Subscribe by Email

DIE KLOOSTER VAN DAVIT GAREJA

Skrywer en foto’s: Evert Buurman

Dit is ons laaste middag in Georgië en ek en my vriend, Willie, spring in die swart Ford, wat ons vroeër in die week êrens in Tbilisi te hure gekry het, en ry suidoos in die rigting van Georgië se grens met Azerbaijan.

Aan die buitewyke van Tbilisi ry ons verby grou depressiewe woonstelblokke uit die tyd toe Georgië ‘n Sowjet republiek was, parkies met stukkende skoppelmaaie en immer teenwoordige sipresse, ‘n verroeste mallemeule, ‘n imposante maar verwaarloosde regeringsgebou en ‘n kragsentrale.

Die pad is sleg en hoe minder die teer word hoe meer word die slaggate. Hier en daar kom ‘n ou rammelkas van voor af maar kort voor lank is ons alleen op die pad. Hier en daar kom ons ‘n waardige struktuur uit ‘n vroeër era of ‘n verlate gemeenskaplike plaas uit die kommunistiese tyd teë. ‘n Man op ‘n perd kyk ons nuuskierig agterna terwyl twee ander ‘n kudde beeste te voet aanjaag.

1By Gardabani draai ons weg en ry noordoos. Dit is nog nie heeltemal winter nie maar dit is stowwerig en die veld is droog. Ver op ‘n heuwel gewaar ons ‘n enkel gebou, ‘n vreemde gesig so tussen niks en nêrens. Ons stop en dit lyk soos een of ander laboratorium of sentrum. Dit is verwaarloos en duidelik nie meer in gebruik nie. Die ou Sowjet militêre trok, wat voor die ingang staan en duidelik ook nie meer in ‘n werkende toestand is nie, laat ons verbeeldings op loop gaan.

Terwyl ons nog so bespiegel oor wat alles in daardie gebou gebeur het, merk Willie skielik dat die brandstof naald taamlik laag lê. Ons is omtrent halfpad en die klooster van Davit Gareja is ten minste nog ‘n vyf en dertig of wat kilometer ver. Of ons moet deurdruk of ons moet omdraai maar as ons omdraai gaan daar nie meer genoeg tyd wees om die klooster te besoek nie en dit wil ons natuurlik nie hê nie.

Ons besluit om ons kanse te vat en ry by Udabno, ‘n piep klein gehuggie, in maar daar is helaas geen brandstof pomp nie.

2Kort anderkant Udabno word ons by twee sink hutte met ‘n sperboom tussen hulle tot stilstand gedwing. Die eerste hut is verlate en ‘n man in ‘n verslete uniform aan die anderkant van die sperboom beduie met hand gebare en groot omhaal dat dit die grens is en dat dit, vanweë ‘n dispuut oor die eienaarskap van gronde van die klooster waar ons juis heen oppad is lees ek later, gesluit is. Ek het Azerbaijan al ‘n vorige keer vanaf haar grens met Iran gesien en ek sal duidelik ook nie hierdie keer die geleentheid hê om voet aan wal te sit nie.

Die man beduie ons terug na Udabno, waar ons blykbaar moes afgedraai het. Ons ry terug en deur Udabno met ‘n paar grou huise en ‘n woonstelblok wat nooit klaar gemaak is nie. Ons laat die gehug gou agter en kort voor lank gewaar ons die Davit Gareja klooster kompleks, wat in die rotswand van die Gareja berge uitgekap is, in die vêrte. Ons slaak ‘n sug van verligting maar weet steeds nie of ons dit terug gaan maak Tbilisi toe nie.

3Die klooster met sy klein uitgekapte kapelletjies, selle en slaap kwartiere is in die sesde eeu deur die heilige Davit Garejeli, een van die dertien Assiriese monnike wat in hierdie deel van die Kaukasus aangekom het, opgerig. Hoewel die klooster in ‘n harde onherbergsame gebied geleë is, was dit vir baie eeue ‘n belangrike religieuse en kulturele sentrum, wat sy hoogtepunt in die elfde tot dertiende eeue bereik het. Na die Mongole dit vernietig het is dit weer opgebou. In 1615 het die Safavid Moslems al die monnike omgebring en die klooster se unieke versameling manuskripte en Georgiese kunswerke vernietig. Dit is weer opgebou maar in 1921, met die gewelddadige Bolsjewiek oorname van Georgië, gesluit, waar dit in die tagtigerjare as teiken vir militêre oefeninge gebruik is. Na betogings en protes deur tienduisend mense, is die militêre oefeninge gestaak. Die skade was egter gedoen en waardevolle muurskilderye is vernietig of ernstig beskadig.

Na die herstel van Georgië se onafhanklikheid in 1991 is die klooster weer oopgestel en het ‘n paar Georgies Ortodokse monnike weer hulle intrek hier geneem. In 1996 het die Georgiese ministerie van verdediging die terrein egter weer as militêre oefen gebied begin inspan en so is daar weer geprotesteer en betoog. In 1997 is daar toegegee aan publieke druk en het enkele monnike terug gekeer na die klooster en begin met restourasiewerk daaraan.

4Ons stop aan die voet van die berg en stap saam met ‘n monnik in sy lang swart rok, met ‘n paadjie op na die klooster. Die monnik praat slegs Georgies en Armeens en kom maar stug voor terwyl hy voor ons uit stap. By die klooster aangekom word ons ook nie juis op die hande gedra nie en ons voel half soos onwelkome indringers.

Dit is doodstil. Hoewel dit reeds laatmiddag is, is ‘n paar monnike steeds besig met bouwerk en andere sit reeds soos hermiete in die vroegste tye al gedoen het, in hulle selle en mediteer. Ons wys onsself rond en sorg dat ons nie steur nie.

Ons bedank die monnik saam met wie ons opgestap het en stap terug na ons motor aan die voet van die berg. Ons klim in en begin stadig en hoopvol op die grondpad terug ry na Tbilisi.

7 6 5Ons raak al stiller hoe vinniger die brandstof naald sak. Wanneer die naald nie meer vêrder kan sak nie begin die sweet op ons voorkoppe uitslaan en ons kners letterlik op die tande. Dit is reeds sterk skemer as ons in die buitewyke van Tbilisi aankom en vra na die naaste vulstasie. ‘n Man met ‘n kar vol lemoene sê dat ons hom moet volg, hy is oppad na een. Ons probeer verduidelik dat ons nie veel speling het nie en hy wys net dat ons moet kom.

8Op die laaste dampe ruk-ruk die Ford tot stilstand by die petrol pomp. Die man kom met ‘n breë glimlag nader en stop ons elkeen ‘n lemoen in die hand. Soos die kar s’n is ons keelgate ook redelik droog en die lemoene gaan goed af!