Subscribe by Email

Die CDP se “wenslys” vir die staatsrede

“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het ‘n ellelange lys van sake wat ons graag in pres. Jacob Zuma se komende staatsrede opgeneem sal wil sien, maar ook sal wil sien in die praktyk neerslag vind,” aldus ds. Theunis Botha, leier van die CDP.

“Ons beperk ons voorstelle tot die mees basiese hoofbestanddele wat internasionaal vir staatsredes geld:

Waardes: Suid-Afrika het tot die 64ste posisie op die jongste korrupsiepersepsieindeks en die 42ste op die persryheidsindeks teruggesak, wat alles maar ‘n slegte beeld uitstraal oor hoe ernstig die regering is om ‘n persepsie te vestig dat dit vasberade is om korrupsie uit te roei. Die land het onlangs die 15 herdenking vir die instelling van aborsies op aanvaraag ‘gevier’ met die nuus dat meer as ‘n miljoen ongebore babas reeds sedert die wettiging doodgemaak is. Die insluip van animistiese rituele, poligamie en soms godslasterlike opmerkings verdring gesonde Christelike waardes teen ‘n ontstellende tempo. Ons doen weer ‘n beroep op die president om ware staatsmanskap aan die dag te lê en aan te kondig dat die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak onttrek is – enige een kan sien hoe polariserend die kwessie op die land inwerk.

Feitelike oorsig: Die land verdien beter as die jaarlikse wolle oor die oë trek oor hoe erg die in duie storting van dienslewering werklik is, asook finansiële stelsel vou en wanadministrasie toeneem. Erken eerder die werklikheid en dui aan watter stappe gedoen word om die probleme op te klaar.

Beleidsraamwerk: In die verlede het staatsredes oorgenoeg beleidsvoorstelel bevat, maar hulle het selde voeling met die werklikheid bevat, en veral oor hoe dit uitgevoer gaan word. Wat die land, wat so onder armoede en werkloosheid gebuk gaan, nodig het is duidelike beleidsverklarings waarin nasionalisering afgewys word, realitiese grondhervorming voorgestel word wat gebaseer is op feite en afgestem is op voedselsekerheid, die onmiddellike opheffing van rasgedrewe wette soos vervat in programme van sogenaamde regstellende aksie, SEB, en doodgewoon rasdiskriminerende wette.

“Ons put werklik geen behae daarin om elke jaar die tekortkominge van substandaard-staatsredes aan die kaak te stel nie. In teendeel, ons glo dat hierdie redes moet uitstyg bo partypolitiek en veral die ANC se enterne slagvelde. Ons wil trots wees op ‘n staatsrede wat aan internasionale standaarde van grondwetlikheid en die beskerming van minderheidsregte voldoen, en waar Christene nie voel dat hul waardes in soveel fasette van die burgerlewe bedreig word nie.”