Subscribe by Email

Die betekenis van ‘n Gelofte en Geloftedag vandag

Die HAT beskryf ‘n Gelofte as ‘n plegtige belofte, onderneming, veral teenoor God.

Veral in die Ou Testament word voorbeelde aangetref waar mense ‘n Gelofte teenoor God maak. Heel dikwels beskryf die Bybel beloftes wat God teenoor die mense gemaak het – en onderhou.

In beide die Roomse en Moslem-tradisies handel ‘n gelofte gewoonlik oor ‘n belofte tot onthouding, en dikwels asketisme. Dikwels is dit bloot op ‘n onderneming om te vas, afgestem.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n gelofte uit die na-Bybelse era is die gelofte wat Jeanne d’ Arc afgelê het om die Engelse besettingsmag in Frankryk te verslaan.

Ook tydens die tyd van die gildes moes nuwe gildelede ‘n gelofte aflê, ‘n duidelike aanduiding dat die gildes wegbeweeg het van die heidense, Nordiese herkoms.

Die moderne neiging is dat die Christen, in sy sondebewustheid en onvermoë om ‘n Gelofte te kan hou, eerder God om Sy genade en vergifnis bid. Dit word veral geput uit Matt 5: 37: “Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.”

Die interessante is dat sommige Bybelvertalings die Griekse woord wat hier met “Bose” vertaal, vertaal as “bose een” omdat die grammatikale konteks op ‘n persoonlike verwysing dui, dws die duiwel. Die persoon moet ‘n persoon van sy woord wees sonder om te sweer.

Ook taalkundig het die woord verouderd geraak, en verwys die Gelofte in Afrikaans byna uitsluitlik na maar een Gelofte, die Gelofte van Bloedrivier.

Ook uit die Nederlandse literatuur is die woord “Gelofte” nou skraps, en waar dit opgespoor word verwys dit meestal na die naam van ‘n restourant in Vlaams-Brabant, De Gelofte.

Ongelukkig word “Gelofte” ook dikwels vir kommersiële doeleindes misbruik, soos om ‘n firma deur sy naam die beeld te verskaf van ‘n instansie wat by sy reklame-aansprake hou.

Vir ongeveer 40 jaar na Bloedrivier is die Gelofte nie onderhou nie. Uit die preek van ‘n Geloftediens van die NG Kerk Saldanha blyk dit dat Andries Pretorius dit self ook nie onderhou nie. Eers in 1864 het die Sinode van die NG Kerk in Natal besluit dat al hulle gemeentes die dag plegtig sal vier. Op 16 Des 1866 is die eerste grootskaalse byeenkoms by Bloedrivier gehou. Daar was ook leiers uit die Zoeloevolk teenwoordig en hulle het saam met die Boere deel geneem aan die opstapeling van klippe as gedenkteken van die slag. Die bedoeling was heel duidelik die van versoening. Ds Cachet het by die geleentheid ‘n oproep gedoen vir die evangelisasie onder die heidense Zoeloes en koning Setswhayo se boodskap is ook daar gelewer. In die ZAR is eers in 1865 die dag as ‘n openbare vakansie dag verklaar, maar eers in 1877 die eerste keer gevier. Min van die boere het hulle egter daaraan gesteur en het op die dag krieket gespeel of jagpartytjies gehou. In 1891 het pres Paul Kruger gevra dat die fees ‘n godsdienstige karakter moet dra. Eers in 1894 het die Republiek van die Vrystaat Geloftedag as vakansiedag verklaar. In 1910 met Unie wording is die dag as nasionale vakansiedag oor die hele land gevier.

“n Groot deel van die tragedie rondom Geloftedag vandag benewens dat baie Afrikaners hulle nie meer daartoe gebonde voel nie, is dat dit dikwels oor die jare vir politieke en selfs godsdienstige doeleindes gekaap is. Die Bybelse en historiese konteks waarbinne dit afgelê is word dikwels geïgnoreer.

Die Bybelse konteks kan nooit van die oorhoofse Bybelse opdrag staan nie:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies. Doop hulle in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle geleer het. En kyk, ek is met julle tot aan die einde van die wêreld.” Matteus 28.

Die historiese konteks word deur ‘n wye verskeidenheid dokumente vervat, waarvan Retief se manifes wat in die Grahams Town Joural gepubliseer was, waarskynlik die duidelikste is. Hieronder van die belangrikste punte.

Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorg dra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tussen heer en diensbode sal bewaar.
Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.
Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.
Tydens en na die slag van Bloedrivier is baie swart stamme ook bevry, en Drie Eeue beskryf hoe hulle “uit hul gate gekom het.”

Die nakoming van ‘n Gelofte is ‘n plegtige, ernstige saak, en moet onderhou word, maar ook om die regte motiewe. God het immers die oorwinning wat versoek is, gegee. Uit die feite op die tafel is dit moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom as dat ‘n wonderwerk gebeur het.

As ons Geloftedag om die regte redes vier, is dit goed.

As Geloftedag egter vir ander doeleindes misbruik word soos motivering om weg te staan van die Evangelisasietaak teenoor alle volke, of om ‘n toestand van onvrede of die vernedering van ander te dryf, kla daardie hulself aan – en omdat dit ‘n Geloftes is, voor God self.

Herman Toerien

2 Responses to Die betekenis van ‘n Gelofte en Geloftedag vandag

  1. Pieter Oosthuizen

    November 28, 2011 at 12:01 pm

    Die Gelofte van Bloedrivier wat deur mense gemaak is, is in die teologie steeds laer in hiërargie as die Nuwe Verbond van die Nuwe Testament wat deur Jesus Christus tot stand gekom het.
    En dit is hierdie verbond wat vir ewig en onveranderlik is, en nie deur n gelowige se dwaling opgeskort kan kort word nie. Sodra mense glo in die genade van Christus aan die kruis, het hulle die ewige lewe, en God verwyder hulle sonde van hulle so ver soos die ooste van die weste uitmekaar.
    Dus, al woon hulle nie geloftes by nie, kanselleer dit nie die genadeverbond van God met die mens nie. Daarom word gelowiges in Latyns “Simul Justus et Peccator” genoem. Tegelykertyd sondaar en geregverdigde.
    Saam met elke oortreding wat mense in hulle handelinge ontdek, is die genade aan die kruis van Christus, ook geldig.
    So, ons leef as gelowiges onder n permanente sambreel van God se genade, wat nie deur ons eie handelinge opgeskort, of tot niet gemaak kan word nie.

  2. Japie Luus

    November 25, 2011 at 11:39 am

    Ons moes die dag soos n Sabbat hou, die oorwinning aan God die Vader oorgee as eer en ook ons kinders leer van die gebeurtenisse. Ongelukkig het ons nie ons nasie se gelofte nagekom en daarom is ons in die situasie waarin ons onsself bevind. Maar as ons doen wat belowe is sal ons nie meer geopresseer word en sal ons nie meer versoek word deur die onreg.