Subscribe by Email

Dewani hofsaak: Tongo onder kruisverhoor

dewaniincourt

Die moordverhoor van die Britse sakeman Shrien Dewani word  voortgesit in die Wes-Kaapse Hooggeregshof.

Een van die mans wat skuldig bevind is aan die moord van Dewani se vrou Anni, die taxibestuurder Zola Tongo, is steeds onder kruisverhoor.

Hy is gister ondervra oor sy bewering dat Dewani ‘n sms aan hom gestuur het enkele ure voor die egpaar se kaping.

Dewani se regsverteenwoordiger, adv. Francois van Zyl SC, het dit egter tydens kruisondervraging aan Tongo gestel dat geen bewyse kon gevind word dat Dewani sodanige sms gestuur het nie.

Tongo het egter volgehou dat daar SMS-kommunikasie was.

Die hof het ook gister beeldmateriaal van kringtelevisie buite die Cape Grace-hotel gesien.  In die video kom Tongo die aand van die moord by die hotel aan, parkeer,maar ry dan na ’n ander parkeerplek.  Hy klim uit die VW Sharan en aktiveer die kinderslot by die agterdeure.

Tongo het verlede week getuig hy het sy motor op ’n ander plek gaan parkeer omdat hy eers die vullis uitgehaal het,.  Hy het gister tydens kruisondervraging gesê hy het die vullis onder die voertuig gesit.

Van Zyl het heirop gesê dit was ’n goed berekende plan om buite sig van die hotel se voordeur te parkeer. “Jy wou seker maak dat die beskuldigde en sy vrou in die voertuig bly.”  Tongo het “ja” geantwoord.

Dewani word daarvan aangekla dat hy die baasbrein agter die moord op sy vrou was.

Die saak gaan voort.