Subscribe by Email

Die ANC kritiseer Jimi Matthews se bedanking by die SAUK

0000240217Die ANC het teruggekap na Jimi Matthews, wat gister bedank het as waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK. Woordvoerder Zizi Kodwa het aan eNCA gesê die regerende party het beter verwag van hom. Matthews skryf in sy bedankingsbrief oor ‘n verterende atmosfeer by die openbare uitsaaier en dat hy sy morele waardes versaak het deur deel te neem aan onverdedigbare besluite. Kodwa sê Matthews moes sy besware intern geopper het.

Die Forum van Joernaliste vir Hervorming sê Matthews is nie ‘n held nie, want hy was jare lank die gewillige persoon wat die besluite van die SAUK se uitvoerende operasionale hoof, Hlaudi Motsoeneng, uitgevoer het. Die drukgroep sê Matthews was ‘n swak uitvoerende bestuurder wat arbitrêre en onlogiese redaksionele opdragte aan personeel oorgedra en diegene viktimiseer het wat nie met hom saamgestem het nie. Die forum meen hy het die sinkende skip verlaat om sy eie bas te red en homself toe as ‘n mens met beginsels voorgehou.