gevalle waar die kommentator verskoon sal word as hy emosioneel raak. Ja, die dag toe klein Anri dood is – die vierjarige dogtertjie wat vir ‘n pleistertjie vir die eina gevra het na ‘n rowerskoeël wat deur haar pa se nek getrek en hom verlam het, haar in die magie getref het. Daai dag het ek soos ‘n baba getjank, en ja, dit het in die nuuskommentaar deurgeslaan.

En ja, as ‘n kind wat voor jou grootgeword het saam met sy swaer deur plaasaanvallers met masjiengewere afgemaai is, van jou familie trauma van plaasaanvalle (ja, meer as een) oorhou, en jou eie seun wil gaan boer, dan is dit ook nie so maklik om ‘n nuuskommentaar oor plaasmoorde te skryf en die woede of hartseer nie daarin neerslag te laat vind nie.

Geen mens is ook volkome objektief nie, ook wat die politiek betref nie. Luister maar na enige kommentaarprogram op TV of op radio, en baie dikwels hang politieke of ideologiese onderrokke ver uit. Daar is egter twee redes waarom dit so ver as menslik moontlik vermei moet word.

Ten eerste is dit oneerlik teenoor die leser / luisteraar. Hy verwag ‘n objektiewe analise.

Die tweede rede is ‘n bietjie diepsinniger. In die inligtingsgemeenskap geld die reël dat jy jou kliënt (gewoonlik die kabinet) oor die waarheid moet inlig, nie wat die kliënt wil hoor nie. Die ontleder doen die kliënt ‘n vreeslike onreg aan deur te gaan rapporteer wat die kliënt wil hoor, natuurlik as die inligting nie volkome waar is nie.

Binne die inligtingsgemeenskap word verskeie maatreëls getref om dit te probeer voorkom. Opleiding word verskaf, waar onder meer verwys word na die katastrofiese gevolge wanneer die waarheid weerhou was. ‘n Tweede meganisme is om die junior so ver moontlik net tot feitelike verslae te beperk. Wanneer hy oor die vermoë beskik om feite behoorlik te identifiseer, kry hy die voorreg om bietjie kommentaar by te voeg – maar daardie kommentaar mag net op die feite wat neergepen is betrekking hê, en feite en kommentaar word onder verskillende hofies gepaas. Eers daarna kan die feite vertolk en bespreek word.

Nie alle nuuskommentators gaan egter deur hierdie “skool” nie, en nie almal wat deur die “skool” is kry dit onder die knie nie.

As nuuskommentator mag daar ook geen eie agenda wees nie – nie verskuild nie, en ook nie openlik nie. Dit mag natuurlik wees dat die nuuskommentator deur ‘n instansie gekontrakteer word wat wél ‘n agenda het, en van die nuuskommentator verwag om daardie agenda te dien. Die meeste sodanige instansies, veral in die media, sal egter ook een of twee nuuskommentators op die “boeke” hê wat wel onverbonde, vakkundige suiwer kommentaar lewer en so die breë persepsie van geloofwaardigheid bevorder.

Nog ‘n “probleem” is dat die meeste nuuskommentators meer as een hoed dra, omdat dit selde lewensvatbaar is om uit nuuskommentaar self ‘n bestaan te maak. Sommiges is in vaste ander beroepe, by sommiges is dit deel van hul beroep, bv as navorser, en by ander is dit een van ‘n wyd-uiteenlopende spektrum funksies wat iemand om den brode verrig. In hierdie verband duik die titel van die bekende boek van John le Carré op: Tinker, Tailor, Soldier, Spy.

Die nuuskommentator vind dit dalk heel maklik om sy verskillende hoede uitmekaar te hou, maar die leser projekteer dalk sy eie onvermoë om dit te kan doen op die nuuskommentator, en begin los rafels soek om aan te begin torring. Hierdie aspek is waarskynlik die moeilikste newe-effek van die nuuskommentator se werk, want hy moet ‘n magdom vooroordele oorkom om tot die kritikus te kan spreek – indien enigsins moontlik.

Behoort ‘n nuuskommentator met ‘n kritikus in ‘n woordetwis betrokke te raak? Dis ‘n taai toffie.

Deur ervaring leer die nuuskommentator dalk die patologiese skoorsoeker herken, en hy weet dus beter om so iemand liefs te ignoreer. Die probleem is dat die ander lesers dit dalk nie herken nie, en onbeantwoorde afkrakings bly staan dan as professionele verdagmaking. Maar antwoord nou so ‘n skoorsoeker en dit kry nie ent nie, want hy móét die laaste woord inkry. Dis deel van sy psigologiese profiel.

En in die onwaarskynlike geval dat sy tjank hier afgetrap word, sal hy op ‘n ander plek, selfs waar ‘n ander hoed ter sprake is, opduik.

Dit is natuurlike ‘n ope vraag of ‘n nuuskommentator wat sy sout werd is ‘n ruk in die bedryf kan staan sonder om sulke gatvlieë op te doen. Is die een wat daarin slaag om dit nie op te doen nie werklik so knap, of skryf hy sulke oninspirerende, futlose kommentare dat niemand ‘n behoefte ontwikkel om ‘n eiertjie daaroor te lê nie?

Elke nuuskommentator waardeer eerlike kritiek. Daarsonder kan hy nie skaaf en verbeter nie.

Dit bly nietemin onlekker as die gatvlieg se persoonlike afkeurende fiksasie obsessiewe neigings openbaar. En hoe meer hulle vasgetrap word, hoe meer verdiep die psigologiese destabilisasie. Hoe meer sy opvattings as belaglik aan die kaak gestel word, hoe groter word sy drang na selfgelding om te wys hy is die meester.

Menige redakteur sit met hierdie probleem – ‘n persoon wat die redakteur bydam omdat hy aandui ‘n mens moet ook die “Kussiete” liefhê, iemand wat meen die redakteur trap mop tone ….

Die nuuskommentator moet nie net vakkundige kennis hê nie, hy moet dit by uitstek kan toepas, anders is hy soos die loodgieter wat al die “papiere” het maar nie ‘n pyp in die praktyk kan las nie. Verkieslik moet hy ook sy vakkundige kennis kan integreer – maw as hy opleiding in ekonomie en politieke wetenskap het, moet hy die twee se kennis verkieslik sinvol kan integreer.

Sy uiteensetting moet logies wees. Weer eens, wat vir die een logies is, is vir die ander nie so logies nie. Dit help om die gehoor in gedagte te hou.

Elke nuuskommentator sal sy eie styl ontwikkel, die een s’n minder suksesvol, en die ander s’n meer suksesvol. Die een sal die vermoë hê om uitdagend te wees – selfs banaal, en ‘n groot aanhang op die bou. Iemand wat hom dit probeer nadoen, word gewoon begrawe.

Die een sal gou verdwyn tensy hy skerp fokus op die nuuswaardige wat die dag die verbeelding aangryp. Die ander sal suksesvol die nuusstorie wat deur die krake geval het kan gaan opdiep en opdis sodat dit sterk nuuswaardig deurbreek.

Word ‘n mens moeg vir elke dag ‘n nuuskommentaar opstel?

Normaalweg strek so ‘n taak darem met van Maandag tot Vrydag, met naweke en vakansiedae om die ”batterye” te laai.

Gewoonlik het ‘n mens een van twee keuses: Of baie vroeg soggens opstaan om die binnelandse en buitelandse nuus “na te gaan” om die onderwerp te identifiseer. Of laat te gaan slaap na ‘n mens die vorige aand ‘n onderwerp geïdentifiseer het en die nuuskommentaar neergepen het.

Omdat die nuuskommentator so aktueel as moontlik wil wees, val die opsie gewoonlik op die vroeg uit die vere. Baie vroeg. Dit is ook gewoonlik voor die telefoon begin lui, en voor besoekers opdaag. Die lastigheid is natuurlik – as die telefoon wel lui, of besoekers opdaag, is jy gewoonlik die enigste een wat op is. Die antwoordwerkie word joune, die gaan opklop van die een vir wie die oproep is, is joune, en al duur dit net ‘n paar minute is jou gedagtegang in sy maai in versteur. En moenie dink dis iets wat maar selde gebeur nie, nie as jy familie of skoonfamilie op plase het nie, en as iemand voor sewe soggens ‘n uur lank gratis kan bel nie.

En ja, aanvaar maar dat jy elke keer wat ‘n sekere beller die oproepe maak, gevra word wat jy maak (jy antwoord elke keer jy is besig met die nuuskommentaar, maar op daardie tydstip is jy eintlik besig om ‘n eier op ‘n plek gaar te kook), elke keer word gevra wat doen die een vir wie die oproep bedoel is (elke keer sê jy laas wat jy gesien het was die persoon in droomland), en elke keer moet jy die een uit die kooi jaag.

Gelukkig deesdae vir ADS-lyne en soortgelyk. Daar was ‘n tyd dat die produk soggens vroeg na die kliënt gefaks moes word. Lekker gevorderd – sommer so regstreeks van die rekenaar af. En net soos jy die faksnommer ingetik het en die “Send”-knoppie wil druk, lui die telefoon!

Praat van eiers kook!

Wanneer die kommentaar versend is, begin die gewone werksdag. Gebad, ontbyt geëet en ‘n ander hoed opgesit. Kwart oor sewe op kantoor wanneer ‘n mens ‘n kantoorwerk in die stad het, en die bus nie al weer laat was nie. Deur die dag bly die ore maar soos antennas wat probeer opvang wat dalk die onderwerp vir die volgende nuuskommentaar kan wees.

Die nuuskommentator moet die nuus redelik goed volg en homself ook heeltyd “meet” aan ander. In my geval beteken dit dat ek nié 7de Laan volg nie, maar wel die nuus daarna kyk. Dit beteken ek mis nie tensy ek kan verhelp drie programme op die radio nie – Hoe verklaar jy dit?, Sterre en Planete en die belangrike ene vir nuuskommentaar skryf, Kommentaar Sondagaande op RSG.

En raai wanneer lui die telefoon? Dan is daar genoeg mense in die huis op om te antwoord, maar nie lank na geantwoord is nie: “Pa!”

Die een die ander kant kan nie verstaan hoekom ek net “ja” en “nee” nie, en die radio op die agtergrond so hard aan is nie. Nou het die uwe skynbaar al die hele samelewing geskool oor die tye wanneer nie gebel behoort te word nie.

Maar dit sal ook ‘n mite wees om te probeer voorgee dat die dag in, en dag uit nuuskommentaar nie sieldodend kan wees nie. Hiervoor is daar gelukkig al jare ‘n “verpligte” afleiding – die weeklikse rubriek Herrie se kerrie, wat nou al van 2005 af in die Oos-Vrystaatse koerant, Vrystaat, loop. Die afgelope paar jaar het ‘n tweede humorrubriek in ‘n ander publikasie bygekom, Blik Oor sê…

Op die oomblik wag Herrie, ekskuus, ek angstig op die uitslag van ‘n bundel kortverhale, meestal humoristiese stories, wat by die uitgewers is om goed- of afgekeur te word.

Die voorgestelde titel, die Reine waarheid en ander liegstories van oraloor, is miskien nie die beste advertensie vir iemand wat sy nuuskommentare probeer suiwer hou nie.