Subscribe by Email

Die Legendes leef met Country in die Bosveld

Die afgelope naweek was daar heerlik gekuier in die Noordweste, daar naby Sun City se wêreld, by die Sundown Ranch Hotel en Leeupark. Die bosveld plekkie is geleë so 10 km vanaf Sun City, op die Rustenburg pad. Die geleentheid was ’n heerlike Country Musiekfees, waar al die ou country musiek legendes wat die afgelope 30 + jaar diep spore getrap het in Suid-Afrika, bymekaargekom het, en saam met die Suid-Afrikaanse Rodeo girls ’n hele dag van Country Musiek aangebied het. Dit was voorwaar ’n heerlike eer om al hierdie legendes bymekaar te kon kry op een plek en op een verhoog.

Die Saterdag oggend het die musiek afgeskop om 10 uur, met die minder bekende opkomende en baie talentvolle country sangers en Elzè was eerste op die verhoog om die mense te vermaak met haar jong en vars aanslag tot die genre. Daarna het JD met sy kitaar weggetrek met ou bekende en minder bekende lekker liedjies. Kort op sy hakke was dit Joey Lane se beurt, met haar meester vertolking van sommige Patsy Cline liedjies en ook liedjies vanaf haar album. Die Jong man Jason Bradley, het Joey Lane gevolg op die verhoog en lekker loslit moderne country rock uit sy kitaar opgetower.

 

Lance James en die Rodeo Girls. Foto-Kraaipromosies

Daarna was dit die legendes se beurt om die skare te vermaak vir ’n volle 4 ure lange vertoning. Lance James, die Big Daddy van countrymusiek in SA, wat ook as die MC waargeneem het tydens hierdie vertoning, was eerste op die verhoog, met die Rodeo Girls wat hulle passies in “line dancing” saam met hom uitgevoer het.

Lance James - Foto Kraaipromosies

Lance het ’n mens laat terugverlang na ’n era so 20 tot 50 jaar gelede, met sy immergroen maar nuwe en vars vertolking van sy gewilde liedjies. Die Rodeo Girls met hulle perfekte choreografie het in pas gebly dwarsdeur sy vertoning, met ywer en baie stamina.

 

Clive Bruce, Foto-Kraaipromosies

Net daarna, het die alombekende Clive Bruce, wat ook aanbieder was van country musiek programme op televisie, soos Keep it Country en Sounds Country, die skare vermaak met sy immergewilde countryliedjies. Clive lyk nog na al die jare net so jonk soos altyd en mens wonder wat is sy geheim en/of dit dieselfde geheim is wat Cliff Richard en Jody Wane dalk ook het.

Clive Bruce (on the road again) Foto-Kraaipromosies

 

Sally Vaughn, Foto-Kraaipromosies

Sally Vaughn was volgende, een van die groot vroulike country legendes in Suid-Afrika, ook bekend as Mamma Country. Mensig, Sally moet ook ’n geheim iewers ontdek het, want sy lyk baie goed en het beslis gewig afgegooi die afgelope klompie jare. Ek het haar byna nie herken toe ons die eerste keer daar rondom die “backstage” yskas gesels het voor haar vertoning nie. Sally se weergawe van die immergroen “Glory Halleluja” liedjie, is ’n bewys dat sy beslis nogsteeds al die oemf het om enige liedjie met volle oorgawe en talent te sing en die skare het mal geraak toe sy haar vertoning daarmee afgesluit het.

Jody Wayne, Foto-Kraaipromosies

Na die staande ovasie van Sally, was dit Jody Wayne se beurt en soos vroër opgemerk, lyk hy ook nie ’n dag ouer as die tyd toe “Patches” en “The Wedding” die gewildste liedjies in Suid-Afrika was nie. Met die kenmerkende enkel arendveer in sy hare het hy bewys dat hy nog net so ’n romantiese legende soos altyd was en sy charismatiese vertoning en vertolking van sy liedjies was puik boerekos vir almal en ek is doodseker dat ’n hele aantal musiek feesgangers opnuut verlief geraak het op Jody en raai wat, na al die jare het Jody nog ’n paar ekstra Afrikaanse woorde aangeleer.

 

Barbara Ray, Foto-Kraaipromosies

Barbara Ray, die meisie vanuit Engeland, maar die country legende van Suid-Afrika, het Jody opgevolg op die verhoog. Wie sal ooit haar gewilde “I don’t wanne play house” kan vergeet uit ’n era toe die baby boomers van vandag nog sulke opgeskote laerskoolkinders was? Die heimwee was vlak op die gesigte van haar aanhangers terwyl sy nog net soos altyd ’n meesterlike vertoning gelewer het en bewys het dat sy nog steeds die talent het sonder om terug te staan vir enige een in die bedryf.

 

Barbara Ray, Foto-Kraaipromosies

Maar dan, moet mens ook byvoeg, dat Barbara beslis ook moontlik daardie ewige jeug geheim ontdek het.

 

Billy Forest, Foto-Kraaipromosies

Die lang man, die legende Billy Forest, was volgende aan die beurt en ons almal wat die aero advertensie op televisie vroër jare gesien het, waar die lied “Tiny Bubbles” in gebruik is, sal beslis onthou wie Billy Forest is. Immergroen, immergewild en nog vol geesdrif, grappe en ywer, het Billy ons teruggeneem oor ’n era van country musiek in Suid-Afrika, met sy vertolking en mooi diep stem, van sy gewilde liedjies in die loop van die jare. En toe gebeur daar ’n wonderwerk, o ja, beslis, want…….

Billy Forest roep toe sy jare lange vriend, die groot gees van country musiek in Suid-Afrika, ja, die legendariese Bobby Angel op die verhoog. Sal mens Bobby Angel ooit kan vergeet.

 

Bobby Angel, Foto-Kraaipromosies

Hy het diep spore al getrap in die country musiekbedryf in Suid-Afrika, vir ’n tydperk die bedryf verlaat, maar met mag en mening teruggekeer en die mees gemaklikste vertoning gelewer asof dit nogsteeds 40 jaar gelede was, die opregtheid waarmee hy sy liedjies gesing het, het mens laat terugverlang na die tye toe ons hom nog gereeld op radio en televisie sien optree het. Bobby het bosveld toe gekom, “Just because we ask him too”. Mens kan met reg opmerk dat Bobby weet van hoe ’n country liedjie nou eintlik moet klink.

Die dag se afsluiting van die legendes se vertoning was fenomenaal, met almal van hulle terug op die verhoog, almal gesamentlik, met die Rodeo Girls op die agtergrond, terwyl ’n vaarwel liedjie gesing is en enkele mikrofone gedeel word deur almal op die verhoog.

 

Die legendes met Rodeo Girls saam op verhoog, Foto-Kraaipromosies

Dit was goed vir die siel om hierdie legendes te kon sien optree en mens weet nooit of jy ooit in hulle of jou eie leeftyd weer so ’n geleentheid gaan kry om almal so saam te kon beleef nie. Die dag was moontlik gemaak deur die Sundown Ranch Hotel, in samewerking met Kraaipromosies/E-Musiek en Mara van der Berg wat al die legendes se dagboeke kon kontroleer dat hulle almal beskikbaar was om op een dag bymekaar te kon kom. Vir meer inligting om ’n soortgelyke gebeurtenis in jou area te laat plaasvind, kontak gerus Kraaipromosies. Klank vir die geleentheid was verskaf deur Kraaipromosies en Wildhorse Entertainment.

Adisionele Foto’s: Klik om te vergroot.

 

Frans Maritz van Wildhorse Entertainment saam met Mara van den Berg agter die klankmasjiene. Foto-Kraaipromosies

Backstage: n paar van die rodeo girls besig met mooimaak sessie. Foto-Kraaipromosies

Bobby Angel ontspan Backstage Foto-Kraaipromosies

Bobby Angel Raymond Greenberg van Kraaipromosies en Billy Forest Backstage afgeneem. Foto-Kraaipromosies

4 Responses to Die Legendes leef met Country in die Bosveld

  1. will jordan

    September 16, 2010 at 2:04 pm

    wil net vir Raymond se jy’s n ster. Dankie dat daar nog iemand soos Raymond is wat country musiek help bevorder. Jy is n ster!!!!

  2. Raymond

    Mei 11, 2010 at 12:23 pm

    ‘n Cowboyhoed (stetson) sou nogal gehelp het, want dit is nog hoog somer daar doer in die bosveld.

  3. Josey Wales

    Mei 11, 2010 at 11:30 am

    Net so Ropie, miskien moet ek hom een stuur ! Goed gedoen Raymond (Kraaipromosies en Wildhorse Entertainment)………….hou so aan !!!

  4. Ropie

    Mei 10, 2010 at 4:49 pm

    Sjoe, net jammer Raymond Greenberg het nie ‘n cowboyhoed nie…