Subscribe by Email

Dié boere kan nou praat

“Die Agri Securitas Trustfonds ondersteun graag die boeregemeenskap in Frankfort in die Vrystaat en ook die van Rooidam naby Hopetown in die Noord-Kaap om hulle veiligheid te verbeter deur ‘n effektiewe radiokommunikasienetwerk in werking te stel. Die Trustfonds het gister fondse bewillig vir die aanskaf van radiokommunikasietoerusting vir die twee gebiede. Die stelsel in Frankfort sal tot die voordeel van nagenoeg 3 000 mense aangewend kan word en sluit die boeregemeenskappe van ses boereverenigings in. In die geval van die Rooidamboerevereniging sal nie net die boerderygemeenskap baat vind by die stelsel nie, maar ook ‘n plaasskool wat in die gebied geleë is”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

‘n Landelike Veiligheidsplan is reeds in die Frankfort omgewing geïmplementeer en misdaadvoorkomingsaksies waartydens plaaspatrollies gedoen word en besoeke by bejaardes op plase afgelê word, word in samewerking met die plaaslike polisie gedoen. Met effektiewe kommunikasie poog die boeregemeenskap om misdade soos veediefstal, voertuigdiefstal en algemene misdadigheid in die gebied hok te slaan. Plaaswerkers word ook betrek by veiligheidsinisiatiewe wat in samewerking met die polisie geloots word.

Die swak kommunikasienetwerk in die Rooidamgebied asook die uitgestrektheid van plaaswonings het aanleiding gegee tot die implementering van ‘n radiokommunikasienetwerk waardeur landelike misdaad meer effektief bestry kan word. Goeie samewerking bestaan met die plaaslike polisie wat ook die veiligheidsprojek ondersteun. Met die radio’s word beoog om inligting vinnig te versprei, help met ondersoeke en ook om rampbestuur effektief toe te pas.

“Die Trustfonds wat ‘n inisiatief van Agri SA is het die afgelope aantal jare daarin geslaag om verskeie boerderygemeenskappe se veiligheid te help verbeter. In die proses beywer die fonds hom vir ‘n veiliger landelike omgewing wat die boerderygemeenskap in staat kan stel om voort te gaan om voedsel te produseer, werkskepping te bevorder en by te dra tot landelike ontwikkeling”, sê Grobler ten slotte.