Subscribe by Email

Die bedreigde sekretarisvoël-spesie het ’n nuweling verwelkom.

 

 

Secretarybird-chicks-in-nest

Die sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius) is ‘n groot, grondlewende roofvoël wat endemies aan Afrika is. Hierdie voëls word aan hulle unieke voorkoms gekenmerk: lang, kaal bene, met ‘n statige houding en kuifvere met ‘n swart punt. Gewoonlik word hierdie voëls in die oop grasvlaktes en savannes van Sub-Sahara Afrika gevind, waar hulle bedags aktief op jag is na prooi.

Sekretarisvoëls is monogaam en daar word geglo dat hulle lewenslange maats kies. Hulle pronk op land en in die lug, terwyl hulle ‘n krasgeluid maak. Wanneer hulle in die lug pronk, sweef hulle hoog in die lug. Die mannetjie sal na benede duik om die wyfie te beïndruk en, indien sy ook in die lug is, sal sy met haar kloue na hom toe draai. Hierdie manier van pronk is soortgelyk aan dié van ander roofvoëls. Op land sal die mannetjie en vroutjie met uitgestreke vlerke om mekaar dans. Kleiner groepe sekretarisvoëls sal soms by hierdie dans aansluit. Na die hofmaking vind paring gewoonlik op die grond plaas, alhoewel sommige paartjies ook in bome sal paar. Sekretarisvoëls paar dwarsdeur die jaar.

Dawie de Swardt van die departement ornitologie van die Nasionale Museum in Bloemfontein het einde Augustus ’n nes met drie eiers – groter as hoendereiers – op Stefan Bester se plaas Langefontein buite Petrusburg gevind.

Met die hulp van Bester se laaigraaf en ’n leer het De Swardt by die nes uitgekom.

“Ons het verlede week weer gaan kyk, maar dit was ’n bietjie bittersoet. Net een van die drie eiers het uitgebroei,” sê De Swardt.

“Gewoonlik oorleef twee uit ’n nes van drie, maar dit is seker weens die droogte en kosskaarste wat die eiers nie vrugbaar was nie.”

Hy beplan om in die eerste week van November terug te keer om die kuiken te gaan ring en ’n sender op hom te sit.

“Die kuiken is nou ongeveer ’n week oud, so as ons dan teruggaan, sal hy so sewe weke oud wees.

“Dit is die perfekte tyd om dit te doen, want dan kan hy nog nie die nes verlaat nie.”

Hy self het al ongeveer 30 sekretarisvoëls in die Vrystaat gering.

Om dié indrukwekkende voëls se bewegings te monitor, is baie belangrik.

“Daardeur kan ons hulle patrone beter verstaan en weet wat hulle grootste bedreigings is. Op dié manier kry ’n mens ook die plaasgemeenskap betrokke.”

• Dié indrukwekkende voëls bou ongeveer drie maande aan hul neste hoog op die bopunt van doringbome. Wanneer hulle uitbroei, is hulle met spierwit dons bedek. Namate hulle ouer word, verkleur die dons na ’n donkerder skakering voordat die veertjies uitkom.