Subscribe by Email

Die Burger se redakteur bedank

Die redakteur van die oudste Afrikaanse dagblad, Die Burger, het met onmiddelikke effek bedank. Media24 Koerante het bevestig dat Henry Jeffreys besluit het om met onmiddelike ingang uit die diens van Media24 te tree. Bun Booyens, tans Redakteur van die Media24-reistydskrif Weg, word vanaf 1 Mei aangestel as die nuwe Redakteur van Die Burger.

Koerant.com verneem daar word reeds geruime tyd in die maatskappy se binnekring planne gemaak om sekere skuiwe in die maatskappy se topstuktuur aan te bring. Drie van Media24 se tydskskrifredakteurs is tans op drie maande sabbatsverlof en na verneem word ook drie koerantredakteurs.

Jeffreys was sedert Junie 2006 redakteur van Die Burger nadat hy tussen Januarie en Maart 2006 waargeneem het as redakteur. Hy het sy joernalistieke loopbaan in 1980 by Beeld begin, waar hy onder meer redakteur van Beeld-Ekstra en nagnuusredakteur was. Hy het vir byna ’n dekade by die Stedelike Stigting en die National Business Initiative gewerk voordat hy in 1999 weer as adjunk-redakteur en later ook politieke redakteur by Beeld aangestel is. In 2004/05 het hy ’n jaar lank aan Harvard-Universiteit in Cambridge, Massachusetts, studeer as ’n Nieman-genoot. Hy is tans adjunk-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef).

Booyens, wat die afgelope vyf jaar redakteur van Weg was, was van 2000 tot 2004 assistent- en senior assistent-redakteur van Die Burger, waar sy pligte onder meer dié van politieke en administratiewe redakteur ingesluit het. Hy was voor dit lektor in die joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch en kommunikasiedirekteur van die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika.

Abraham van Zyl, Uitvoerende Hoof van Media24 se Koerantesektor, het Booyens sterkte toegewens vir sy nuwe uitdaging. Hy het Jeffreys bedank vir sy diens oor die jare en het hom voorspoed toegewens met sy nuwe loopbaanfase.

Jeffreys sal sy bande met die maatskappy behou en onder meer ’n gereelde rubriek vir van Media24 se koerante skryf  en  lesings gee by Media24 se Akademie vir Joernalistiek. Hy sal tot einde April help met oorgangsreëlings soos en wanneer benodig.

Willem Jordaan, Adjunk-redakteur van Die Burger, sal as Redakteur waarneem totdat Booyens sy nuwe pos aanvaar. John Relihan, Uitvoerende Hoof van Media24 se Tydskriftesektor, het aangekondig dat Barnie Louw, voorheen redakteur van Weg se sustertydskrif, WegRy en Drive Out, as Waarnemende Redakteur by Booyens oorneem totdat ‘n nuwe redakteur aangestel word.

4 Responses to Die Burger se redakteur bedank

  1. Pingback: Koerant se eerste drie weke van bestaan | Koerant.co.za

  2. Sam

    April 8, 2010 at 11:29 am

    Kom ons waardeer die goeie wat Henry Jeffreys na Media 24 gebring het. Ons glo dat Bun Booyens ‘n nuwe ” weg” gaan inslaan, waarop ons entoesiasties wag. Sterkte Bun.l

  3. Hansie

    April 7, 2010 at 8:37 pm

    Ek dink dat koerant.com nogal skerp was om hierdie berig te plaas, terwyl die res van die media en 24’s swyg daaroor. Ek stem ook saam, dat online media die papier gaan vervang, en onafhanklike publikasies soos die een die toekoms is. Ek lees nie media24 propaganda nie.

  4. Kuifie

    April 7, 2010 at 7:35 pm

    Daar word reeds geruime tyd in die maatskappy se binnekring planne gemaak om sekere skuiwe aan te bring……wat is die rede…is die wat geskuif word nie links liberaal genoeg nie? Media 24 is ‘n klomp linkse nuusmakers wat self die nuus uitvind en nooit wil skryf wat moet geskryf word, en altyd skryf wat ons nie wil weet nie. Die papierkoerante se daë is getel, die toekoms behoor aan die vrye internetnuus waar maatskappye en politieke inmenging geen vat op het nie.