Subscribe by Email

Die iPad onthul

Apple het dit weer reggekry om die verbeelding van die wêreld aan te gryp met hulle nuutste apparaat, die iPad, wat op 3 April 2010 vrygestel is.

Die skeptici het gereken daar is nie ruimte in die mark vir nog ‘n rekenaartipe nie, maar nadat die gebruiker op die iPad gewerk het vir ‘n paar dae, besef jy waar dit inpas. Die iPad is draagbaar, meer draagbaar as wat ‘n skootrekenaar of netboek ooit kan wees. Dit word nie belemmer met allerhande kabels of sleutelborde nie, en is dus ideaal om saam te neem na ‘n konferensie of met vakansie as jy die minimum van apparate wil saamdra.

Die gebrek aan multi prosessering is die egste kritiek wat teen die iPad uitgespreek word. Gebruikers is gewoond om eposprogramme, woordprosesseerders en vele ander programme tegelykertyd te gebruik, maar dit is nie moontlik met die iPad nie. Slegs een program op ‘n slag kan aktief wees en dit lei tot ‘n baie meer effektiewe aanwending van batterykrag. Die iPad voorsien omtrent 10 uur batterylewe.

Die iPad kom egter eers werklik tot sy reg as dit met Wi Fi aan die internet verbind word. Ongelukkig is die Apps en Itunes winkels op die iPad nie in Suid Afrika beskikbaar nie. Dit is egter wel moontlik om die Apps winkel in iTunes op ‘n rekenaar te besoek en programme van daar af te laai en dan met die iPad te sinkroniseer. Sinkronisasie werk op dieselfde beginsel as die iPod en ander i-apparate van Apple.

Die iPad het ‘n ingeboude mikrofoon en luidspreker en kan as ‘n internet telefoon gebruik word met Skype. Daar is ook gespesialiseerde programme waarmee die gebruiker afstandwerk (remote desktop) kan doen. Die iPad het sy eie boekleesprogram, maar dit is ook moontlik om Amazon se Kindle program te gebruik om boeke te lees.

Dit is egter nie altyd vir die gebruiker moontlik om by ‘n tuis Wi Fi netwerk in te skakel nie. Joikuspot is ‘n program wat Nokia (net Symbian S60) selfone omskep in ‘n draagbare Wi Fi router sodat die iPad buite die tuisnetwerk met 3G gebruik kan word.

Die iPad het gekom om te bly, en net soos met die Netboeke wat die afgelope 2 jaar gefloreer het, kan ons verwag om binnekort ‘n toeloop van tabletrekenaars in die mark te sien. Maar Apple het definitief die voorsprong.