Subscribe by Email

Die Christen in die politiek

“’n Ware Christen sal nooit God as werktuig vir ‘n mens inspan nie. Die Christen is en bly God se werktuig.”
Die afgelope langnaweek – die Paastyd wat vir Christene die belangrikste tyd op die kerkalmanak is, is baie mense gewalg deur die blatante wyse waarop politici godsdiens en kerke as politieke platforms inspan.
Dit beteken egter nie die Christen het geen rol in die politiek nie. Of dat sy Christenskap geen rol in politiek mag speel nie. Die Christen is immers nie net in sy kerk ‘n Christen nie, maar in sy hele lewe bly hy ‘n beelddraer van Christus. Dit sluit in hoe hy in sy huwelik optree, in sy gesin, op die skoolbeheerraad, in sy werkplek…ja, sy ganse lewe.
Wat die afgelope jaar of twee gebeur, is dat talle politici die saak omkeer – hulle maak en breek soos hulle lekker kry, laat korrupsie endemiese afmetings aanneem, besoedelde politici word beskerm, gewettigde aborsies nader volgens pro-lewegroepe die miljoenmerk hoewel die regering volhou dis amptelik in die orde van ‘n halfmiljoen…
Tog het ons nou al opmerkings gehoor soos dat ‘n stem vir die ANC ‘n plekkie in die hemel verseker, dat mense Zuma moet volg soos hulle Jesus volg, dat die ANC die Here se party van keuse is, dat Mandela soos Paulus van ouds is…Kiesers is selfs by geleentheid gewaarsku dat die voorvadergeeste hulle sal haal as hulle weg van die ANC sou stem.
Kerke, selfs kerke wat gewoonlik so stil soos muise is wanneer die regering skeeftrap, was dié keer uit die blokke. Onder die kerke wat hul profetiese roeping uitgeoefen het, is die Afrikaanse susterkerke, die AGS en die VGK. Laasgenoemde het selfs so ver gegaan om sy lidmate af te raai om vir die ANC te stem. Die stroom misbruik van Godsdiens in politiek kom egter teen so ‘n tempo dat kerke nie kan byhou met hul vermanings nie. Nog erger, daar is kerke wat willens en wetens meedoen.
Dat dié blatante inspan van die Allerhoogste as menslike politieke stuk gereedskap nie genoegsame teenspoed onder Christene tot gevolg het nie, is duidelik deurdat dit nog duidelik deel van die ANC se politieke strategie bly. Nogtans, soos Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party uitgewys het, het al dié praatjies nog nie ‘n enkele belofte opgelewer dat wette wat duidelik deur die Christenskap verwerp word, geskrap sal word nie. Baie wette, soos die wettiging van aborsies en die instelling van ‘n staatslotery is opsigtelik teen die Bybelvertolking van bykans alle kerke. Oor ander sake kan bietjie meer hare gekloof word, byvoorbeeld of die wyse waarop regstellende aksie toegepas word, met ‘n sin vir geregtigheid versoenbaar is.
Of ‘n mens met die produk van die Kemptonparkse onderhandelinge saamstem of nie, ‘n party wat hom daar tot die gees van die skikking verbind en daarna teen die gees daarvan polarisasie aanblaas en haatspraak fasiliteer, tree nie eerbaar op nie.
Die Christen het ‘n Christelike plig om na die beste van sy vermoë toe te sien dat manne en vroue aan die stuur van sake geplaas word wat nie net bekwaam is nie, maar die Here dien.
Demokrate maak graag die opmerking dat demokrasie nie volmaak is nie, maar dat dit die beste is wat ons het. ‘n Demokrasie kan egter verbeter word wanneer ons nie Sondae na die laaste kerkdiens die Here tot die volgende Sondag in die kerkgebou toesluit nie, maar Hom die hele week, elke oomblik van die dag, met ons saamneem. As die Here in ons harte woon, en ons ons stemreg met die veronderstelde verantwoordelikheidsin inspan, gaan ons in ons sondegebrokenheid minstens probeer om die Here se wil uit te oefen.